VSA teiken Zim-leiers met nuwe sanksies

Pres. Joe Biden voor die Withuis (Foto: Mandel NGAN/AFP)

Die VSA het Maandag sanksies teen Zimbabwe se president, Emmerson Mnangagwa, en senior leiers ingestel, maar weggedoen met die 20 jaar oue omvattende veldtog en dit met geteikende optrede vervang.

Pres. Joe Biden se administrasie het, met verwysing na regteskendings en korrupsie, sanksies teen 11 Zimbabwiërs ingestel, onder wie Mnangagwa en drie maatskappye.

Die sanksies verhinder hulle om toegang tot enige van hul bates in die VSA te verkry en verhoed nie-amptelike reise na die land.

Terselfdertyd het Biden die vroeëre sanksieveldtog, wat in 2003 ingestel is, teen Zimbabwe beëindig. Beperkings wat oorspronklik deur die VSA op Zimbabwiërs opgelê is, sal opgehef word, behalwe dié wat Maandag gestel is.

“Die veranderinge wat ons aanbring, moet duidelik stel wat nog altyd die geval was: Ons sanksies is nie bedoel om die mense van Zimbabwe te teiken nie,” het die adjunkminister van finansies, Wally Adeyemo, gesê.

“Ons herfokus ons sanksies op duidelike en spesifieke teikens, naamlik pres. Mnangagwa se misdadige netwerk van regeringsamptenare en sakelui wat die meeste verantwoordelik is vir korrupsie of menseregtevergrype teen die mense van Zimbabwe,” sê hy.

Volgens Antony Blinken, minister van buitelandse sake, is die nuwe maatreëls deel van ʼn “sterker, meer geteikende sanksiebeleid” teen Zimbabwe. Blinken het ook sy kommer te kenne gegee oor “ernstige gevalle van korrupsie en menseregtevergrype”.

“Sleutelpersone, onder wie lede van die regering van Zimbabwe, dra verantwoordelikheid vir hierdie optrede. Dit sluit in die plundering van die staatskas wat Zimbabwiërs van openbare hulpbronne beroof,” het Blinken luidens ʼn verklaring gesê.

“Verskeie gevalle van ontvoerings, fisieke mishandeling en moord het burgers in vrees laat leef.”

Die VSA het die grootste ekonomie ter wêreld en pas op groot skaal sanksies toe. Kritici daarvan voer egter aan Washington se straf is van onbepaalde aard, met geen appèlproses nie. Dit beteken daar is weinig aansporing vir diegene op die swartlys om hul gedrag te verander.

Die vroeëre sanksies – terwyl dit ook hoofsaaklik op die Zimbabwiese leierskap onder veteraanpresident Robert Mugabe gemik was – was deel van ʼn groot drukveldtog wat gelei is deur destydse pres. George W Bush, in samewerking met Engeland, ná ʼn veldtog van gedwonge oorname van grond van wit boere.

Volgens Amerikaanse amptenare is daar enkelinge in Zimbabwe wat onder die vorige sanksieprogram geteiken is wat nie meer vir die staat werk nie of selfs al dood is.

Zimbabwe verwelkom nuwe optrede

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe. (Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File)

Die Zimbabwiese regering het die ophef van die vorige sanksies verwelkom. Die land het lank die skuld vir sy treurige ekonomie en een van die wêreld se hoogste inflasiekoerse hierop gepak.

“Dit is enorm,” het Nick Mangwana, regeringswoordvoerder, op X (voorheen Twitter) gesê en dit beskryf as “regverdiging” van Mnangagwa se buitelandse beleid.

“Dít gesê, solank as daar sanksies teen ons ​​president is, is Zimbabwe onderhewig aan onwettige sanksies; solank as lede van die president se familie aan sanksies onderwerp word, bly Zimbabwe onder onwettige sanksies; solank as senior leiers sanksies teen hulle het, is ons almal aan sanksies onderwerp,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Matthew Miller, woordvoerder van die departement van buitelandse sake, het in reaksie daarop gesê: “Dit is selde dat ʼn regering sê dat sanksies op die dienende president ʼn oorwinning vir die regering is.”

Pres. Hakainde Hichilema van Zambië, wat ʼn al hoe groter bondgenoot van die VSA word weens sy toewyding aan demokrasie, het Biden geprys vir die opskorting van die 2003-sanksies.

“Dit is nog ʼn bewys dat Biden aandag gee aan sy Afrika-vennote. Ons hoop dat dit ʼn kans bied vir Zimbabwe om ʼn nuwe wending te neem en vir streeksbetrokkenheid,” het Hichilema op X gesê.

Ná ʼn verkiesing in Augustus wat deur buitelandse waarnemers gekritiseer is omdat dit nie aan demokratiese beginsels voldoen het nie, is Mnangagwa, wie se party al langer as 40 jaar regeer, vir ʼn tweede termyn as oorwinnaar verklaar.

Nadat Mnangagwa sy voorganger in 2017 ontsetel het, was daar tydelik tekens van ʼn oplewing in betrekkinge tussen die twee lande. Regte-organisasies en Westerse lande beweer dat die regering steeds nie opposisie en betogings duld nie.

Diegene wat deur die jongste sanksies geteiken word, sluit in presidentsvrou Auxillia Mnangagwa, asook Zimbabwe se eerste visepresident, die minister van verdediging en weermaghoof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Marthinus W ·

Sanksies is ekonomiese oorlogvoering. Ek is seker dat, indien daar n akademiese studie oor sanksies bestaan, dit behoort te bewys dat sanksies slegs afbreek, baie min opbou. En dis die verskil tussen die Amerika en die Weste, en Brics. Hoeveel sanksies het Brics al ingestel, teen enige land? Geen. Hulle reik die hand en help opbou.

Vriendelike Frikkie ·

21 Jaar van sanksies. Dit het toe goed uitgewerk vir die burgers maar nie vir hul president nie. Of wag dit is andersom. Nee wag Amerika sê dis anderster. Nou weet ek nie meer nie.

hpven ·

Moord, regteskendings en korrupsie is duisendvoudig in Suid Afrika. Waarom word nie selektiewe sanksies teen die skuldiges hier toepas nie?

Blikkies ·

Hy sal net voortgaan en iemand anders kry om met sy dade voort te gaan, Gn wonder hulle kla nie daaroor nie.

Nici ·

Dit het Amerika net 20 jaar geneem om by te kom en op te hou om arm mense verder te verarm. Arm mense het geen mag nie.

Nici ·

En nog ‘n ding, ek wens Amerika wil ophou om hul demokrasie op almal af te dwing. Eerstens is dit nie baie demokraties van hulle nie en tweedens is hul eie land so ‘n sirkus dat hul nie regtig vir ander lande kan preek nie.

Hendrik ·

Dis net wat SA ook nodig het – VSA sanksies teen die ANC en EFF en MK kaders, moenie ons uit AGOA skop nie, dit gaan die publiek seermaak terwyl dit die regering is wat die probleem is.

Luckykat ·

Los alle sanksies. Moet nie dink die VSA of sy maats stel sanksies in omdat hul omgee vir die mense of vir reg en geregtigheid nie. Dit gaan oor beheer. En skop ons asb uit AGOA ook uit. Dis net n gee hier en knyp daar situasie.

Cherokee ·

Hopelik sal oom Biden verder na onder kyk op die Afrika kaart, en Suid Afrika ook raaksien. Hulle is absoluut te geduldig met die anc.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.