My man is in die tronk

Foto ter illustrasie. (Foto:
Milada Vigerova/Unsplash.com)

Deur Annelize Steyn

Om te hoor jou man word aangekla van ’n seksuele misdryf, is genoeg om die mat onder enigiemand uit te ruk. Annette*, radio-omroeper en geestelike berader, deel haar storie.

“Hy was anders as die ander kinders wat ek geken het,” vertel Annette. Haar gedagtes dwaal na baie lank gelede toe sy (toe graad 9) en Kobus* (toe graad 12) leerders aan ’n hoërskool in KwaZulu Natal was.

“Ek het later uitgevind hy is anders omdat hy van jongs af die Here dien. Die manier waarop hy dinge hanteer het, het uitgestaan.”

Annette was Kobus se eerste meisie en ’n kysring met twee duifies (op skuld gekoop) het die verbintenis “amptelik” gemaak.

Ná sy weermagdiens is hulle getroud en het hy vir pastoor gaan studeer. Dit was ook hy wat Annette na die Here gelei het en sy het haar kwalifiseer as geestelike berader. Saam het hulle in die bediening gestaan, vuur en vlam vir mense wat seer gehad het.

“Ons het altyd ’n standvastige huwelik gehad. Ons het twee seuns en ses kleinkinders (waarvan een oorlede is). Die lewe gebeur en daar is dood en hartseer, maar deur alles het ons sterk gestaan.”

Verlede jaar was ’n groot jaar. Hulle het hul veertigste huweliksherdenking gevier, maar nié op die manier soos hulle jare lank van gedroom het nie. Nee. Hulle kon wel met mekaar praat, maar daar was glas tussen hulle …

Die dag toe die mat onder ons uitgeruk is

Ná 30 jaar saam in die bediening het iets gebeur waarop die paartjie hulle nooit kon voorberei nie. ’n Vrou in die dorp waar hulle gewoon het, het Kobus aangekla van verkragting.

Dit was vir Annette ’n baie emosionele tyd, maar geestelik het sy nooit gestruikel nie, want dit is in die Here waar sy haar troos gekry het.

“Ek moes hierdie skok verwerk – dit was so radikaal dat dit my diabetes gegee het. Kobus het drie hartaanvalle gekry, waarvan twee amper sy lewe gekos het. Daar was woede, maar ook die ontnugtering. Jy moet aanpas. En die groot vraag: Wat gebeur nou? Dit het dan so goed gegaan in ons bediening en so goed gegaan in ons huwelik. Daar was nooit ’n derde persoon nie. Ons was dan verlief en gelukkig.

“En toe verloor ons ons gesondheid en ons werk en ons gaan deur erge beproewings.”

Dit het ons nader aan mekaar gedryf

Waar die spanning van so ’n voorval baie paartjies uitmekaar sal dryf, het dit hulle nader aan mekaar gebring.

“Ons het baie swaar op mekaar geleun in hierdie tyd,” vertel Annette. Kobus het ’n ander werk gekry en Annette kon haar vryskutwerk as radio-omroeper voortsit.

“Ons het alles verloor. Al ons spaargeld en ons polisse is vir regskostes aangewend. Elke sent wat ons vir ons oudag gespaar het, was weg.”

Behalwe vir die finansiële uitdagings, was daar ook die emosionele uitdagings.

“Die grootste oordeel het vanaf Christene gekom. Kerkmense. Die mense, wat nie gelowiges was nie en wat ek beraad het, het vir ons kos en geld gebring, maar die kerk het sy rug op ons gedraai. Daar was wel ’n handjievol kinders van die Here wat ook ons vriende is en wat ons bygestaan het en steeds doen. Natuurlik ook ons familie en kinders, wat self baie seergekry het in dié proses. Beide ons seuns is onderwysers en die skoolkinders het vrae gevra, want die nuus is landwyd gepubliseer.”

Die dag toe my man tronk toe is

In Oktober 2016 is Kobus gevonnis tot vier jaar tronkstraf (hul prokureur het gewaarsku dat hulle hul moet gereed maak vir ʼn minimum van 15 jaar). Hulle het geappelleer teen die skuldigbevinding en vonnis, maar het nie die fondse gehad om enduit te veg nie.

Op 14 Februarie 2018, op Annette se verjaardag en Valentynsdag, het hulle die dag met ’n romantiese afspraak gevier. Later in Februarie 2018 is hy na die gevangenis.

