Vyf dood na vulkaan in Nieu-Seeland uitbars

White Island. (Foto: Twitter)

Minstens vyf mense is dood en talle ander vermis na ʼn vulkaniese uitbarsting op ʼn klein Nieu-Seelandse eiland.

Die eiland word gereeld deur toeriste besoek.

Die Nieu-Seelandse polisie het vroeër gesê dat ʼn soektog na vermiste persone gestaak is, nadat toestande op White Island te gevaarlik geraak het.

Volgens John Tims, adjunkkommissaris van die polisie, is 23 mense reeds van die eiland ontruim, insluitend talle beseerdes. Tims sê daar was minder as 50 mense op die eiland tydens die uitbarsting.

Jacinda Ardern, die land se eerste minister, sou ook na die Whakatane-streek in Nieu-Seeland se North Island vertrek om bystand te bied. “Ons gedagtes is met dié wat deur die uitbarsting geraak is. Dit is ʼn ernstige situasie,” het sy Maandag tydens ʼn perskonferensie gesê.

‘n Beskadigde helikopter lê in die as. (Foto: Twitter)

Michael Schade, ʼn toeris, het Maandag op Twitter sy ervaring van die uitbarsting gedeel. “Ek en my gesin was 20 minute gelede nog op die eiland… dit is onbeskryflik,” het hy getwiet. In ʼn video wat hy opgelaai het, kan ʼn mens die borrelende aswolke sien, asook helikopters wat erg beskadig is en bedek deur ʼn laag as op die eiland staan.

Volgens Brad Scott, ʼn vulkanoloog by Nieu-Seeland se instituut vir geologie, GNS Science, is hierdie uitbarsting van ʼn ernstige aard en staan die rookwolke sowat 3 660 m die lug op. Volgens Scott is die hele eiland geraak.

Die GeoNet-agentskap, wat daarop toegespits is om inligting en waarskuwings oor natuurrampe uit te stuur, het vroeër die vulkaan se uitbarsting as vlak vier gekategoriseer, die tweede ergste graad vir uitbarstings. GeoNet meet vulkaniese uitbarstings op ʼn glyskaal van vyf, met vyf as die ergste graad. Die kategorie is egter later na vlak drie aangepas. “Dit is omdat die uitbarsting nie lank aangehou het nie,” sê Scott.

Volgens GeoNet is die vulkaan die land se aktiefste vulkaan en is sowat 70% van die vulkaan onder die see.

White Island is sowat 50 km vanaf Nieu-Seeland se kus. Volgens berigte sal daar nou ondersoek ingestel word na hoekom toeriste toegelaat is om die eiland te besoek nadat waarskuwings van ʼn komende uitbarsting reeds middel November uitgestuur is.

“Daar was nog nooit voorheen ernstige voorvalle op White Island nie,” sê Scott. Hy kan egter nie sê wanneer dit veilig genoeg sal wees vir toeriste om weer die eiland te besoek nie.

Mense is intussen aangeraai om die Whakatane‑ en die Muriwai-gebied van North Island te vermy. Sowat 10 000 toeriste besoek jaarliks dié eiland, wat in Maori as Whakaari bekendstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.