Xander Bylsma gevonnis

Xander Bylsma gedurende vandag se hofverskyning. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die veroordeelde moordenaar Xander Bylsma (21) is Vrydag tot twee keer lewenslank gevonnis vir die moord op sy voormalige vriendin, Sharnelle Hough, en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht.

Regter Ronald Hendricks het die moord op Hough en Engelbrecht vanoggend in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes as ’n dubbelmoord en geslagsgebaseerde geweld bestempel.

“Wat hierdie moorde grusaam maak, is die feit dat dit twee jong meisies was. Jou dade was skandelik en afstootlik. Jy het géén respek [vir die meisies] getoon nie.”

Hendricks het gedurende vonnisoplegging daarop gewys dat die samelewing ’n herhaalde oproep teen geslagsgebaseerde geweld doen. “Die enigste manier om geslagsgebaseerde geweld stop te sit, is om strenger vonnisse op te lê.

“Die vlak van gewelddadige misdade in hierdie land is kommerwekkend en ’n bedreiging vir ons demokrasie. ’n Lewe het te goedkoop geword in ons samelewing. Die brutaliteit van dié moorde kan nié geïgnoreer word nie. Jy móés geweet het wat jy doen,” het Hendricks verder gesê.

‘n Foto van Marna Engelbrecht in die hof vandag. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Hough (17) en Engelbrecht (16) is gedurende die nag van 25 en 26 Mei 2018 in die hoërskoolkoshuis op Stella vermoor. Hough se liggaam is die oggend van 26 Mei aangetref waar sy met ’n tou om die nek aan ’n trapreling gehang het. Engelbrecht se liggaam is in ’n badkamer met ’n handsaklus om haar nek aangetref.

Maroela Media het vroeër berig Hendricks het in sy uitspraak in Februarie bevind dat Hough se moord haarfyn beplan was. Hy het egter nie beplan om Marna die betrokke aand te vermoor nie.

“Marna was jou kleinniggie. Jy was veronderstel om haar te beskerm en lief te hê. Jy het egter versuim om dit te doen. Onskuldige mense word gereeld seergemaak deur mense wat veronderstel is om hul ondersteuningstelsel te wees.”

Ronnie Hough, Sharnelle se pa, het ná die vonnisoplegging gesê die familie is tevrede met die vonnis.

“Nie dat dit iets verander nie, maar dit is wat ons verwag het, wat ons wou gehad het.”

Monté Bylsma, Xander se pa, wou nie vanoggend kommentaar lewer nie.

Xander is ook vanoggend onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Wondermaarnet ·

Hy gaan seker nie die vermetelheid hê en nog tyd en geld mors om te appelleer nie.

Sarah ·

Ek het nogal gehoop dis die geval. Kom ons kyk of hy dit gaan aanvaar.

Niklaas ·

Welverdiend is hierdie vonnis. Mens kon eintlik niks anders hom toewens nie , want dit is een vreeslike daad wat gepleeg is.

Fritz ·

Saam MET. Ek het n kleintjie dood aan mense wat sê “saam iemand” en nie “saam met iemand” nie.

Megan Swart ·

Dagsê Fritz
Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Johan ·

Kyk net sy arrogante houdingtjie met die hand in die sy op die laaste foto. Ek hoop elke oomblik in die tronk gaan vir hom hel wees. Dis wat hy verdien nadat hy daai twee pragtige kinders dood gemaak het.

LiveAndLetLive ·

Mens kry sy ouers so jammer. En die ouers van die meisies.
3 jong lewens verwoes.
Ek hoop maar hy kry die hulp wat hy duidelik nodig het, dit is beter vir hom en ander dat hy maar eerder uit die samelewing verwyder word.
Tog steeds baie tragies.

Francois Le Cochon ·

Hy kan eers na 25 jaar aansoek doen vir parool. Omrede hy twee lewenslange vonisse opgele is, sal hy waarskynlik tussen 30-35 jaar in die “slammer” sit.

JohanR ·

Johan – ‘n mens word een of ander tyd groot, maar daai groen oog van jaloesie is nie ‘n lekker ding nie. Toe ek soe 22 was het ek ‘n lamp stukkend teen ‘n muur gegooi van jaloesie. Ek dink ek het daai tyd soe groot vir myself geskrik, dat ek nooit weer soe iets gedoen het nie. In die geval het daai groen oog van jaloesie gelei tot die dood van twee meisies. Maar dit lyk ook asof Bylsma nooit aanvaar wat hy gedoen het nie, en nooit eenkeer berou getoon nie. Hy is ‘n gevaar vir die samelewing.

johan ·

My vraag is nou, as dit my kind was. Sou ek gewonder het waar het ek gevaal met sy opvoeding. Was sy huislike omstandighede en opvoeding van so aard, dat hy die dade kon pleeg. Het ek nie gesien daar is fout met die kind nie.

Debbie ·

Ek stem nie saam nie, Johan. Somtyds kan dit die ouerhuis en aftergrond wees wat een van die redes vir ‘n kind se misdaad kan wees. Maar dit gee steeds jou nie die reg om net iemand se lewe te neem nie. Hy is ouer as 12 jaar. Hy het geweet wat hy doen is verkeerd. Wat van hulle regte? ‘n Lewe het net te goedkoop in ons land geword. Parool word ook te maklik toegestaan. In Amerika beteken lewenslank lewenslank. Parool word ook nie net toegestaan nie. Die slagoffers se familie word ingelig van moontlike paroolaansoeke en hulle kan dan hul kant van die saak stel en versoek dat parool nie toegestaan word nie. In Suid-Afrika het slagoffers geen of bitter min regte.

