Vrou wen Picasso-skildery van miljoene vir slegs €100

Nature Morte deur Picasso

ʼn Italiaanse vrou het ʼn Picasso-skildery, wat sowat €1 miljoen (meer as R19 miljoen) werd is, in ʼn liefdadigheidslotery gewen.

Claudia Borgogno het die skildery gewen in ʼn internasionale tombola genaamd “1 Picasso for 100 euros” wat deur Christies-afslaers en die liefdadigheidsorganisasie CARE aangebied is, om die organisasie se projekte in Afrika te finansier.

Deelnemers moes €100 (sowat R1 900) betaal om ʼn kaartjie aanlyn aan te skaf. Die wenner is deur ʼn trekking by Christies-afslaers in Parys aangewys.

Meer as €5 miljoen is deur die kompetisie ingesamel en persone van meer as 100 lande het deelgeneem, het die organiseerders Woensdagaand in ʼn regstreekse uitsending van die trekking gesê.

Die trekking sou op 30 Maart plaasgevind het, maar is uitgestel weens die koronavirus-pandemie.

ʼn Soortgelyke kompetisie sal waarskynlik ook in 2021 aangebied word, volgens die webwerf.

Die Spaanse kunstenaar Pablo Picasso het die olieverfskildery, “Nature Morte”, in 1921 geskilder. Dit het vroeër aan die kunsversamelaar David Nahmad behoort. Die kunswerk is ʼn geometriese komposisie wat ʼn koerant en ʼn absintglas uitbeeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.