Boereskou in Mauritius

Laeveld Agrochem gaan hul Son-Safari by die luukse Sugar Beach-oord in Mauritius aanbied. (Foto: Verskaf)

ʼn “Eksotiese” landbouskou wat deur Laeveld Agrochem en Agri Technovation beplan word, gaan vanaf 30 April tot 5 Mei 2022 in Mauritius aangebied word.

Die Son-Safari Landbouskou en -konferensie gaan oor ses dae en vyf nagte plaasvind en sal ʼn hele rits besienswaardighede en belewenisse bied, met topsprekers en uitstallings wat die allernuutste tegnologie, produkte, hulpmiddels en toerusting in die landboubedryf ten toon sal stel.

Daar sal natuurlik nie net formeel verkeer word nie en die organiseerders beloof hope vermaak en ontspanningsgeleenthede vir die hele gesin.

Dit sal die derde buitengewone landbouskou wees wat Laeveld Agrochem aanbied. Die eerste twee Seil-Safari’s het in 2018 en 2019 onderskeidelik op die MSC Sinfonia en die MSC Musica plaasgevind waar daar plek op die boot ingeruim is om die hele skou op die water aan te bied.

Huisvesting in die Sugar Beach-oord waar Laeveld Agrochem hulle Son-Safari gaan hou. (Foto: Verskaf)

Hierdie keer sal dieselfde formaat gevolg word, maar net in Mauritius.

Laeveld Agrochem is ʼn ou bekende onder boere en vier vanjaar 30 jaar in die landboubedryf en die Son-Safari vorm deel van hierdie feesviering.

Hulle het gewild en bekend geword met hul treffende advertensies en die Saam boer ons vooruit-slagspreuk wat gereeld op die radio gehoor word. Die gewilde Nisboere-TV-reeks is ook een van hul nuutskeppings.

Laeveld Agrochem het in 1991 begin om ʼn groot verskeidenheid chemiese en biologies geïntegreerde plaagbestryding- en oesbeskermingsoplossings, wat deur plantvoeding ondersteun en deur tegnologie gerugsteun word, aan boere te bied.

Die landbouskou, alle vermaak en verrigtinge gaan by Sugar Beach, ʼn luukse vyfster-vakansieoord, plaasvind. Die oord bied die beste aktiwiteite wat van Mauritius verwag word en is aan die weskus geleë, wat min wind en pragtige sonsondergange beteken.

‘n Sonsondergang waaroor skougangers by Sugar Beach kan uitkyk. (Foto: Verskaf)

Die top-landbousprekers wat die nuutste tegnologie en verwikkelinge in die bedryf gaan bespreek, is Theo Vorster, ʼn bekende landboukenner, en dr. Todd Cardwell, ʼn landbouspesialis van die VSA.

Die Saffraan-nisboer, Bennie Engelbrecht, gaan ook op die eiland wees en boere word aangeraai om met hom te gesels oor hierdie peperduur gewas wat hy tans in Suid-Afrika vestig.

Agri Technovation is vanjaar ook aan boord en bied tegnologiese en presisiedienste soos gespesialiseerde produkte en pasmaak-raad oor verskillende landboupraktyke, kultivars en tegnologiese vooruitgang. Tydens Son-Safari gaan hulle ook gesels oor presisielandboupraktyke.

Ander Son-Safari-vennote sluit die AgriBonus-lojaliteitskema met hul lede, soos Laeveld Agrochem, Agri Technovation, Toyota en Zoetis, in. Daarbenewens is Villa Crop, OUTsurance, Tax Recoveries en vele meer deel van die borgkorps.

 

Boere sal tydens die Son-Safari geleentheid kry om in ‘n gemaklike atmosfeer met verskeie rolspelers in bedryf tyd te bestee. (Foto: Verskaf)

Aan die vermaakkant gaan die Afrikaans is Groot-span die ekspedisie meemaak. Gaste kan hulle dus gereedmaak vir drie aande van puik musiekproduksies met toptreffers, countrymusiek en Afrikaans is Groot-treffers. Die program sluit ook ander vermaak en uitstekende motiveringsprekers in, terwyl daar tussendeur ʼn geleentheid is om met glanspersoonlikhede skouers te skuur.

Gaste sal nie sommer weer in hul lewe die kans kry om met 12 van Suid-Afrika se topkunstenaars ʼn eiland te deel, saam te kuier, te eet en te swem nie – met meer as genoeg tyd en kanse vir pragfoto’s van dié belewenis.

As deel van die Son Safari-skou gaan daar heerlik gekuier word met vyfsterontspanningsgeriewe. (Foto: Verskaf)

Dit is ook die ideale geleentheid vir boere om ʼn hele vakansieoord met mense te deel wat in hul eie taal in ʼn ander land kuier en idees met mekaar kan uitruil. Dit is jou kans om deur ander suksesvolle boere met dieselfde uitdagings, vrae en drome as jy geïnspireer te word.

Pakkette begin vanaf R22 600 per persoon wat deel en sluit hope ekstras in. Kinders onder 18 jaar kwalifiseer vir verlaagde tariewe en kinders onder ses jaar se verblyfkoste is minimaal. Dit sluit onder meer vyfster-verblyf en ʼn allesinsluitende pakket in.

Retoer-vervoer vanaf die lughawe na die oord, ʼn allesinsluitende pakket vir etes, drankies, die meeste watersport en uitstappies, onbeperkte gholf by twee verskillende bane, ʼn binnenshuise gimnasium en meer is ingesluit. Daar is geen verskuilde koste nie.

Een van die gholfbane in die Sugar Beach-omgewing in Mauritius. (Foto: Verskaf)

Boere kan ook met hul AgriBonus-punte vir die skou betaal. AgriBonus is ʼn landbou-lojaliteitskema wat aan boere punte bied vir die aankoop van verskeie produkte en dienste. AgriBonus-punte kan vir die volle of gedeeltelike betaling gebruik word. Kliënte moet AgriBonus direk nader vir meer inligting. Spesiale geleenthede is ook beskikbaar om ekstra lojaliteitspunte te verdien. Besoek sy webwerf vir ʼn volledige lys van waar en hoe om punte te verdien.

Ander vennote, soos OUTsurance en Tax Recoveries, bied ook punte wat vir betaling gebruik kan word.

Die datum is onderhewig aan Mauritius en Suid-Afrika se Covid-19-regulasies. In dié stadium word vereis dat gaste (ouer as 18 jaar) wat saam reis, teen Covid-19 ingeënt moet wees. Alle gaste, kinders ingesluit, moet ook ʼn geldige dokument vir ʼn negatiewe Covid-19-toets verskaf, wat binne 72 uur vanaf hul aankoms in Mauritius gedoen is.

Besprekings open op 14 September 2021 en kan aanlyn op die webwerf, of telefonies by 060 458 8483 of per e-pos by [email protected] gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.