Vrou red hondjies teen vleis-eet-kultuur

Nguyen Thi Kim Quy saam met die honde wat sy gered het (Foto: Nhac Nguyen/AFP)

Die afgetrede haarkapper Nguyen Thi Kim Quy is ʼn vreemde verskynsel in Hanoi se besige strate met haar opgesmukte motorfiets-tuk-tuk. Dertien veelkleurige honde geklee in Kersfees-uitrustings blaf vrolik langs haar.

Na raming word sowat 5 miljoen honde elke jaar in Viëtnam geëet – waar hondevleis as ʼn lekkerny beskou word. Die land probeer egter om dié gebruik uit te faseer.

Die 71-jarige Quy fokus haar aftrede daarop om straathonde te red sodat hulle nie op iemand se bord beland nie. Sy spandeer die grootste deel van haar maandelikse toelaag wat sy by haar familie kry, aan die saak.

“Dit sal ʼn ramp wees as hulle na ʼn slaghuis gestuur word. Ek sal dit nie kan hou nie,” het sy aan AFP gesê. “Volgens my is dit ʼn misdaad om hondevleis of katvleis te eet.”

Sy sê die kultuur is besig om stadigaan te verander en al hoe meer Viëtnamese neem honde as troeteldiere aan.

“Ek dink Hanoi-inwoners het al hoe vriendeliker geword wat troeteldiere betref en hulle keer hul rug op die gewoonte om hondevleis as ʼn lekkerny te beskou.”

Sy word vroegoggend wakker om met die honde te gaan stap en kan saans gesien word waar sy in die strate op soek is na ʼn moontlike rondloperhond.

Sy kleur die honde se pelse en trek vir hulle Kersvader- of takbok-uitrustings aan vir die feesgety.

Haar motorfiets vol honde word gereeld in Hanoi se strate opgemerk en talle verbygangers hou stil vir ʼn foto.

“Hulle glimlag breed en het soms selfs ʼn geskenkie vir die honde. Hulle is gaande oor die honde,” sê Quy.

Sy glo troeteldiere “bring vrede en hou die droewigheid weg”. “Vir my is ʼn hond ʼn vriend, ʼn werklike vriend. As ek kon, sou ek al die verwaarloosde en mishandelde honde wou versorg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.