Wagner beëindig opstand; al meer vrae oor Poetin se gesag

Soldate van die Wagner-groep het die strate van Rostov-on-Don Saterdag met ‘n tenk gepatrolleer. (Foto: AFP)

Huursoldate wat deel was van die Wagner-rebellie het Sondag na hul basis teruggekeer nadat die Russiese president, Wladimir Poetin, en die rebellieleier, Yevgeny Prigozhin, ʼn ooreenkoms bereik het.

Die ooreenkoms behels dat Poetin nie vervolging teen Prigozhin of sy lede sal instel nie, mits hy Rusland verlaat en in ballingskap in die buurland Belarus gaan woon.

Dit het ʼn buitengewone krisis gestuit waar die private weermag onder leiding van Prigozhin, ʼn voormalige bondgenoot van Poetin, Moskou sou inval in ʼn poging om Poetin se regering omver te werp.

Hoewel die gespanne situasie nou grootliks ontlont is, meen kenners dat Wagner se opstand teen Poetin ook sy kwesbaarheid blootgelê het; ʼn swak plek in Poetin se mondering wat vroeër waarskynlik goed versteek was.

Veiligheidsmaatreëls het Sondag steeds in Moskou gegeld, hoewel daar ʼn kleiner polisieteenwoordigheid gehandhaaf is. Lede van die publiek met wie AFP gepraat het, het aan die nuusagentskap gesê hulle is nie meer bekommerd nie, al weet niemand presies waar Prigozhin hom nou bevind nie.

“Ek was natuurlik benoud aan die begin,” het Ludmila Shmeleva (70) gesê terwyl sy op Moskou se Rooi Plein gestap het. “Ek het dit nie verwag nie. Ons veg reeds, en dan daar is ook ʼn interne vyand wat jou in die rug steek, soos pres. Poetin gesê het.

“Maar ons loop rond, ontspan en ons voel geen gevaar nie.”

Prigozhin is laat Saterdag laas in ’n sportnutsvoertuig gesien wat Rostov-on-Don verlaat het, waar sy soldate ʼn belangrike militêre hoofkwartier oorgeneem het. Hy is deur sommige inwoners toegejuig wat selfs sy hand deur die oop motorruit geskud het.

Vragmotors met onder meer gepantserde voertuie daarop gelaai het sy voertuig gevolg.

Lede van die Wagner-huursoldategroep het Sondag begin om die gebied te verlaat. (Foto: Roman Romokhov / AFP)

Uit die beoordeling van videomateriaal wat op grond van die geodata bekom is, het die Amerikaanse instituut vir oorlogstudies, ʼn werkgroep wat in Washington gesetel is, gesê Wagner-magte het so na as 330 kilometer van die Russiese hoofstad gekom. Prigozhin het self beweer dat die rebellegroep binne 24 uur net 200 km van Moskou af sou wees.

Die oproer Vrydag en Saterdag was die hoogtepunt van Prigozhin se lang vete met die Russiese weermag se leierskap oor die uitvoering van die Russiese operasie in Oekraïne.

Poetin het die opstand Saterdag as hoogverraad veroordeel en beloof om diegene betrokke te straf. Hy het hulle daarvan beskuldig dat hulle Rusland tot op die rand van ʼn burgeroorlog gebring het.

Later dieselfde dag het hy egter ʼn ooreenkoms aanvaar wat deur Belarus bemiddel is om Moskou se ernstigste veiligheidskrisis in dekades te bowe te kom.

Rusland se pres. Wladimir Poetin tydens ‘n toespraak Saterdag. (Foto: Pavel Bednyakov/Sputnik/AFP)

Wolodimir Zelensky, die Oekraïense president, en pres. Joe Biden van die VSA het die opstand Sondag bespreek in die aanloop tot ʼn Navo-beraad volgende maand in Litaue.

“Die wêreld moet druk op Rusland plaas totdat internasionale orde herstel is,” het Zelensky op Twitter gesê.

Hy het bygevoeg dat hy weer die moontlikheid van “langafstandwapens” vir Oekraïne genoem het, terwyl die land ʼn teenoffensief teen Russiese besetters voer.

Krake in Rusland sigbaar 

Die Wagner-groep, wat uit vrywilligers, voormalige veiligheidsbeamptes en duisende veroordeelde misdadigers bestaan wat vir die private weermag gewerf is, het glo tot onlangs nog Moskou se goedkeuring weggedra. Die groep het ook al verskeie operasies in die Midde-Ooste en Afrika uitgevoer.

