Slagting in Uganda: 37 kinders, volwassenes sterf

Die aanval is laat Vrydagaand geloods. (Foto: AFP)

ʼn Milisiegroep verbonde aan die Islamitiese Staat (IS) het altesaam 37 skoolgaande kinders en personeel in die weste van Uganda doodgekap en -gebrand.

Dié slagting is een van die land se grusaamste aanvalle in meer as ʼn dekade.

Volgens owerhede was daar laat Vrydagaand ʼn aanval op ʼn hoërskool in Mpondwe in die Kasese-distrik naby die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK).

Ondersoekers sê leerders is met kapmesse afgemaai en koshuise is aan die brand gesteek terwyl leerders daarin vasgekeer was. Minstens 25 van die oorledenes is intussen geïdentifiseer as leerders van die skool.

Felix Kulayigye, woordvoerder van die Ugandese weermag (UPDF), sê al die liggame is na die Bwera-hospitaal se lykshuis geneem.

Nog agt mense het die aanval oorleef, maar is erg beseer.

Die Geallieerde Demokratiese Magte (ADF), wat glo verantwoordelik is vir die gru-dade, het ses leerders ontvoer en in die rigting van die Virunga- nasionale park geneem. Die ADF is een van die IS se dodelikste groepe wat in die DRK aktief is.

“Die UPDF is op die groep se spoor om die ontvoerde kinders te red,” sê Kulayigye.

‘Gedetailleerde aanval’

Talle leerders is dood, beseer of ontvoer. (Foto: AFP)

Genl.maj. Dick Olum sê intelligensie het die teenwoordigheid van die ADF in die gebied minstens twee dae voor die aanval opgemerk.

Hy sê dit wil ook voorkom of die aanvallers gedetailleerde inligting oor die skool gehad het voor die aanval.

“Hulle het geweet waar die seuns en meisies se koshuise is,” sê hy.

“Dit is hoekom hulle die seuns se koshuis gesluit en aan die brand gesteek het, maar nie die meisies sʼn nie. Die meisies kon daarin slaag om uit die koshuis te ontsnap, maar die milisiegroep het hulle afgemaai soos wat hulle na veiligheid gehardloop het.”

Volgens Olum is van die liggame onherkenbaar verband en DNS-toetse sal nodig wees om hulle amptelik te identifiseer.

“Ons het intussen meer vuurkrag en vliegtuie aangevra om te help met die reddingsoperasie van diegene wat ontvoer is.”

Seldsame aanval

Die ADF het sedert 2019 erken dat ʼn aantal aanvalle in die DRK deur hom uitgevoer is, maar aanvalle in Uganda is minder algemeen en die tol wat Vrydag se aanval geëis het, is die ergste wat die land al in jare gesien het.

Dit is egter nie die eerste keer dat die ADF ʼn skool in Uganda teiken nie.

In Junie 1998 het 80 leerders in hul koshuise doodgebrand nadat die ADF ʼn aanval op die Kichwamba Tegniese Instituut naby die grens van DRK uitgevoer het. Meer as 100 studente is in die proses ontvoer.

Uganda en die DRK het in 2021 ʼn gesamentlike offensief van stapel gestuur om die ADF uit hul Kongolese vestings te verdryf, maar die maatreëls het tot dusver nie daarin geslaag om die groep se aanvalle te beëindig nie.

In Maart vanjaar het die VSA ʼn beloning van tot $5 miljoen aangekondig vir inligting wat lei tot die inhegtenisnemings van die ADF se leier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.