WGO versigtig optimisties oor pandemie in Europa

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Donderdag ʼn stukkie hoop aan Europa gebied vir “ʼn lang periode van kalmte” en selfs “langdurige vrede” in die oorlog teen die koronavirus, met die lys wat al hoe langer word van lande wat byna alle Covid-beperkings laat vaar het.

Hans Kluge, direkteur vir WGO Europa, het verwys na “ʼn skietstilstand wat langdurige vrede kan bring” met ʼn hoë inentingskoers, die geringer Omikron-variant en die einde van die winter wat om die draai is.

“Hierdie konteks laat ons met die moontlikheid dat ons ʼn lang periode van kalmte kan ervaar,” het hy aan verslaggewers gesê. “Dis nie om te sê die pandemie is verby nie, maar daar is ʼn moontlikheid dat ons beheer kan neem van die oordrag.”

Selfs met ʼn meer aansteeklike variant (meer as Omikron) is dit moontlik om op nuwe variante te reageer sonder om terug te keer na die ontwrigtende maatreëls wat vroeër nodig was. Hy maan dat die optimistiese scenario vereis dat lande hul inentingsveldtogte en monitering van nuwe variante verskerp.

Swede het intussen ook meeste koronavirus-beperkings geskrap en gesê 9 Februarie is “ʼn nuwe fase” in die pandemie. Kroeë en restaurante sal nie meer om 23:00 hoef te sluit nie, die beperking op skares word opgehef, ʼn bewys van inenting is nie meer nodig vir binnenshuise byeenkomste nie en gesigmaskers sal nie meer aanbeveel word op openbare vervoer nie. “Die pandemie is nie verby nie, maar ons betree ʼn nuwe fase,” het Magdalena Andersson, eerste minister van Swede, aangekondig.

Haar minister van gesondheid, Lena Hellengren, sê die regering sal paraat bly oor die vordering van die pandemie.

Swede het vroeg in die pandemie opslae gemaak toe die land gekies het om nie inperkingsreëls in te stel nie. Met meer as 16 000 sterftes tot dusver is die dodetal in lyn met die gemiddeld vir Europa, maar baie hoër as die nabygeleë Noorweë, Finland en Denemarke.

Ná Brittanje en Ierland, het Denemarke Dinsdag ook meeste regulasies opgehef, gevolg deur Noorweë. Frankryk het Woensdag verskeie beperkings opgehef.

Nieu-Seeland sal na verwagting ook binnekort van sy strengste grensbeperkings ophef, maar sal nie ten volle oop wees tot Oktober nie. “Dis tyd om weer te begin beweeg,” het eerste minister Jacinda Ardern Donderdag gesê en ʼn vyf-stap-plan aangekondig om weer met die res van die wêreld te verbind.

Ardern is onder druk geplaas om die grensbeperkings op te hef wat al byna twee jaar lank onveranderd gelaat is.

Duitsland spook steeds met hoë gevalle wat deur Omikron aangedryf word en beveel nou ʼn vierde skraagdosis aan vir hoërisiko-groepe. Hulle volg in die spoor van Israel en verskeie Europese lande. Duitsland se inentingskommissie het Donderdag gesê data wys “dat beskerming teen die huidige Omikron-variant afneem binne ʼn paar maande ná die eerste skraagdosis”.

Israel het verlede maand die eerste land geword wat ʼn vierde skraagdosis beskikbaar gemaak het, aanvanklik vir bejaardes en gesondheidsorgwerkers en sedertdien vir alle kwesbare persone ouer as 18.

Denemarke, Hongarye en Spanje bied ook ʼn vierde skraagdosis aan vir mense wat ʼn hoë risiko is, net soos Chili en Brasilië. Die besluit word egter nie oor die algemeen verwelkom nie. Die WGO waarsku welgestelde lande dat hulle nie hul pad uit die pandemie kan baan met skraagdosisse nie.

Minstens 5 698 322 miljoen mense is sedert die uitbreking in China in Desember 2019 wêreldwyd dood, aldus ʼn AFP-telling gebaseer op amptelike bronne. Indien die oortollige sterftes wat met Covid-19 verband hou in berekening gebring word, beraam die WGO die algehele dodetal is moontlik twee tot drie keer hoër.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blomme ·

Die dodetal is verskriklik.. Dit oor ń tydperk van 2 jaar!

VaalDonkie ·

Oor die afgelope twee jaar was daar wereldwyd meer as 100 miljoen aborsies uitgevoer.

Kaytee ·

Daar gaan meer mense dood aan ander siektes as aan die sirkus. Doodgaan is deel van die lewe, weet nie hoekom die een so spesiaal is nie, veral nie met ‘n herstelkoers van meer as 95% nie. Kan nie dink mense glo in die nonsens nie. As die getal verskriklik is, moet asb nie ander gaan opsoek vir die laaste jaar nie – nie eers 2 jaar nie, jy gaan dit nie oorleef nie (no pun intended!)

Karel Kobus Kruger ·

Die totale wêreldwye dodetal is so 60 miljoen per jaar, dis nou alle oorsake.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.