WP klop Cheetahs op leë Nuweland

Michael Rhodes

Dit was ’n vol naweek van rugby waarin twee Premierliga Curriebekerwedstryde reeds Vrydagaand afgehandel is en die twee openingswedstryde in die Castle Rugbykampioenskap Saterdag saam 17 drieë opgelewer het.

Daarom sou ’n mens die Suid-Afrikaanse rugbypubliek nie kon kwalik neem as hulle teen 19:00 Saterdagaand met moeite voor die TV ingeskuif het om die laaste Curriebekerwedstryd van die naweek tussen die WP en die Cheetahs dop te hou nie.
Die nat weer in die Kaap was boonop ’n verdere faktor in dié wedstryd en dit het ook ’n invloed gehad op die feit dat Nuweland se paviljoene ongewoon leeg was toe die twee spanne op die veld draf.

Die Cheetahs het die oë laat rek deur binne 15 minute reeds met 14-0 voor te loop na twee opportunistiese drieë. Eers het die losskakel, Elgar Watts, die hele WP-agterlyn oorhoops gevang en deurgewals vir ’n drie. Sewe minute later het die regtervleuel, Riaan Smit, ’n onverantwoordelike lang aangee van die WP-losskakel, Gary van Aswegen, op sy eie kwartlyn onderskep en 75 meter ver genael om die klompie trotseerders van die reënweer op Nuweland tydelik stil te maak.

Hierna het WP egter begin om beheer oor te neem. Michael Rhodes is eintlik ’n losvoorspeler, maar weens die gebrek aan diepte in die Kaap is hy vir hierdie wedstryd op slot gekies. Juis daarom was dit vreemd om te sien hoe ’n slot onder die Vrystaters uithardloop toe Rhodes ’n fout van laasgenoemde uitgebuit het, dwarsdeur die lynstaan bars en daarna 40 meter ver hardloop sonder dat ’n hand op hom gelê kon word.

Rhodes se drie het ’n mini-herlewing in die Kapenaars se spel gebring en skielik moes die Cheetahs vir die res van die helfte verdedig so wat hulle kon om die Streeptruie van hul doellyn af weg te hou.

Eers toe Steven Kitshoff sowat agt minute voor rustyd geel gewys is vir gevaarlik spel het die Cheetahs gelyk of hulle weer ’n bietjie lewe in hul bene kry. Skielik het hulle ook meer besit begin kry, maar te veel hanteerfoute het veroorsaak dat geen punte aangeteken kon word voor die manne gaan rus het nie.

Die eerste halfuur van die tweede helfte was presies wat ‘n mens kon verwag nadat dit teen rustyd weer begin reën het. Daar was oomblikke van opwinding, maar die nat bal het telkens die laaste sê gehad. WP het egter die druk op die Cheetahs gehou en veral in die vaste skrums het hulle die manne van Bloemfontein swaar laat leef.

Op een of ander wyse het die Cheetahs egter daarin geslaag om vas te byt en met tien minute oor was die rustydtelling nog onveranderd.

Met vyf minute oor op die stophorlosie kon die WP uiteindelik hul oorheersing voorlangs in hul guns gebruik toe Deon Fourie ’n puik rolmaalbeweging van ’n lynstaan af met ‘n drie afgerond het.

Die Cheetahs het egter weer ’n geleentheid gehad om die wedstryd met ’n moontlike skepdoelpoging te wen, maar ’n swak aangee van Piet van Zyl na sy voorspelers wat die dryfwerk moes doen om Elgar Watts in die skepskop-posisie in besit te stel, was skokkend swak en ’n aanslaan van Oupa Mohoje het die einde van hul kanse beteken.

Uiteindelik het die beste span op die dag waarskynlik gewen, maar bittermin toeskouers wat hierdie wedstryd gesien het sal dit teen Oktobermaand nog onthou.

Puntemakers:
WP: 15. Drieë: Michael Rhodes en Deon Fourie. Doelskoppe: Gary van Aswegen (1), Strafdoele: Gary van Aswegen (1).
Cheetahs: 14. Drieë: Elgar Watts en Riaan Smit. Doelskoppe: Riaan Smit (1) en Elgar Watts (1)
Spanne:
WP: Gio Aplon, Gerhard van den Heever, Pat Howard, Damian de Allende, Cheslin Kolbe, Gary van Aswegen, Louis Schreuder, Nizaam Carr, Rynhardt Elstadt, Deon Fourie (kaptein), De Kock Steenkamp, Michael Rhodes, Brok Harris, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. Plaasvervangers: Tiaan Liebenberg, Pat Cilliers, Gerbrandt Grobler, Rohan Kitshoff, Nic Groom, Kurt Coleman, Ryan Nell.
Cheetahs: Hennie Daniller, Riaan Smit, Johann Sadie, Robert Ebersohn, Raymond Rhule, Elgar Watts, Sarel Pretorius, Philip van der Walt, Lappies Labuschagne, Boom Prinsloo (kaptein), Waltie Vermeulen, Lood de Jager, John-Roy Jenkinson, Hercu Liebenberg, Caylib Oosthuizen. Plaasvervangers: Ethienne Reynecke, Wian du Preez, Oupa Mohoje, Davon Raubenheimer, Piet van Zyl, Willie du Plessis, Piet Lindeque.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kaspaas Breekwater ·

Cheetahs weer terug op hulle ou spel patroon. Sodra hulle voor is , begin hulle speel ‘defend the lead’. Die wedstryd wat hulle in die sakkie gehad het, kan hulle nou weer duur te staan kom in die semi-finale die jaar, net soos wat in die super15 gebeur het.

H J Bester ·

Eerstens hou Nuweland die rekord dat dit die grootste skares lok van al die groot stadions in Suid-Afrika en was die klein skare verlede Saterdag-aand nie ‘n gebrek aan belangstelling in hul span nie, maar eerder die onsmaaklike koue- en reënweer.

Dis korrek, die Cheetahs se punte het weliswaar slegs bestaan uit twee opportunistiese drieë. Daarenteen het die WP die spel lewendig gehou en getoon dat hy oor baie ondernemingsgees en vaardighede beskik – dis juis hierdie eienskappe wat hom laat wen het.

Daar lê sommer nog ‘n klomp wedstryde voor wat nog vir groot opwinding kan sorg alvorens die Currie-beker sy staanplek gaan kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.