Weerlig eis 76 in Indië

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: theredrecruiter, Pixabay)

Byna 80 mense is die afgelope naweek deur weerlig in Indië doodgeskok. Dit sluit in verskeie mense wat Sondag selfies naby ʼn historiese fort in die noorde van die land geneem het.

Dodelike weerligstrale kom glo gereeld tussen Junie en September tydens die vroeë stadiums van die jaarlikse moesonseisoen in Indië voor.

Die plaaslike polisie het Maandag gesê 23 van die 76 oorledenes is Sondag in die woestynstaat Rajasthan deur die weerlig doodgeskok.

Ongeveer 12 van dié groep mense het nog laat vanuit wagtorings naby die beroemde 12de-eeuse Amer-fort na die storm oor Jaipur, die hoofstad van Rajasthan, gestaan en kyk toe hulle deur die weerlig getref is.

“Dit het al gereën toe die mense daar was. Hulle het skuiling gevind by die torings namate die reënval toegeneem het,” vertel ʼn senior polisiebeampte van die polisie in Jaipur, Saurabh Tiwari.

Volgens Tiwari was daar tot 30 mense by die torings toe die weerlig getref het. “Sommige beseerdes is bewusteloos gelaat deur die weerligstrale. Ander het in paniek en pyn uitgehardloop.”

Amptenare het aan plaaslike media gesê sommige oorledenes het selfies tydens die storm geneem.

Tienduisende toeriste besoek jaarliks ​​Amer-fort, ʼn Middeleeuse kompleks op ʼn heuwel buite Jaipur, ook bekend as die Amber-fort.

In die buurstaat Uttar Pradesh is minstens 42 mense Saterdag en Sondag deur die weerlig doodgeskok. Plaaslike amptenare het egter nie meer besonderhede bekend gemaak nie.

Dít terwyl nog 11 mense die afgelope naweek in die sentrale deel van Madhya Pradesh deur die weerlig doodgeskok is. Twee van die oorledenes het hul kamele en skape geneem om te gaan wei en het onder ʼn boom geskuil toe hulle getref is.

Premier Narendra Modi het gesê die slagoffers se families sal vergoeding aangebied word.

Luidens die nasionale misdaadrekordburo se mees onlangse beskikbare syfers is byna 2 900 mense in 2019 deur die weerlig in Indië doodgeskok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.