Vroue toenemend digitaal geteiken weens hulle geloof

Volgens die sesde verslag oor geslagspesifieke godsdienstige vervolging, is die Midde-Ooste en Noord-Afrika (MENA), veral in Geopende Deure se WWL-navorsing, geïdentifiseer as die streek waar digitale vervolging skerp toeneem. (Foto: Geopende Deure)

Digitale vervolging is ʼn groeiende metode om teen veral vroue Christen-bekeerlinge te diskrimineer. Dit is een van die bevindings van Geopende Deure Internasionaal, ‘n bedieningsorganisasie wat vervolgde Christene regoor die wêreld ondersteun en versterk, se nuwe verslag oor geslagspesifieke godsdienstige vervolging van vroue.

Die verslag, A Web of Forces: The 2023 Gender Report, is op Internasionale Vrouedag op 8 Maart bekendgestel, en laat die kollig opnuut op die lot van vroue en meisies, veral in Afrika val.

Vroulike bekeerlinge tot Christenskap staar ʼn groeiende bedreiging rakende vervolging in die gesig: onderdrukkende beheer en monitering deur digitale toestelle. Volgens Geopende Deure Internasionaal se nuwe verslag gebruik Christen-gesinne en -gemeenskappe alledaagse items soos slimfone en tablette om tred met hul daaglikse lewens te hou, maar ook om beheer oor ander uit te oefen.

“Ons sien ʼn toename in families wat beheer oor hul vroulike familielede uitoefen deur hul bewegings te monitor, hul digitale items te konfiskeer en hul websoektogte te monitor. Die gevolge is dikwels gewelddadig en lei tot die beheer van hierdie vroue.

“Ons beskou dikwels ons privaatheid as vanselfsprekend, maar hulle websoektogte en sosialemediarekeninge word gereeld nagegaan, waarna hulle dan geïsoleer of gestraf word omdat hulle ʼn ander geloof ondersoek het,” het Elizabeth Lane Miller, Geopende Deure se vrouevervolgingspesialis, gesê.

 Belangrikste bevindings van die verslag

Die 2023-verslag toon dat Nigerië, Kameroen en Somalië die lande is waar die grootste invloed op vroue Christen-bekeerlinge se ervaring van godsdienstige vervolging die feit is dat hulle vroue is. Geslagsbebaseerde geweld word genormaliseer weens kontekstueel-spesifieke en nou verweefde kulturele en konflikdinamika.

Die impak van godsdienstige vervolging se groot interaktiewe druk kan oorweldigend wees en die stabiliteit van Christen-gesinne ontwrig en bedreig.

Sub-Sahara Afrika is die streek waar die ervaring van godsdienstige vervolging vir Christen-vroue die meeste deur hul geslag beïnvloed word. Amper al die lande in sub-Sahara  opdie 2023 Wêreldwaarnemingslys (WWL) se top 50, is die lande met die ergste geslagspesifieke ervaring van godsdienstige vervolging vir vroue.

Helene Fisher, Geopende Deure se globale spesialis in geslagsvervolging, meen godsdiens- of geloofsvryheid is ʼn fundamentele mensereg, en dit word geskend in talle van die lande waaroor daar verslag gedoen is.

Belangrikste drukpunte wat Christen-vroue en -meisies beïnvloed

Christen-vroue en -meisies wêreldwyd word dikwels vasgevang in ʼn besonder komplekse web van saamgestelde kwesbaarhede.

Seksuele geweld, gedwonge huwelike en fisieke geweld is van die drukpunte wat gebruik word om Christen-vroue en -meisies te vervolg omdat hulle kies om die Here te volg. Hierdie vroue se families sluit hulle ook op en hulle ervaar sielkundige geweld.

Lande-ranglys vir vroue

Die verslag, A Web of Forces: The 2023 Gender Report, is op Internasionale Vrouedag op 8 Maart uitgereik. (Foto: Geopende Deure)

Uit die 20 lande waar geslag die grootste invloed op die vervolging van vroulike Christene het, is 12 van sub-Sahara Afrika, insluitende die vier lande bo-aan die ranglys: Nigerië, Kameroen, Somalië en Soedan.

In die noordelike dele van Nigerië, waar Christene alreeds uiterste vlakke van geweld ervaar, staar vroulike Christene veral hoë vlakke van ontvoering, gedwonge ontworteling, mensehandel, moord en seksuele geweld in die gesig. Geslagspesifieke geweld word hoofsaaklik deur Islamitiese militante aktiwiteite in die streek gedryf. Hoë vlakke van interne ontworteling kan ook die kwesbaarheid van Christen-vroue en -meisies vir ontvoering en seksuele geweld verhoog.