Annette woon in Durbanville. Sy onthou die emosies van daardie dag toe sy vonnis voltrek is.

“Ek het vooraf vir hom gesê: ‘As die vonnis teen jou draai, hou net jou pose. Behou jou selfrespek, want daar is mense wat genot gaan put uit jou hartseer’.”

Die oomblik toe die regter die vonnis lees, het Kobus en Annette vir mekaar gekyk. Sy het vir hom geglimlag.

“Ons het krag uit mekaar geput met daardie kyk. In my oë kon hy sien ek sê: ‘Staan net sterk’.”

Hulle en die prokureur en vriende het saam gebid alvorens hy na die selle weggelei is om sy vonnis te gaan uitdien.

Die realiteit van ’n eggenoot agter tralies

Wanneer Annette terugkyk na die afgelope twee jaar, voel dit vir haar soos ’n ewigheid.

“Mens is alleen en die eensaamheid vang jou. Jy worstel met so baie dinge wat jy op jou eie moet uitsorteer. Skielik was ek alleen waar ons voorheen, ook in die bediening, alles saam gedoen het. Ons het saam gewerk en die meeste van die goed saam gedoen. En skielik is ons weggeruk van mekaar.”

Die eerste ses maande kon Kobus en Annette mekaar in die gevangenis slegs deur die glasafskorting sien. Kontakbesoeke is nie toegelaat nie. Hul droom was om hul veertigste huweliksherdenking by Madikwe (’n wildreservaat) te vier, maar dinge het heel anders verloop.

Tans bepaal die reëls dat hulle mekaar een keer per week mag bel, waarvan elke telefoonoproep slegs tien minute mag duur. Vier besoeke per maand word toegelaat en elke besoek mag ’n uur duur. Weens finansiële beperkinge kan Annette egter slegs een keer per maand gaan kuier.

Kobus se roeping in die tronk

Aanvanklik was Annette baie bekommerd oor Kobus se veiligheid. Sy het aanhou bid en hy is nog elke dag tot op hede veilig.

“Hy leer ’n heel ander wêreld ken wat hy nie voorheen geken het nie. Hy hoor dinge wat hy nie gedink het bestaan werklik nie. Hy leef tussen geharde misdadigers in ’n wêreld wat ons nie ken nie en hy vertel dat die Here hom ’n nuwe roeping gegee het en hom beskerm om sy geloof daar uit te leef. Hy sien hoe mense hulself bekeer en vry word, selfs al is hulle in die tronk.”

Nou preek hy in die gevangenis en doen berading, vertel Annette. Hy lei misdadigers na die Here toe. Hy dissiplineer en evangeliseer. Hy leer hulle en lei hulle.

Buite die tronkmure gaan die lewe aan

Intussen doen Annette ook berading onder vroue soos sy – vroue wie se mans ’n vonnis uitdien. Wat sê sy vir hulle? Dat hulle hul krag uit die Here en nie uit mense moet put nie – hoewel mense se ondersteuning kosbaar is, is dit net die Here wat jou deur so iets kan dra.

Sy raai die vroue aan om kontak te hou, briewe te skryf en hul lewensmaats in die tronk te besoek.

“Daar is baie mense wat sê dit is vir hulle te moeilik om besoek af te lê in die tronk, maar ek raai hulle aan om dit te doen, want dit is terapie.”

Annette vertel dat egskeidings ná ’n tronkvonnis algemeen is.

“Ongeveer driekwart van die mense skei. Dis aan die orde van die dag. Baie van die vroue weet hul maats is skuldig en besluit dan om hul lewens saam met iemand anders voort te sit. Party mense kry vyftien jaar tronkstraf. Gaan hulle maats hul lewens stopsit vir vyftien jaar? Jy kan nie daardie besluit namens iemand anders neem nie.”

Vandeesmaand is dit “halftyd”. Hulle bly droom daaroor om eendag wel hul huweliksherdenking by Madikwe te vier, selfs al is dit “laat”.

