Leonie Erasmus help om families te herenig

Leonie Erasmus se passie of families weer bymekaar uit te bring het tot talle suksesverhale gelei. (Foto: Verskaf.)

Deur Yolanda Wessels

Baie aangenome kinders of biologiese ouers wat jare gelede hul baba opgegee het vir aanneming (omdat omstandighede van so ’n aard was dat sy nie die beste vir haar baba kon gee nie), weet nie waar om te begin soek na die aangenome kind of die kind na haar biologiese ouer nie. Daarom is Adopted Child ’n sentrale punt waar mense kan gaan kyk of hul biologiese ouer of aangenome kind dalk na hulle soek.

Mense begin dikwels op Facebook of op die internet soek omdat hulle nie weet waar om aan te klop vir hulp nie, maar die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) bepaal egter dat géén inligting van enige persoon bekend gemaak mag word op die internet of enige sosiale netwerk nie. Dit is ook dikwels die geval dat die biologiese moeder se man en kinders onbewus is daarvan dat sy jare gelede ’n baba opgegee het vir aanneming en wanneer daar verkeerd te werk gegaan word om die moeder op te spoor, kan dit baie groot probleme in haar huwelik veroorsaak wanneer ’n aangenome persoon haar dalk self kontak of ’n persoon wie nie die streng prosedure ken wanneer ’n ma en kind herenig word nie.

Baie aangenome kinders weet ook nie dat hulle aangeneem is nie; die ouer/kind na wie hulle soek kan reeds oorlede wees, of dalk wil of kan hulle weens omstandighede nie kontak maak nie. Soms is die biologiese ouer of kind met ’n persoon van dieselfde geslag getroud en dan moet die een wie soek ook daaroor ingelig en voorberei word of die ouer of kind ly dalk aan depressie en moet eers berading kry voor hulle herenig kan word.

Leonie Erasmus van Adopted Child in Kleinmond beklemtoon die belangrikheid dat die Aannemingswet se reëls streng gevolg word en deur ’n professionele persoon hanteer word wanneer ’n ma en kind ná baie jare na mekaar soek.

Leonie Erasmus het vanaf 1989 vir ’n baie groot maatskappy gewerk waar sy intensiewe opleiding ontvang het oor hoe om ’n persoon op te spoor en hoe om baie sensitiewe inligting vertroulik te hanteer.

“Ek het ’n vrou ontmoet wat by ons dogter se kleuterskool gewerk het wat op soek was na haar vyf broers en susters wat jare gelede in pleegsorg geplaas was omdat hul pa hul ma voor hulle vermoor het. Ek het haar broers en susters opgespoor en kon algemene inligting oor hulle met haar deel, maar sy moes self besluit of sy hulle ’n deel van haar lewe wou maak, wat eers berading vir elkeen sou insluit. Daarna het ek ’n baie goeie vriendin van my en haar suster, wat albei aangeneem is, se biologiese moeders ook vir hulle opgespoor en ná die nodige stappe, ensovoorts gedoen is, het ek hulle later herenig. So het dit bekend geraak dat ek professioneel biologiese ouers en aangenome kinders opspoor en mense het my begin kontak om hulle ook te help om ’n ma of kind op te spoor.”

Op 19 Desember 2010 het Carte Blanche ’n program vir Kersfees uitgesaai waarin hulle berig het oor die werk wat Leonie doen en hulle het met verskeie ma’s en kinders in die program gepraat wat sy al herenig het. Verskeie onderhoude het daarna gevolg wat aanleiding gegee het dat honderde mense met haar in verbinding getree het om te help om hul mense te herenig.

Daar was ook op Via kanaal 147 op DSTV die program met 26 episodes, Waar begin ek soek? waar Leonie ma’s en kinders herenig het.

Leonie vertel dat alhoewel ma en kind biologies aan mekaar verbind is, is hulle totale vreemdelinge vir mekaar.

“Daarom is dit uiters belangrik dat die ma en kind berading ontvang (indien nodig) en emosioneel voorberei word op die regte manier. Die moeder se man en kinders, die aanneemouers en die aangenome persoon betrokke, moet almal voorberei word vir wat om te verwag wanneer ma en kind uiteindelik ná baie jare herenig word. ’n Biologiese ouer of aangenome persoon mag nie mekaar direk kontak nie, daar is baie streng reëls wat in so ’n herenigingsproses gevolg moet word om te verhoed dat mense seerkry of huwelike opgebreek word. Wanneer die regte prosedure gevolg is, is die vreugde baie groot.”

Leonie verwys ook mense na die regte aannemingskantore of die regte persone wanneer ’n biologiese moeder na haar kind soek en dalk nie al die regte besonderhede weet sodat sy gehelp kan word nie.

“Baie mense weet byvoorbeeld glad nie wat hul naam en van voor aanneming was, of wat hul biologiese moeder se naam en van is of selfs wie die aanneming destyds hanteer het nie. Oor die afgelope 31 jaar wat ek mense ná aanneming herenig, kan ek dit nie genoeg beklemtoon hóé belangrik dit is dat die biologiese moeder op die regte manier benader en die streng reëls wat gevolg moet word nie. Ná al die jare weet ek al watter aanneming by watter kantoor gedoen behoort te wees. Alle inligting word streng vertroulik hanteer en dit is net ek wat met elke saak werk. Geen inligting word aan ’n derde party verskaf nie.”

Leonie het onlangs ook die bekende Idols-wenner Karin Kortjé ná 40 jaar met haar biologiese moeder herenig en ’n tyd gelede ook twee susters ná 68 jaar.

Dorothy Steyn en Santie Eloff se ontmoeting is een van Leonie se suksesverhale. (Foto: Verskaf.)

Een so ’n suksesverhaal is van Santie Eloff van Hermanus. Sy het jare na haar biologiese ma, Dorothy Steyn van Bredasdorp, gesoek – sonder enige sukses. Leonie het haar gehelp om haar ma op te spoor. Die dag van 3 September 2009 was een van die wonderlikste dae in haar lewe toe sy haar biologiese ma ontmoet het en uiteindelik die geleentheid gehad het om haar al die vrae te vra waaroor sy al soveel jare wonder.

“Sy het my vertel dat sy my nie wou opgee nie, maar dit weens omstandighede was dat sy die grootste opoffering van haar lewe moes doen. Ek weet dat sy my nooit vergeet het nie, aangesien sy my ‘n blikkie met 33 verjaarsdagkaartjies gegee het, een vir elke jaar wat ons nie saam was nie. Sy het ook in die jaar wat ek 21 geword het aan ‘n wedren deelgeneem, waar sy een kilometer gehardloop vir elke jaar van my lewe.

Dit het my hele lewe verander. Ek het geweet ek was nie ‘n fout waarvan sy wou ontslae raak nie, maar dat ek al die jare in haar hart was. Dit het my soveel selfvertroue gegee, want ek was nie meer die stukkende baba wat weggegooi was nie, ek was iemand wat saak maak. Die ouers wat my grootgemaak het, sal altyd my ma en pa bly, maar om klaring te kry oor waarom jou ma jou opgegee het, maak ‘n groot verskil.”

  • Indien enige persoon soek na ’n ouer of kind is hulle welkom om my te kontak by  www.adoptedchild.co.za of stuur ’n e-pos na  [email protected] of WhatsApp na 076 510 1814 (slegs WhatsApp-boodskappe asb.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.