‘n Argieffoto van die Russiese sakemagnaat en stigter van die Wagner-groep, Yevgeny Prigozhin. (Foto: Sergei Ilnitsky/AFP)

Ernstige krake in die eens knus verhouding tussen Rusland en die groep is egter nou duidelik, het Konstantin Kalachev, ʼn onafhanklike politieke ontleder, aan AFP gesê.

“Poetin het Prigozhin onderskat, nes hy destyds vir Zelensky onderskat het. Hy kon hierdie hele ding met ʼn telefoonoproep aan Prigozhin keer, maar hy het dit nie gedoen nie.”

Antony Blinken, die VSA se minister van buitelandse sake, het Sondag gesê Wagner se kortstondige oproer het Poetin se gesag “uitgedaag” en ook duidelike krake in die gesag van die Russiese staat uitgewys.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het ook gesê die opmars na Moskou het ʼn duidelike skeur in die Russiese kamp uitgewys, sowel as die broosheid van sy militêre en hulpmagte.

Qin Gang, China se minister van buitelandse sake, het sy steun aan Poetin en Rusland toegesê en die oproer as ʼn “interne kwessie” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Daisy ·

Gaan hy ook onverklaarbaar uit ‘n hospitaal venster val?
Wonder maar net…

Gaitsigubib ·

Nee ek glo nie, hy gaan weer troepe moet oplei in Belarus. Eers moet hy en al sy troepe gaan vir betaalde verlof, komplimente van die Pentagon! Ek hoor die republikeine wil by Biden weet waar is 6.2 Biljoen USD wat in daardie rigting gestuur is en hy sukkel om te onthou watter dag van die week dit is.

Althes ·

Vir Putin moet dit ñ geweldige verleentheid wees dat Wagner Moskou wil binneval. Ek glo nie hy gaan dit eenvoudig laat gaan nie. Putin het ñ oorlogsituasie veroorsaak, wat na sy kant kom, is hyself verantwoordelik voor.
Onse ‘comrades’ hierdie kant is tandloos en moet dringend aftree. Hulle wil spiere bult op die internasionale arena, maar gaan gou agterkom hierdie speletjie gaan hul soos muise laat piep.

Sobymykoolkop ·

Neem kennis dat oom siener ń burgeroorlog in Rusland voorspel het.

Marthinus W ·

Dis waar, 1917 tot 1922. Toe wen die kommuniste nadat Amerikaanse en Britse troepe Rusland ingeval het. Die SA’ner Kenny van der Spuy was n vegvlieenier wat deur die Russe gevang is. Hulle kon hom doodskiet, want hy was onwettig in die land, maar hulle het hom vrygelaat, en Kenny het later generaal in die lugmag geword.

Manie ·

Huursoldate veg aan die kant wie die meeste betaal. Ek vermoed Prigozhin is ‘n paar miljoen USD aangebied.

annie ·

Almal wat so lief is vir Biden en Zelensky verlustig hul in die gebeure wat deur die VSA georganiseer is. Oppas!

A ·

Is dit moontlik vir jou om oor die Russiese-Oekraïne oorlog te praat sonder om te sê ‘wat van Biden/Hunter’?

Gaitsigubib ·

Ja Kat, dit het ek ook gedink. Laat my terug dink aan “Desert Storm” in Iraq. Die Bush familie het olie aandele gehad in kuwait en bijoene verloor elke dag wat Sadam die plek okupeer het. Sou hy gedoen het wat hy gedoen het as hy geen belang daar gehad het nie? Ek twyfel. A het my laas ook nie geantwoord nie, so dalk kan ek hierdie maal vra: “hoe skei mens dit van mekaar”? Biden en die demokrate is sentraal in hierdie konflik, almal weet dit mos al teen die tyd.

Gaitsigubib ·

Afmerk sonder n antwoord kan seker ook as n antwoord beskou word, maar dit het beslis die voorkoms van n tekort aan kennis m.b.t n onderwerp.

A ·

Ja Biden, die ou wat julle sê het dementia, weet nie waar hy is nie en doeke dra.

Terselfdertyd is hy hierdie briljante meester manipuleerder wat Rusland forseer het om die Oekraïne aan te val.

Julle is behep met die man.

KatjieDeKat ·

Ek glo nie Biden is die een wat Regtig die VSA en hul aandeel in wêreldpolitiek regeer en dikteer nie. Hy is die “front man” maar die besluite word deur skaduagtige deep state karakters gemaak. He follows orders from very intelligent, very sly people. Biden self is nie opgewasse om n kafee te bestuur nie.