Annette deel haar raad:

  1. Kry ’n sterk ondersteuningstelsel in die vorm van mense en finansies, anders sal jy nie kan oorleef nie. Ek doen vryskutwerk as radio-omroeper, maar ek het ook vriende en familie wat my emosioneel én finansieel ondersteun.
  2. Bly so besig as wat jy kan! Ek leef my uit in my stokperdjies en my kleinkinders. Ek doen berading, en ek bied praatjies aan deur my getuienis te lewer of onderwerpe aan te raak soos kommunikasie of kinderopvoeding.
  3. Moenie te veel dink nie. As jy heeltyd dink oor die situasie waarin jy is, gaan dit jou negatief maak. Jy hét mos selfbeheersing en kan self jou gedagtes bepaal. As ek voel my gedagtes dwaal soontoe, sê ek vir myself: Dit is verby, dis ’n hoofstuk wat afgehandel is.
  4. Jy moet vergewe. Sonder om te vergewe kan jy nie aangaan nie. En dit is moeilik – veral as die mense wat so onregverdig teenoor jou opgetree het, geen berou toon nie. Maar beide ek en Kobus het vergewe – alle persone betrokke.
  5. Jy moet daagliks kontak maak. Ek en Kobus skryf elke dag in briefvorm wat met ons gebeur en wat ons die dag gedoen het. As ek so nege folio’s voltooi het, pos ek dit vir hom en hy doen dieselfde. Ek behou die romantiek met hartjies en parfuum en só dink ons elke dag aan mekaar en “gesels” ons daagliks.
  6. Praat oor jou omstandighede. Ek moes leer om daaroor te praat, want daar is bevryding daarin. Jy mág maar sê hoe jy voel en jy mág maar hulp aanvaar.
  7. Trotseer elke dag. Wanneer ek in die oggende opstaan, maak ek my huis aan die kant, ek trek myself mooi aan en ek wend grimering aan – asof my man in die huis is. So pak ek elke dag aan, in plaas daarvan om verslons rond te loop en myself jammer te kry.
  8. Kry ’n steunpilaar van vlees en bloed. Ek het ’n vriendin van 30 jaar. Wanneer ek voel asof alles te veel raak, bel ek haar en sê ek het haar nodig. Dan gaan drink ons koffie of sy slaap sommer oor. Soms is WhatsApp-ondersteuning nie genoeg nie en het ’n mens behoefte aan ’n méns om by jou te wees.
  9. Wat is “dinge” en hoe swaar weeg dit op die ou end? Dinge is geld. Dit is ’n vonnis teen jou man. Dis alles materieel. Tog, op die ou end bly die mens altyd belangriker as enige ding wat met jou gebeur of wat jy besit. Maar soms raak die seer in ’n situasie só oorweldigend dat jy die mens miskyk. Daarom is dit baie belangrik dat jy altyd die perspektief en die wete behou: Mense is belangriker as dinge.

Indien u op soek is na meer sulke artikels en nie ‘n enkele stukkie raad van Intiem wil mis nie, klik hier en maak seker jy ontvang die weeklikse nuusbrief.

Hierdie artikel is met die vergunning van INTIEM op Maroela Media geplaas. *Skuilname is gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dalro ·

Hierdie beproewing is ‘n geweldige toets vir hulle geloof.
Hulle sal egter hier deur kom juis omdat hulle soos nog altyd in hul lewe in die Here hul krag kry.
Die steun vir mekaar en hul ondersteuningstelsel is hul lewenslyn.
Ek bid vir julle.

VannieBaai ·

Die berig dui nie aan of die man skuldig is nie so wat ek hiér skryf is suiwer my eie mening. Ek kry egter die gade uit my hart uit jammer, maar ek voel geen jammerte vir die man nie. Ek is ‘n slagoffer en my binneste is dood. Ek soek steeds na my siel wat op daardie vreesaanjaende dag van my af weggeneem is, enkele jare gelede. Ek het geen maar geen jammerte in my hart vir enige mens wat ‘n ander mens so te na kom nie. 4 jaar is te min vir wat hy aan sy slagoffer gedoen het. Die slagoffer moet vir die res van haar lewe daarmee saamleef. Sterkte aan jou Annette*. Dit kan nie maklik wees nie. Aan die oortreder – geen gevoel vir jou nie. :( :( :(

Ekke ·

As hy skuldig bevind is is daar seekerlik bewyse dat hy haar wel verkrag het. ek is hartseer om te hoor dat jy dit ook moes deur gaan .

Oujongvrou ·

Hierdie vrou is n beter mens as ek en 90%van vroue hier. Dalk, net dalk sou ek hom nog kon vergewe as hy n affair gehad het , maar verkragting. Nee meneer, jy is gelukkig. Annette ek hoop vir jou part hy gooi dit nie in jou gesig terug nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.