Vulkaan: Liggame dán van Witeiland herwin

‘n Digte rookwolk ná die vulkaniese uitbarsting op Witeiland. (Foto: ANA)

Die Nieu-Seelandse polisie beplan om Vrydagoggend die liggame te herwin van die mense wat in vandeesweek se vulkaanuitbarsting op Witeiland omgekom het. Dié besluit kom ten spyte van die risiko van nóg uitbarstings op die eiland.

Adjunkkommissaris John Tims, nasionale operasionele bevelvoerder van die polisie, het Donderdag in ʼn verklaring gesê die polisie is besig om planne te finaliseer om die liggame môre (Vrydag) teen dagbreek van die eiland te verwyder.

Familie en vriende van die oorledenes wag steeds angstig dat hul geliefdes se liggame van die eiland gebring word. Dit was egter nog nie Donderdag moontlik om die liggame te herwin nie, aangesien vulkanoloë vanoggend ʼn 50% tot 60% kans bereken het vir nog vulkaanuitbarstings binne die volgende 24 uur op die eiland.

Stuart Nash, Nieu-Seelandse minister van polisie, het gesê hy verstaan die families se frustrasies hoewel alle risiko’s in ag geneem moet word voordat mense na die eiland gestuur word om die liggame te herwin.

Vulkaniese trillings het Woensdag beduidend op Witeiland, na aan die Nieu-Seelandse kus, voorgekom, wat beskou word as ʼn aanduiding dat vulkaniese gasdruk hoog bly.

Maroela Media het vroeër berig ’n vulkaan het Maandag op Witeiland, sowat 50 km noordoos van die Nieu-Seelandse kus, uitgebars. Agt mense is dood en nege is as vermis aangemeld. Dié mense het waarskynlik ook in die uitbarsting omgekom, het plaaslike polisie vandeesweek gesê.

Altesaam 47 mense was op die eiland toe die vulkaan uitgebars het. Dit sluit in 24 Australiërs, nege Amerikaners, vyf Nieu-Seelanders, vier van Duitsland, en twee elk van China, Engeland en Maleisië. Die vulkaan is ʼn groot trekpleister vir vulkanoloë en adrenalienverslaafdes wat van reg oor die wêreld daarheen stroom om na onder meer die borrelende modderpoele en geo-termiese strome te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Strandloper ·

Neeeee dankie ons almal se adrenalien vlakte is heel uitgeput deur Eskom, dan praat ek nie eers van die harde aanhoudende vloekery nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.