Vrou vas ná moord op Russiese militêre blogger

Blomme word neergelê buite die kafee waar Vladlen Tatarsky Sondag gesterf het. (Foto: OLGA MALTSEVA / AFP)

ʼn Jong vrou van Rusland is in aanhouding nadat ʼn top- militêre blogger en ondersteuner van Rusland se inval van Oekraïne Sondag in ʼn bomontploffing by ʼn straatkafee in St. Petersburg dood is.

Vladlen Tatarsky (40) is dood nadat hy ʼn geskenkbeeldjie ontvang het, minwetend dat die beeldjie met ʼn ploftoestel toegerus is.

Darya Trepova (26) het nou erken dat sy die een is wat die beeldjie na die kafee geneem het.

“Ek het die beeldjie daarheen gebring wat ontplof het,” sê Trepova in ʼn video wat ná haar inhegtenisneming bekend gemaak is.

Trepova sê sy sal later onthul wie vir haar die beeldjie gegee het om vir Tatarsky te gee.

Die ontploffing het Sondag vroegaand by die kafee Street Food Bar No. 1 langs die Neva-rivier, nie ver van die historiese middestad nie, plaasgevind.

Altesaam 25 mense is in die ontploffing beseer van wie 24 in die hospitaal opgeneem is. Minstens sewe van die beseerdes is in ʼn ernstige toestand.

ʼn Bron na aan die ondersoek het reeds kort ná die ontploffing aan die Ria Novosti-nuusagentskap verklap dat “ʼn meisie” ʼn pakkie vir Tatarsky by die kafee afgelaai het.

“Sy het dit vir hom gegee … en ewe skielik was daar ʼn ontploffing,” het Alissa Smotrova, ʼn vrou wat by die kafee was, aan AFP gesê.

“Daar was bloed en stukke glas …”

ʼn Ander bron het aan Ria Novosti gesê Tatarsky “ken” die meisie en dat hulle paaie al vantevore by ander geleenthede gekruis het.

Trepova is verlede jaar kort ná Rusland se inval van Oekraïne vir tien dae in aanhouding geplaas vir haar deelname aan ʼn betoging teen die inval.

ʼn Groep genaamd Cyber Front Z, wat op sosiale media na homself as “Rusland se inligtingstroepe” verwys, het Sondagaand die kafee in St. Petersburg uitgehuur vir ʼn geleentheid.

Daar was minstens 100 mense by die geleentheid toe die beeldjie ontplof het.

Tatarsky, wie se regte naam Maxim Fomin is, kom van die Donetsk-streek in die ooste van Oekraïne wat deur Rusland annekseer is.

Hy het meer as 500 000 volgelinge op Telegram en is ten gunste van Rusland se veldtog in Oekraïne.

Tatarsky het die afgelope jaar naam vir homself gemaak deur video’s te plaas wat die militêre situasie op die grond ontleed en raad gee vir gemobiliseerde troepe.

Russiese teenterreur-ondersoekers het Maandag Oekraïne se veiligheidsdienste en “agente” wat met die Russiese opposisieleier Alexei Navalny verbind word, daarvan beskuldig dat hulle ʼn aandeel in die bomaanval gehad het.

Rusland se ministerie van buitelandse sake het intussen hulde aan Tatarsky gebring.

“Bloggers soos Vladlen Tatarsky is verdedigers van die waarheid,” sê Maria Zakharova, woordvoerder van die ministerie, op Telegram.

“Russiese joernaliste beleef voortdurend die bedreiging van vergelding deur die Kiëf-regime. Dit is te danke aan Russiese oorlogskorrespondente dat die wêreld ware beelde sien en uitvind wat in Oekraïne gebeur.”

Zakharova sê Tatarsky was “gevaarlik” vir Oekraïne, “maar was dapper tot die einde toe en het sy plig nagekom”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

M ·

Sy wou haar weerstand teen ‘n on-menslike oorlog bewys …. en sy het dit suksevol gedoen. Hoop sy kan ontsnap .. en bly lewe. Dit is erg !!!!

Dooierus ·

… wat van al die ander journaliste wat deur Rusland vermoor of aangehou word. Maroela sal seker my kommentaar weer verwyder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.