Warne se Baggy Green al R5 miljoen werd

Shane Warne vier nog ’n paaltjie. (AP Photo/Sean Garnsworthy, File)

Shane Warne se geliefde Baggy Green-pet is nou al AU$525 000 (ongeveer R5 miljoen) werd.

Die legendariese Aussie-bybreekbouler het besluit om sy groen krieketpet – wat vir Australiese krieketspelers omtrent ’n heilige item is – op te veil. Geld wat met die veiling ingesamel word, sal ten bate van brandslagoffers aangewend word.

“Mens kyk half in ongeloof na die verwoestende brande wat tans hier woed. Die uitwerking wat dit op duisende mense se lewe het, het ons almal aangeraak: Lewens is verloor en huise in puin gelaat; meer as 500 miljoen diere is reeds dood,” het Warne gesê.

“Almal staan saam en ons probeer maniere vind om op ’n daaglikse grondslag ’n bydrae te maak en hulp te verleen. Juis daarom het ek besluit om my geliefde Baggy Green op te veil.”

Verskeie krieketspelers, onder wie Suid-Afrika se AB de Villiers, het hulle tot sosiale media gewend om Warne vir sy goeie daad te loof.

Shane Warne met sy Baggy Green-pet. Foto: Twitter.

Die talentvolle De Villiers het Warne se inisiatief op sy Twitter-rekening gedeel met die woorde “special stuff” bo-aan. Dan het die voormalige Engelse krieketkaptein, Michael Vaughn, geskryf dat die Aussie se inisiatief ongelooflik is.

“Ek sal $25 000 daarop bie,” het Vaughn geskryf.

Sowat 200 veldbrande woed tans in Australië met tienduisende mense wat kusdorpe inderhaas moes verlaat het. Meer as 1 200 huise is reeds in puin gelê.

Maroela Media het vroeër berig minstens 23 mense is dood sedert die eerste brande in September verlede jaar uitgebreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

WarneFan ·

Baie mooi van Warny! Alhoewel mens nie met n charity auction die ware getal sien nie, maar veel hoer. Dit bly n spesiale ding!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.