’n Vrou met ’n sagte hand en hart

Deur Elize Perrin

Ivonne (tweede van regs) by van Gentlecare se personeel.

Liefde kom in verskillende verpakkings. By die Gentlecare-sorgsentrum in Britstown kry dit gestalte in omgee. Gentlecare is die geesteskind van Ivonne Gentle, ’n vrou met ’n sagte hand en hart.

’n Roeping

Ivonne moes drie susters aan kanker afstaan. Die verlies het haar passie om na mense om te sien, aangevuur. Lank voor Gentlecare geopen het, was Ivonne reeds by die versorging van siekes betrokke. Ná haar en haar man, Tommie, se verhuising vanaf Gauteng na Britstown, het sy reeds in hul nuwe tuisdorp haar hulp aangebied aan persone wat dit nodig het. Sy het selfs vir ongeveer sewe jaar van huis tot huis gestap om sodanige persone by te staan.

In 2007 is Ivonne se passie omgeskakel in ’n realiteit met die opening van Gentlecare se deure. Genoemde sentrum het met slegs twee beddens begin. Vandag kan dit dertig pasiënte huisves. Ivonne en Tommie het, met die hulp van vriende in Londen, self die fondse voorsien vir die bou van die sentrum.

Gentlecare is ’n niewinsgewende organisasie wat gestremdes, terminaal siek pasiënte, persone met kanker en beroertepasiënte huisves. Die sentrum werk nou saam met Kansa, Hospice, ouetehuise en maatskaplike dienste. Die sorgeenheid se ideaal is om pasiënte te laat aansterk of om hul in liefde te laat heengaan.

“Hierdie mense het nie ’n huis of plek om aan te sterk nie,” vertel Ivonne. “Die behoefte is groot. Ons bly vol.”

Sy verwys ook na die omstandighede in die land waar werkloosheid ’n groot realiteit is.

“Diegene wat nog werk het, moet daarna omsien. Wanneer daar dan ’n pasiënt tuis is, is daar niemand om die pasiënt te versorg nie, tensy iemand tuisbly,” sê sy.

“Wat ek gesien het, is hartverskeurend,” sê Ivonne. “Ek moes net iets doen.”

Alhoewel die projek aanvanklik in Britstown en omgewing afgeskop het, kry Gentlecare tans pasiënte van oor die hele land wat deur hospitale, maatskaplike dienste, die gemeenskap en ook die familie, verwys word.

“Ons is net dankbaar dat ons vir hulle iets kan beteken” sê Ivonne.

Uitdagings en ondersteuning

Een van die slaaplokale.

Soos enige niewinsgewende organisasie moet Ivonne en haar span ook finansieel goed beplan. Gentlecare is van donasies afhanklik om die boeke te laat klop. Donasies is nie noodwendig slegs in die vorm van geld nie, gebruiksartikels is net so welkom.

Ivonne is ’n baie talentvolle, maar beskeie, persoon. Sy het al self ingespring om fondse te genereer deur, onder meer, babapoppe en ’n reeks Karoo-emaljeware te maak en te verkoop. Die sentrum het ook al seep en kaartjies gemaak om geld in te samel.

“Ons ontvang baie ondersteuning van ons gemeenskap, kerke, vriende en familie,” sê sy.

Om versorgingswerk te doen is nie net fisiek nie, maar ook emosioneel uitputtend. Daarmee saam kom ook ’n groot verantwoordelikheid, soos ook nou in die Covid-19-tyd.

“Ons het wel Covid- 19 gevalle gehad,” vertel Ivonne. “Net liefde en gebede het ons daardeur getrek. Niemand kon in-of-uit die sentrum nie. Ons moes baie streng wees.” Ivonne besef dat die virus nog ’n geruime tyd met ons gaan wees. “Ons vat elke dag soos dit kom en lewe vir die oomblik,” sê sy.

Om soveel van jouself te kan gee, moet jy self sterk wees. Ivonne, Tommie en 14 personeellede moet in moeilike omstandighede staande bly. Hulle moes ook gou leer om met die dood saam te leef en dit te verwerk, want dit is deel van die realiteit van hul werk.

“Om elke dag met siek mense te werk, takel jou geestelik af,” sê Ivonne. “Die Vader gee ons elke dag genoeg genade om die dag te maak. Ons het geleer om ons nie oor die dag van môre te bekommer nie.”

Volgens Ivonne speel die gemeenskap, kerke, vriende en familie ook op die gebied ’n belangrike rol.

“Veral ons vriende en familie help ons om objektief en neutraal te probeer bly,” sê sy. “Hulle hou ons arms hoog.”

Pasiënte

Henk Wolmarans.

Ivonne noem dat hulle dikwels met moeilike en hartseer gevalle te doen kry. Elke geval moet sensitief hanteer word.

“Elke pasiënt is vir ons belangrik,” sê sy. “Ons wil hulle nie beskou as net nog iemand nie. Elke geval is uniek en kry spesiale aandag, want almal van hulle is spesiaal.”

Dit is vir Ivonne belangrik dat pasiënte hul menswaardigheid behou, selfs as hul sterf.

“Hulle moet steeds geliefd voel,” sê sy.

Daar is ook baie aan-die-hart-raak-verhale. Nie alle gevalle eindig hartseer nie, daar is ook suksesstories. Daarvan kan Henk Wolmarans getuig. Hy is in ’n vraghouer gevind nadat hy ’n ernstige beroerte gehad het. Aanvanklik is gedink dat hy dood is toe hy gevind is. Henk kon nie loop of praat nie. Met baie liefde en geduld kan hy vandag weer albei doen: loop en praat. Hy beman tans Gentlecare se kombuis.

Beloning

Ivonne het in 2010 die Inyathelo Women in Philanthropy Award ontvang vir die werk wat sy en haar span by Gentlecare doen. Oor die toekenning is sy beskeie.

“Ons is net daar vir die pasiënte en om hulle lief te hê, dis al,” sê sy.

Luister jy na Ivonne wanneer sy oor Gentlecare en die pasiënte gesels, is daardie liefde duidelik hoorbaar. Vir haar is dit meer as ’n werk. Dis ’n leefwyse. Sy en haar span doen dit nie vir enige erkenning of beloning nie.

Ivonne is baie dankbaar dat hulle iets vir die pasiënte kan beteken en dat dit ook in die gemeenskap ’n verskil maak.

“Dis wonderlik om te sien hoe mense ook geleer het om hul harte oop te maak,” sê sy. “Moeder Teresa het gesê: ‘Jy het nog nooit regtig geleef totdat jy iets gedoen het vir iemand wat jou nooit kan terugbetaal nie’.”

Ivonne en haar span leef werklik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Volgens die berig is Ivonne al ‘n klompie jare besig om mense te help en versorg. Daar is baie meer engele op aarde as wat ons van weet. Dankie Ivonne!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Hou so aan, vrou! Die land het mense soos jy nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.