‘Vrees, smart’; 41 sterf al in aanval op Ugandese skool

Families het hul geliefdes Sondag in Uganda begrawe ná ʼn grusame slagting wat die lewe van 41 mense geëis het. (Foto: Stuart Tibaweswa / AFP)

Talle gebroke families het hul geliefdes Sondag in die weste van Uganda begrawe ná ʼn grusame slagting wat die lewe van 41 mense, van wie die meeste kinders, geëis het.

Dit word as die ergste aanval in meer as ʼn dekade in Uganda beskryf.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn milisiegroep met bande met die Islamitiese Staat (IS) skoolgaande kinders en personeel Vrydagaand doodgekap, -geskiet en -gebrand het.

Volgens ondersoekers is die leerders van ʼn hoërskool in Mpondwe in die Kasese-distrik naby die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) met kapmesse en vuurwapens afgemaai en koshuise is aan die brand gesteek terwyl kinders daarin vasgekeer was.

Altesame 37 kinders en volwassenes is Saterdag dood verklaar, maar die dodetal het intussen tot 41 gestyg terwyl minstens 15 mense, onder wie vyf jong meisies, nog vermis word.

Uganda se president, Yoweri Museveni, het intussen onderneem om die skuldiges ten alle koste te “jag”.

Die voorval het ook skerp kritiek wêreldwyd ontlok en pous Franciskus het Sondag vir die slagoffers van die gru-aanval gebid.

Owerhede in Uganda pak nou die skuld vir die bloedige aanval op die Allied Democratic Forces (ADF), ʼn milisiegroep in die DRK, en soek tans na die aanvallers wat met ses ontvoerdes in die rigting van die grens gevlug het.

Museveni beskryf die aanvallers se optrede as ʼn “desperate, lafhartige terreuraanval” en sê “niks sal die aanvallers red nie”.

‘Groot smart’

Families het ná die voorval na die plaaslike hospitaal gestroom en die afgelope drie nagte in die koue buite ʼn lykshuis naby Bwera op nuus oor hul geliefdes gewag. Dié wat hul geliefdes kon uitken, het gehuil terwyl hul liggame in kiste weggeneem is.

Families het hul geliefdes Sondag in Uganda begrawe ná ʼn grusame slagting wat die lewe van 41 mense geëis het. (Foto: Stuart Tibaweswa / AFP)

“Ons het na die hospitaal gestroom en baie lyke daar aangetref: seuns en meisies, van wie sommiges met kapmesse gekap en ander met hamers oor die kop geslaan is,” het Roti Masereka, ʼn plaaslike boer, aan AFP gesê.

Hy is met die lyke van sy 35-jarige broer – ʼn veiligheidswag by die skool – en dié se 17-jarige seun daar weg. Nog ʼn familielid, ʼn 15-jarige seun, word tans vermis.

“Die familie is in rou gedompel. Ons het twee mense begrawe – ʼn pa en sy seun. Ons soek intussen steeds na ʼn vermiste kind,” het hy gesê.

Die regering het Sondag onderneem om families met begrafnisreëlings by te staan en beseerde mense te ondersteun.

Eriphaz Muhindi, voorsitter van die Kasese-distrik, sê 17 mense het onherkenbaar verkool, wat die uitkenning van liggame uiters moeilik maak. Dit maak dit ook haas onmoontlik om vas te stel wie almal vermis word.

Die lyke is weggeneem sodat DNS-toetse gedoen kan word, maar dit is ʼn proses wat lank kan neem om af te handel.

Koshuise is aan die brand gesteek terwyl kinders daarin vasgekeer was. (Foto: Stuart Tibaweswa / AFP)

“Hierdie mense ervaar tans groot smart,” het Muhindi aan AFP gesê.

‘Vrees’

Elias Kule, ʼn 18-jarige slagoffer wat die voorval oorleef het, sê hy het gemaak asof hy dood is nadat die aanvallers die skool en koshuis binnegedring het.

Die aanvallers het skote deur deure en venster gevuur wat minstens een leerder getref het voordat hulle toe ook ʼn bom in die koshuis gegooi het.

“Die suurstof het byna opgeraak en ek het my mond en neus met ʼn lap bedek.

“Ek het my lyf, kop en ore met bloed besmeer en gemaak asof ek dood is,” het hy vertel.

Aanvalle in Uganda is skaars en dit is onduidelik hoe die aanvallers die grens oënskynlik ongesiens kon oorsteek, aangesien daar ʼn groot militêre teenwoordigheid gehandhaaf word.

In Junie 1998 is 80 leerders in hul koshuis deur lede van die ADF aangeval en doodgebrand en 100 leerders is ontvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nettie ·

‘n Mens sukkel om hierdie te lees. Ek kan nie die mense se skok, hartseer, ongeloof en woede indink nie. Mag God hulle hierdeur dra.

Gaitsigubib ·

As mens so magteloos is dat daar geen hoop of vertroosting is nie, dan help jou geloof jou om oor die skok en hartseer te kom. Dit is obviously so n geval hierdie, maar tog is daar mense wat dink hulle moet self deur hul pyn worstel. Tot sielkundiges, wat ongelowig is, sal jou se dat n gelowige pesoon verwerk so iets beter as ander, maar tog wil hierdie ateis seker maak dat mense moet bewus wees van sy afkeur. Kan hy nie maar net aanvaar dat ander mense op God vertrou nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.