Beurtkrag dalk afgeskaal; teen naweek opgehef

(Argieffoto: Unsplash)

Die vooruitsig dat beurtkrag moontlik teen die naweek opgehef kan word, het teen Woensdag beter gelyk en naastenby 900 MW is intussen by die netwerk gevoeg.

Die voorspelling is egter dat die vraag na krag weens dalende temperature sal styg, met kragverbruik op ʼn verwagte 30 298 MW vir vanaand. Eskom kan tans steeds net in 26 756 MW van die behoefte voorsien en beurtkrag kan dus nog nie opgehef word nie.

André de Ruyter, Eskom-hoof, het vanoggend tydens ʼn vergadering oor die stand van die netwerk gesê verskeie eenhede het oornag en vanoggend weer aanlyn gekom wat druk op die netwerk help verlig het.

Beurtkrag kan moontlik Donderdag tot fase 3 verlaag word en indien die eenhede wat reeds aanlyn gekom het aanlyn bly en werk soos dit moet, kan daar oorweeg word om beurtkrag teen die naweek op te hef.

Eskom se reserwevoorraad “doen nie te sleg nie”, sê De Ruyter. Die dieselvlakke by Ankerlig staan nou op 67,7% en by Gourikwa op 61%.

By die Drakensberg-pompopgaarskema is nog 28 pomp-ure nodig om die boonste dam vol te pomp, terwyl Ingula 15 pomp-ure benodig om dieselfde te doen.

Majuba se eenheid 2 het vanoggend gebreek en ʼn eenheid by die Arnot-kragsentrale het uitgeskop. Deur die loop van die oggend is twee eenhede by die Lethabo-kragsentrale aanlyn gebring. Dit word as groot, betroubare eenhede bestempel wat die netwerk ʼn goeie hupstoot behoort te gee.

Eenheid vier by Camden behoort binnekort weer in diens gestel te word en Matla se eenheid vyf is reeds weer aanlyn.

Nog eenhede behoort oor die volgende paar dae in diens gestel te word.

De Ruyter is vandag self by die Duvha-kragsentrale om die bestuur en werkers te ontmoet en hom van die situasie te vergewis, en sal later dieselfde by die Matla- en Kriel-kragsentrale doen.

De Ruyter het Woensdag gewaarsku teen bespiegeling en vrese oor ʼn algehele ineenstorting van die netwerk. Dit het nog nooit tevore in Suid-Afrika gebeur nie en Eskom het wel die vermoë om, sou die ergste gebeur, die netwerk weer aan die gang te kry.

Die beurtkragstelsel maak voorsiening tot fase 8 en daar is dus nog heelwat ruimte vir beweging voordat ʼn algehele ineenstorting enigsins as ʼn moontlikheid beskou kan word.

“Natuurlik het ons dringend meer kapasiteit in die netwerk nodig sodat ons ʼn veiligheidsmarge het om voorsiening te maak vir die onvoorspelbaarheid en onbetroubaarheid van die stelsel,” sê De Ruyter.

Hy het ook opnuut benadruk dat Eskom die moontlikheid om nog kapasiteit by die netwerk te voeg, ten volle ondersteun en self alles moontlik doen om dié proses te bespoedig. De Ruyter sê die Eskom-vloot is verouderd en daar moet so gou moontlik oorgeskakel word na skoner, groener energie.

Eskom sal sy groot instandhoudingsprojek na verwagting gedurende die wintermaande afskaal. Koeberg se eenheid twee, wat tans hervul word nie en nie in gebruik is nie, sal na verwagting weer teen die einde van Junie aanlyn wees en sal dan nog 900 MW by die netwerk voeg.

Volgens De Ruyter vaar die vloot kragsentrales boonop beter in die kouer, droër wintermaande wat verder help om die gevaar van beurtkrag te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Fae Fubar ·

Tsk! Met ons skedule is daar net mooi géén verskil tussen fase drie en fase vier nie. Die ongerief en uitgawes op petrol vir die kragopwekker (wat ons noodgedwonge vir die tydgleuwe van 17:00 tot 19:00 en die 21:00 tot 23:00) moet gebruik, bly presies dieselfde.

James ·

Lyk my die Kaapse munisipaliteite staan op: Ek wag nou al van 12h00 af dat my fase 4 blackout inskop – en dis nou 13h00. Hoop ek is reg. Laat Gauteng AL Soweto se Eskomskuld invorder, en AL die onwettige verbindings verwyder. Tot dan: Gee Gauteng fase 40 beurtkrag – en los die res van ons in vrede.

Janine ·

Nes jy, betaal die meeste van ons in Gauteng vir elektrisiteit!

James ·

Jammer om te hoor. Sterkte. Ek het ‘n oplossing vir jou: dieselfde oplossing wat ek in 2016 al gedoen het – TREK.

James ·

As jy nie hou van jou lewe in Gauteng nie – TREK SUID. Jy gaan geld verloor, maar jou siel gaan rustig raak.

piet ·

Ja, lyk nie meer soos fase 4 hier by ons nie. Seker fase 2 nou. Sal kyk, dit behoort dan nou 16h00 hier by ons af te gaan.

Ronel ·

@James jy is vrek selfsugtig! Ek betaal net so hard aan elektrisiteit soos jy. My ouers is pensionarisse en my pa afhanklik van suurstof. Weet jy watse beplanning dit kos???? En jy weet net so goed soos ek om te sê trek Suid, is makliker gesê op papier as om te doen.

SwartBees ·

Moenie worry nie Eksdom, solank julle net bonus kry vir dienste gelewer dan is als shanana.

Twallie ·

Uh-Huh.

Vrydag 05:00 : Eskom skort beurtkrag op.

Vrydag 08:00 : Beurtkrag op na Fase 4 oor ‘n halfuur.

Het al daai gesang van Ruyter van die Windjie gehoor.

“De Ruyter het Woensdag gewaarsku teen bespiegeling en vrese oor ʼn algehele ineenstorting van die netwerk. Dit het nog nooit tevore in Suid-Afrika gebeur nie en Eskom het wel die vermoë om, sou die ergste gebeur, die netwerk weer aan die gang te kry.”

Ek wonder darem. Hul performance op die oomblik laat ‘n mens twyfel.

BARNEY ·

En ek het gedink die beurt krag sal Vrydag oggend 05:00 klaar wees. Nog een van hulle leuens, want nou word dit as n moontlikheid genoem en nie met sekerheid bevestig.
Net soos baie dinge in ons lewens raak ons seker later gewoond aan beurt krag ook.
Elektrieseteit verskaffing het ons werklik soos paddas in kook water laat voel.

pompies ·

Solar panele op die dak en batterye en inverters in die motor huis en jou elektrisiteit is altys aan en jy betaal baie min vir die kere wat jy wel van die grid moet krag trek. Na 5jaar is jou 20kw stelsel afbetaal met die geld wat jy elke maand spaar en dan is dit verniet. ESKOM kan maar bankrot speel sal my glad nie pla nie.

marius ·

Ja , en die paas haas gaan weer die naweek die tuin vol eiers le . Leunaars .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.