Julie-oproer was poging tot ‘rebellie’ – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa Vrydag tydens sy verskyning by ‘n verhoor van die MRK oor die Julie-onluste. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Suid-Afrikaners sukkel steeds om sin te maak van die koste van verlede jaar se gewelddadige oproer in veral KwaZulu-Natal en Gauteng, het pres. Cyril Ramaphosa Vrydagoggend in sy openingsrede aan die Menseregtekommissie (MRK) gesê.

Die MRK hou tans verhore oor die dodelike onrus wat destyds uitgebreek het.

Benewens die verlies aan menselewens het die oproer binne enkele dae ook R50 miljard uitgewis. Ramaphosa sê die regering doen stappe om te verseker dat die gebeure nooit weer herhaal word nie, asook dat diegene wat daarvoor verantwoordelik was wel aan die pen ry.

Die president het die oproer as ʼn “rookskerm” bestempel wat gebruik is om ekonomiese sabotasie te pleeg. Dit het ingesluit aanvalle op kommersiële vragmotors wat vrag vervoer het, die plundering en verwoesting van winkelsentrums, fabrieke en pakhuise, asook die versperring van paaie en hoofweë wat deurslaggewend vir die voortsetting van ekonomiese bedrywighede was.

Ondanks pogings om rassespanning tydens die oproer aan te blaas, kon die aanhitsers van die geweld Suid-Afrikaners egter nie teen mekaar laat draai nie. “Inteendeel, Suid-Afrikaners het saamgestaan soos nooit tevore nie.

“Soos soveel kere in die verlede, het Suid-Afrikaners ʼn groot liefde vir hul land getoon en saamgestaan teen die veiligheidsbedreiging,” het Ramaphosa aan die kommissie gesê.

Oor die oorsaak van die oproer sê Ramaphosa dit was ʼn doelbewuste besluit deur sekere mense om die wydverspreide verwoesting van eiendom, geweld en plundery aan te hits. Die identiteit van hierdie aanhitsers is die onderwerp van ʼn voortgesette ondersoek en hofsake.

Nie ‘opstand van armes’

Sosio-ekonomiese toestande het egter ook ʼn rol gespeel. “Dit kan verduidelik hoekom soveel Suid-Afrikaners deelgeneem het aan die plundering en die gevaar van inhegtenisneming, beserings en in sommige gevalle, die dood, geloop het.

“Daar was waarskynlik misdadige elemente wat die vuur gestook het in die oënskynlik goed georganiseerde teiken van fabrieke en pakhuise, maar ook in die geweld wat tussen sekere gemeenskappe in KwaZulu-Natal uitgebreek het.”

Die staat en sy veiligheidsmasjinerie is ná die oproer kwaai gekap oor sy reaksie daarop en Ramaphosa sê die regering het reeds erken dat hy swak voorbereid was op ʼn georkestreerde veldtog van openbare geweld, verwoesting en sabotasie van dié aard wat ondervind is.

Nietemin was dit nie ʼn “opstand van die armes”, soos sommige probeer voorhou het nie, sê die president.

“Dit was nie die oorkook van ontevredenheid oor ʼn beweerde geldige politieke grief nie.

“Dit was ʼn poging tot ʼn rebellie.”

Die teiken van ekonomiese infrastruktuur wys dat die bedoeling was om die ekonomie op sy knieë te dwing en die demokrasie te destabiliseer. “Ongeag hul doelwit was dit ʼn situasie waarop ons nie voorbereid was nie.”

Nóg die regering nóg sy intelligensiedienste het die erns van die saak besef, maar daar word sedertdien hard gewerk om te verseker die regering word nie weer so onverhoeds betrap nie.

ʼn Hoëvlakpaneel het reeds aanbevelings gedoen oor hoe om ʼn herhaling van gebeure te verhoed en daar is reeds begin om vakante poste by die Staatsveiligheidsagentskap te vul. Nuwe regulasies gaan ingestel word om te verseker dat daar koördinering tussen die verskillende intelligensiestrukture is en dat lede van die polisie se eenheid vir openbare orde bykomende opleiding ontvang.

Die polisieminister en die polisie moet ook by die volgende vergadering van die nasionale veiligheidsraad terugvoer oor die status en funksionaliteit van gemeenskapspolisiëringsforums gee.

Ramaphosa het ook aan die MRK gesê hy hoop die verhore oor die oproer help die land om aan te beweeg met vertroue en hoop. Alle Suid-Afrikaners moet hande vat om te verseker die gebeure word nooit herhaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.