Gaitsigubib ·

n Briljante meester? Ek het nou regtig lekker gelag. Dankie, ek het dit vandag nodig.

WynandM ·

Eerstens Biden maak nie ‘n land nie en mmeste Republiekeine ondersteun ook die hulp wat die VSA aanbied. Tweedens ja ons verlustig ons en kannie wag as daai outokraat Poetin gaan vaal. Derdens hoekom moet ons oppas, duidelik is die Russe nie so goed soos hul voorgegee het nie. Vierdens, wie sê die VSA het daai mafia-skurk en eks-vriend van Poetin omgekoop, die Russe se politiek werk maar so – dis nie die eerste keer nie, maar kom ons kyk maar dit sal met tyd uitkom.

Marthinus W ·

Prigozjin se baklei met die Kremlin kom nie van gister af nie. Sy optrede word met reg n “rugsteek” genoem. Professionele soldate dink nie veel van hom nie, omdat hy suiwer vir geld veg. Wagner het egter goed gedoen, en dis die enigste rede, glo ek, waarom hy nie gearresteer en van hoogverraad aangekla is nie.

Die bronne wat Poetin se mag sien verbrokkel, ens is almal Westerse bronne, wie se taak dit is om in n oorlog, soos nou, wat n proxy-oorlog tussen Amerika/Navo en Rusland is, die vyand – rusland – af te kraak. Poetin is nog stewig in die saal, en die gewone Russe ondersteun hom. Die Amerikaanse Instituut vir Oorlogstudies is gestig deur Kimberley Kagan, skoonsuster van Victoria Nuland, huidige Amerikaanse adjunk-minister van buitelandse sake. [Nuland en Blinken se ouers is oud-Oekraieners. Die Kagans is ook neocons, met n manifes “A new America”, waarin Rusland vernietig word, en Amerika die wereld alleen oorheers en beheer. Wat natuurlik wensdenkery is.]

Kobus ·

Die arme Putin ondersteuners is skoon benoud om verskonings uit te dink, blameer die weste dat iemand durf waag op om te staan teen hom. Ongelukkig word jy ewe skielik vergiftig, val uit n venster of beland in die tronk. Dink Prigozhin gaan ook die pad volg. Aanvaar, jou held het voete van klei.

Gaitsigubib ·

Nog niemand het my geantwoord as ek vra of hul die VSA en hul woke, BLM anti patriot, NWO agenda steun nie. Vroue breek die een rekord na die ander in sport, en kort kort is daar iewers n eerste vir vroue, maar dan is hulle eintlik mans! Elke persoon wat ek nog gevra het het geswyg vir die dood. Praat gerus moennie nou skaam kry nie.

KatjieDeKat ·

Wel dit lyk of Mnr Putin en Prigozhin dinge uitsorteer het. Maar as ek vir Mnr Putin raad kan gee, moet nooit ooit weer vir Prigozhin vertrou nie en hou daardie karakter dop met n valkoog. Net omdat hy in Belarus gaan sit beteken nie hy kan nie sluwe planne uitdink en mense beinvloed nie. Die kreatuur is verslaaf aan geld so hy kan nog steeds omgekoop word. Oppas ook vir terroriste aanvalle. Spioneer op daardie man soos daar nog nooit in die geskiedenis vd mensdom gespioneer is op iemand nie, 24/7 from now till his dying day.

andre ·

Dis nie goed vir huursoldate om ledig te wees nie. Nou gaan hulle gelukkig vanuit Belarus die fort hou teen die Biden se onderdane.

Republikein in die Wes Kaap ·

Winston Churchill het Rusland beskryf as “a riddle, wrapped in a mystery, inside an enigma.” Voorts, as ‘n vennoot het hy gesê, is Rusland “an inscrutable and menacing land that plays by its own rules, usually to the detriment of those who choose more open regulations.” Met ander woorde, buitestanders sal waarskynlik nooit verstaan hoe die Russiese denkpatrone werk nie. Moenie verbaas indien die gebeure “gestage” is tot hul voordeel nie. Troepe en wapens word heen en weer gestuur. Self “nukes” na Belarus.Dis nou moskarovka. Die Kremlin het ‘n “boodskap” uitgestuur dat die land se voortbestaan in gedrang is. Jong mans gaan nou vrywillig aanmeld vir weermag diens. Poetin en Yefgeny het seker Sondag SA steaks by sy boshuis gebraai en Vodka gedrink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.