Zim-prokureur in hof in boeie geslaan

Die Zimbabwiese prokureur Doug Coltart. (Foto: Twitter)

ʼn Vooraanstaande menseregteprokureur van Zimbabwe is Vrydag in die Harare-landdroshof in boeie geslaan waar hy die Zimbabwiese ondersoekende joernalis Hopewell Chin’ono verteenwoordig het.

Doug Coltart is deur polisiebeamptes by die hof genader en aangesê om na die Harare Sentraal-polisiestasie te gaan “omdat hulle hom wou ondervra oor ʼn saak wat hy hanteer”, het sy prokureur, Chris Mhike, sedertdien aan AFP gesê.

Coltart is egter by die polisiestasie van bedrog aangekla voordat hy enkele ure later vrygelaat is. Die aanklagte spruit na bewering uit ʼn saak wat hy hanteer. Hy sal na verwagting Saterdag in die hof moet verskyn.

Coltart is die seun van David Coltart, Zimbabwe se voormalige minister van onderwys, sport en kuns en kultuur. David bestempel die aanklagte teen sy oudste seun as “vals”.

Sy kliënt, Chin’ono, is een van Zimbabwe se felste kritici van pres. Emmerson Mnangagwa se regering. Hy is die afgelope twee jaar verskeie kere in hegtenis geneem.

Chin’ono het Vrydag in die hof verskyn rakende ʼn saak van 2020 waarin hy daarvan beskuldig word dat hy sy borgtogvoorwaardes verbreek het deur te twiet oor die hofuitslag van ʼn goudsmokkelskandaal. Dít ondanks ʼn verbod wat hom destyds verbied het om te twiet.

Coltart het ook vantevore Jeffrey Moyo verteenwoordig, ʼn Zimbabwiese vryskutverslaggewer vir The New York Times, wat in Junie skuldig bevind is aan die oortreding van immigrasiewette omdat hy na bewering buitelandse joernaliste gehelp het om vals akkreditasie te verkry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.