Vyfjarige motoris glo op pad om Lamborghini te gaan koop

Foto: Utah Highway Patrol

ʼn Vyfjarige seun is onlangs voorgekeer toe hy met sy ouers se motor op pad was – glo om ʼn Lamborghini te gaan koop.

Utah Highway Patrol in die VSA het gesê verkeerskonstabel Rick Morgan was op 4 Mei, omstreeks 11:45, besig met wetstoepassing op ʼn snelweg in Ogden, Utah. “ʼn Motoris het teen 140 km/h gery en hy het die motoris agterna gesit. Tydens die jaagtog het hy gesien hoe die bestuurder van ʼn klein sportnutsvoertuig sukkel om in ʼn enkel verkeerslaan te bly,” lui ʼn verklaring.

Morgan het die spoedvraat laat gaan en gepoog om die bestuurder van die sportnutsvoertuig voor te keer.

“Morgan het vermoed die bestuurder het dalk ʼn mediese toestand onder lede of was moontlik onder die invloed. Die voertuig het stilgehou toe Morgan sy sirene aangeskakel het.”

Die verkeerskonstabel het later gesê dit was vreemd dat hy nie deur die agterste venster die bestuurder se kop kon sien nie. Die raaisel is vinnig opgeklaar toe Morgan by die bestuurder se venster ingeloer en ʼn jong seun as die enigste insittende in die motor opgemerk het.

“Morgan kon bepaal die seun is vyf jaar oud en hy was op pad na Kalifornië na ʼn familielid se huis. Hy wou ʼn Lamborghini gaan koop met sy sakgeld van $3 wat hy gespaar het.”

Die seun se ouers is opgespoor en die seun en hul voertuig is veilig terugbesorg.

Die gesin het verduidelik die seun se ouer boetie moes na hom kyk. Die ouer boetie het aan die slaap geraak en die vyfjarige het die sleutel van die voertuig van ʼn hakie afgehaal en weggery.

“Na raming het die vyfjarige tussen twee en drie myl (sowat 3 km tot 4 km) gery. Gelukkig is niemand beseer nie en geen eiendom is beskadig tydens die kort uitstappie nie. Tot dusver is geen boetes uitgereik of klagtes aanhangig gemaak teen die seun of sy gesin nie.”

Utah Highway Patrol het ook beeldmateriaal van die verkeerskonstabel se instrumentpaneelkamera vrygestel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Oom Hennie Pennie ·

Ek was 11 jaar toe ek al met my pa se trekker op die plaas rond gery het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.