Frans ·

Die mense is psigopate,van hulle is al gekryf dat: Gebrek aan Skuld. Psigopate voel nie berou soos gewone mense. Vir hulle mense is eenvoudig dinge om mee te speel met en en pyn veroorsaak op ander is nie n oorsaak vir skuld. Almal van ons kan soms wreed en gevoelloos wees, maarn psigopate is nie in staat om die verantwoordelikheid vir hul dade te aanvaar.

sterk soos n beer ·

ek is baie tevrede met die vonnis en is bly dat hy nie borg gekry het nie. my hart gaan uit na marna en shanelle se familie. ja xander is nie meer werd om marna se ouer sussie kleinnefie genoem te word nie

Francois Le Cochon ·

Een gelukkie vir Xander is dat hy ten minste vir die volgende 25 jaar nie ‘n das hoef te dra nie.

Prikkie ·

En na so twaalf jaar se voorbeeldige gedrag is hy ‘n model gevangene en kry hy parool.

Daardie twee gesinne is vir ewig in rou gedompel!

AH ·

Ek hoop ook nie hy word te gou begenadig deur ons President omdat die tronke vol is nie nie….Hy behoort baie jare te boet vir die onmenslike ding wat hy gedoen het…

Elmarie ·

Ek voel verskriklik jammer vir die ouers. Aan beide kante. Jy maak jou kind groot en dan doen hy so-iets – HOE leef mens daarmee saam? Dis steeds jou kind. Ag en natuurlik die arme meisies se ouers. Ek het nie woorde, dis alles be baie hartseer…

Yvonne ·

Wat n mors van jong lewens…satan is inderdaad soos n brullende leeu en kyk wat hy kan verwoes

Elsabe ·

So verskriklik jammer vir die ouers aan albei kante. Dit moet geweldig traumaties wees as jou kind moord gepleeg het en nou vir ewig (?) in die tronk sal wees.

Realis Thailand ·

Die tragedie van die is dat soveel lewens verwoes is
Al drie se families het bitter seer en ek verstaan dat die vader van Bylsma kwaad is
Dit is vir geen vader lekker om te sien sy seun gaan vir 25 jaar gevangenis toe en diep in sy hart wonder hy of hy verkeerd gedoen het met die opvoeding
Ek is net spyt dat die regter hom nie langer kon gee nie soos die VSA lewenslank sonder parool want dis wat die ouers en familie van die twee dogters gekry het.
Hy verdien nie om ooit weer vrygelaat te word nie
Ek het met sulke mense in die tronke daar gepraat en dit is bitter om te weet jy gaan nooit ontslaan word uit die gevangenis
Ek hoop die ouers va ndie twee meisies vind berusting een of ander tyd hoewel ek weet nie of ek sou kon nie

Debbie ·

Ek dink ons land moet lewenslank sonder parool as vonnise gee. En dit moet presies dit wees: lewenslank sonder die opsie van parool. Veral sinnelose misdade soos die.

Pieter J ·

Ek moet sê hierdie keer stem ek saam met hierdie regter.

Anoniem ·

Alhoewel die vonnis die beste is moet doodstraf weer teruggebring word. Ek het Geen reg om ‘n ander se lewe te neem nie!!!!

Blomme ·

As die erns van al die onsinnige misdade insluitend plaasaanvalle en moorde tydens kapings maar op dieselfde meriete hanteer kan word. Dit sal beslis bydrae lewer tot ń daling in die land se misdaadsyfer. ń Geweldadige en gevoellose misdadiger verdien nie om op menseregte aanspraak te maak!

Adriaan ·

Nou vertel my iemand asb, wat hy heeltyd in die tronk gaan doen? Dae van klippe kap is seker verby. Nee, seker net eet en slaap?

popsa ·

Dankbaar vir geregtigheid, hoewel ‘n mens volgens die Woord sekerlik die doodstraf verdien as jy ander koelbloedig vermoor. Net ‘n vraag aangaande die veiligheid van die meisies in die koshuis. Wat van die sekuriteit daar? Ek was 17 jaar in verskillende koshuise en ons is baie mooi opgepas. Veral in dameskoshuise…

Mallie ·

Hy het gekry waarvoor hy gevra het. Sit hom tussen die ander misdadigers sodat hulle sy gal kan werk.

Jax ·

Uitstekend! Ek wens net dat die doodstraf nog bestaan het! Hy verdien sy skuldigbevinding en vonnis.
Ek hoop die ouers van die twee dames wat so wreed vermoor is, word toegevou in liefde deur hul gemeenskap! Ek bid hul sterkte toe. Om n kind te verloor, is werklik die ergste wat jou kan tref en om te weet jou kind is vermoor…… ai, ek kan my dit nie voorstel nie.
Om te beweer dat jou kind onskuldig is, is n klap in die ondersoekbeamptes, die regter, ouers, familie en vriende van die twee vermoorde dames se gesigte! Aanvaar dit is wat gebeur het en laat sak jou kop in skaamte. Soos die regter sê: jy het jou kind gefaal!
Ek hoop dat ander ouers hieruit sal leer en meer betrokke sal wees in die opvoeding van hul kinders as op die sport velde! Dit is tyd vir alle ouers om weer beheer te neem oor die groot maak en opvoeding van hul kinders. As jou kind aanjaag, is daar gevolge wat wag en die gevolge moet streng genoeg wees om die kind te leer om dit nie weer te doen nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.