Toplandbousprekers by Mauritius-skou

‘n Landbouskou op ‘n eksotiese eiland is iets om na uit te sien. (Foto: Facebook)

’n Oorvloed van nuttige inligting gaan ’n belangrike deel van Laeveld Agrochem se Son-Safari-landbouskou uitmaak, wat volgende jaar by die Sugar Beach-vakansieoord in Mauritius aangebied word.

Dié eksotiese spoggeleentheid, wat ook heelwat ontspanning belowe, vind van 30 April tot 5 Mei plaas.

Benewens die jongste inligting oor alles van boerwees, kan skougangers ook ’n blaaskans saam met vriende en familie geniet.

Die Sugar Beach-vakansieoord word as een van die bestes op dié eiland gereken. (Foto: Facebook)

Die skou bied vyfsterverblyf, ’n drankiepakket wat alles insluit behalwe premium drank, musiekproduksies, motiveringsprekers, gesinsvermaak, asook die geleentheid om met glanspersoonlikhede te skakel.

 

Landbousprekers en uitstallings

Toplandbousprekers en maatskappye gaan sessies aanbied, met uitstallings oor die jongste nuutskeppings, hulpmiddels en toerusting in die bedryf. Daar sal baie netwerkgeleentheid wees, asook kans om vrae te vra en persoonlike gesprekke met kenners te voer.

 

Vermaak en motiveringsprekers

Die program sluit ook heelwat vermaak in. Uitstekende motiveringsprekers, soos Lynette Beer, gaan haar insigte deel, terwyl daar tussendeur ’n geleentheid is om met glanspersoonlikhede soos Victor Matfield skouers te skuur.

Puik musiekproduksies deur die Afrikaans is Groot-span is deel van die vermaakspyskaart. Hulle bestaan uit 13 kunstenaars, naamlik Appel, Corlea Botha, Bok van Blerk, Demi Lee Moore, Elvis Blue, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Riana Nel, Jo Black, Monique Steyn, Ruhan du Toit, Liezel Pieters en Jay du Plessis.

Die sterre wat tydens die Son-Safari landbouskou vir die vermaak gaan sorg. (Foto: Facebook)

Sprekers en temas

  • Todd Cardwell is ’n landboukundige uit Amerika. Hy is ’n kenner van spuittegnologie en hoe om dit reg toe te pas.
  • Erik de Vries is die direkteur van Agri Technovation. Hy is ’n topkenner van die allernuutste landboutegnologie, presisieboerdery en die voordele wat dit vir elke produsent kan inhou.
  • D’Wall Hauptfleisch is ’n veearts en plaasbestuurkenner. Hy bied inligting en kundigheid oor biosekerheid aan.
  • André Fox is die uitvoerende hoof van Madumbi Sustainable Agriculture. Hy gaan fokus op biologiese produkte, neigings in die mark, chemiese produkte en die behoefte aan verandering.
  • Ernst de Beer van Laeveld Agrochem het ’n uitgebreide kennis van gewasbeskerming en programme vir geïntegreerde plaagbestuur. As kenner van sitrusplaagmonitering is hy medeskrywer van die Laeveld Scout-sitrusgids.
  • Theo Vorster is ’n kenner van landbousake en die Suid-Afrikaanse ekonomie. Theo gaan ’n paneelbespreking lei wat onderwerpe dek soos grond- en waterregte, die bestuur van ’n familieboerdery, buitelandse diversifikasie, kredietaansoeke en die toekoms van landbou in Suid-Afrika.
  • Ruben Richards is ’n sitrusboer en nuutverkose burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit in die Wes-Kaap. Hy gaan saam met Vorster aan besprekings deelneem oor die pad vorentoe, asook scenario-besprekings oor Suid-Afrika.
  • George Robertson is ’n regskenner en gaan in besprekings saam met Vorster fokus op grond- en waterregte, die regte van familieboere en prosedures vir kredietaansoeke en buitelandse diversifikasie.
  • Roelf van der Merwe is ook ’n regskenner. Hy gaan in besprekings saam met Vorster gesels oor grond- en waterregte.
  • Athol Trolip fasiliteer kleinboer-ontwikkeling. Hy gaan gesels oor die vooruitsigte van die landbou in Suid-Afrika en hoe om in Suid-Afrika vooruit te boer.
  • Bennie Engelbrecht bied kennis oor saffraanverbouing, opsies vir diversifikasie en hoe om ’n proeflopie met saffraan op jou plaas te doen.
  • Kobus Hurter gaan vertel van kleinboerontwikkeling met beginnerpakkette, opleiding en ondersteuning in Suider-Afrika, met geleenthede waar produsente betrokke kan raak.

Daar gaan ook op eiendomme en beleggings gekonsentreer word waartydens inligting en agtergrond oor eiendom en beleggings in Mauritius gegee sal word.

Kom luister na hierdie toplandboukenners en aanbiedings oor die jongste verwikkelinge in die landboubedryf.

Navrae en besprekings kan deur middel van www.sonsafari.co.za of by 060 458 8483 gedoen word.

Kyk hier na ‘n onderhoud met Corné Liebenberg, hoofbemarkingsbeampte van Laeveld Agrochem, oor die Son-Safari landbouskou:

Son-Safari Landbouskou in Mauritius

Corné Liebenberg gesels oor Son-Safari Landbouskou tydens die program Besigheid wat saak maak.#SonSafari is 'n belegging in jou toekoms! Landbou-ekonome, tegniese landboukundiges en mentors op plaasvlak gaan landbouprodusente toerus met kennis sodat ons SAAM vooruit kan boer.Die #SonSafari Landbouskou word aangebied vanaf 30 April tot 5 Mei 2022 by Sugar Beach, A Sun Resort, Mauritius, deur Laeveld Agrochem en ons #AgTech vennoot, Agri Technovation SA.

Posted by Son-Safari Landbouskou on Friday, October 22, 2021

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.