Ander lande van belang in die top 20:

  • Indië en Pakistan, waar Pew Research, sowel as Solotaroff en Pande, aanhoudende en uiteenlopende vorms van geweld teenoor vroue en meisies rapporteer, teen die agtergrond van streekspesifieke tradisionele patriargale norme.
  • Iran, waar betogings die deurlopende geslagsverwante onregte uitgedaag het. Die betogings is aangevuur deur die dood van Mahsa Amini in September 2022 terwyl sy in polisie-aanhouding volgens hijab-wette was,
  • Afganistan, waar Amnestie Internasionaal gedokumenteer het hoe die Taliban vordering rakende vroueregte omgeswaai het, sedert hulle in Augustus 2021 weer aan bewind gekom het.

Midde-Ooste en Noord-Afrika

Volgens die sesde verslag oor geslagspesifieke godsdienstige vervolging, is die Midde-Ooste en Noord-Afrika (MENA), veral in Geopende Deure se WWL-navorsing, geïdentifiseer as die streek waar digitale vervolging skerp toeneem. Digitale vervolging word deur gesinslede, gemeenskappe en regeringsamptenare uitgevoer om digitale toegang te beheer en aktiwiteite in die daaglikse lewens van Christene te monitor.

In die MENA-streek is digitale vervolging ʼn moderne manier vir familielede om beheer oor vroulike Christene te versterk. Streeksdata onthul hoe die algemene beheer van vroue deur manlike familielede daartoe lei dat beheer oor vervolgde Christen-vroue se digitale lewens algemener voorkom as by Christen-mans.

In lande soos Katar en Saoedi-Arabië word telefoonboodskappe, ligging-opsporing en sosialemediarekeninge gemonitor en toestelle gekonfiskeer as die eerste stap na isolering en straf. Die ontdekking van gesprekke via sosiale media, digitale Christelike hulpbronne of Christelike websoektogte op toestelle kan gewelddadige gevolge vir vroue en meisies inhou.

In die MENA-streek, ervaar vroue Christen-bekeerlinge uit Moslem-agtergronde die grootste risiko vir gedwonge egskeidings en gedwonge huwelike. Die bedreiging van gedwonge egskeidings in MENA teiken eksklusief vroue Christen-bekeerlinge. Gedwonge huwelike korreleer op dieselfde manier grootliks met vroue wat Christen-bekeerlinge word.

 Die verslag bevat ʼn gedetailleerde ondersoek oor die resultate vir die MENA-streek, belemtoon die kompleksiteit wat Christen-vroue in die gesig staar, en laat die kollig op digitale vervolging en die ervarings van vroue Christen-bekeerlinge val.

In MENA loop veral Christen-vroue vanuit nie-Christen agtergronde die risiko om in ʼn web van onderdrukking vasgevang te word, weens hul geslag, geloof en ander sosiokulturele en wetlike lewensfaktore wat hulle kwesbaar maak. Navorsing dui aan dat familiestandaarde van getrouheid en verbintenis in samelewings in die MENA-streek dikwels die grootste bedreiging inhou vir Christene wat van Islam af tot Christen-bekering kom.

“Die navorsingsverslag se analogie van vervolgingsdinamika as ʼn spinnerak is gepas omdat die verskillende drade elke aspek van die teiken se lewe kan beïnvloed – as persoon, familie, gemeenskap en nasionaal – om te ontmagtig, te verswak en nakoming af te dwing,” het Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, gesê.

“As ʼn vrou en ma, is dit inderdaad skokkend vir my dat geslagspesifieke taktieke op ʼn toenemende wyse teen vroue gebruik word. Deur Geopende Deure se vennote, is ons mikpunt om te verseker dat niemand alleen gelos word terwyl hulle hierdie realiteit in die gesig staar nie. Dit is ʼn groot uitdaging, met een uit elke sewe Christene wat vervolging ervaar. Dit vereis eenstemmigheid met die plaaslike Kerk.”

Lesers kan die verslag, A Web of Forces: The 2023 Gender Report, hier aflaai: www.opendoors.org/thegenderreport/.

  • Maroela Media het met Elizabeth Botha, mediabeampte van Geopende Deure Suider-Afrika, oor die bevindinge van die verslag gesels. Luister na die volledige onderhoud boaan die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.