Formidabele sportuitsaaier se stem nou stil

Die gesoute radioman Gerhard Roux het later ‘n huisvriend van die skrywer geword. Foto: Verskaf.

Deur Annami Simon

Ek is Donderdagoggend uit Durbanville Wellington toe. Hierdie slag nie om vir die legendariese Gerhard Roux in die Silwerkruin-aftreeoord te gaan kuier nie, maar om die gedenkdiens van ’n geliefde vriend by te woon.

Dié veteraanuitsaaier is Vrydagnag in sy slaap oorlede. Hy was 95.

Toe ek Gerhard die eerste keer ontmoet het, was ek ’n skrale 20 jaar oud en hy reeds ʼn sportkommentator van formaat. Daar was dié middag ’n Curriebeker-wedstryd op die Bolandrugbystadion. Ek het die man met die mooi stem daardie dag “Oom” genoem.

Dit was eers weer in 2009 dat ons paaie vir die tweede keer gekruis het. Ek was dié oggend in die biblioteek van Villa Cortona-aftreeoord toe ek ’n vaagweg bekende stem hoor – onmiskenbaar dié van ’n gesoute radioman. En onmiskenbaar die diep, meevoerende stem van Gerhard Roux.

Gerhard is op 17 Desember 1924 op ’n plaas naby Viljoenskroon in die “Groot Vrystaat” gebore. Tydens sy studentejare in Stellenbosch het hy die heel eerste redakteur van die studentekoerant, Die Matie, geword.

Hy het op 21 (so oud soos ek toe ek hom nog “Oom” genoem het) sy uitsaailoopbaan by die SAUK in Kaapstad begin – ’n liefde wat hy volgehou het tot op 90-jarige ouderdom toe hy nog steeds krieketverslae uit sy kamer in Silwerkruin vir radiostasies uitgesaai het. Ek onthou so duidelik toe hy my met komiese gebare vertel het hoe hy reeds as tjokkertjie sport begin “uitsaai” het van die kleinhuisie (op hul plaas) se dak.

Gerhard Roux, die man wat skares na atletiekbyeenkomste op Coetzenburg getrek het, langs Diana Decker, voormalige Britse aktrise, sanger en TV-persoonlikheid. Foto: Verskaf.

In 1951 het Gerhard sy eerste krieketwedstryd in Port Elizabeth uitgesaai. Hy was waarskynlik die oudste Afrikaanse uitsaaier in die land.

In dieselfde jaar het hy die SAUK se eerste oorsese radiouitsending van Robbeneiland af gedoen. Kort hierna het Gerhard by Pieter de Waal oorgeneem as aanbieder van Vrolikheid in die Koffiehuis in die kelderverdieping van die Groote Kerk in Kaapstad. Hier het hy en Pieter van der Byl saam ’n uitgebreide skakelteks geskryf – ’n vennootskap wat in 1954 sou uitloop op die ewe gewilde LM-radioprogram Caltex-kaskenades. (Lees meer oor hierdie geskiedkundige gebeurtenis op Maroela Media.)

In die jare sestig begin hy as uitsaaier by die destydse Suidwes-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SWAUK) in Windhoek en word later hoof van die Afrikaanse, Engelse en Duitse radiodiens. Gedurende Suidwes-Afrika se oorgang na onafhanklikheid is hy die amptelike mediaverteenwoordiger vir Louis Pienaar, die laaste administrateur-generaal van Suidwes-Afrika. Dr. Riaan Eksteen, Suid-Afrika se eerste ambassadeur in Namibië, het in daardie jare nou met hom saamgewerk.

Tydens 1971 se Kaap-na-Rio-seiljagwedvaart (die heel eerste wedvaart) en die daaropvolgende een in 1973, was Gerhard lid van die Suid-Afrikaanse Seiljagvereniging se reëlingskomitees asook van die gesamentlike Wedvaartkomitees in Rio de Janeiro. Tydens hierdie twee wedvaarte het hy as mediaskakel opgetree en die wedvaartverslae vir radiodienste uitgesaai. In 1971 was dr. Anton Rupert (vir wie Gerhard later skakelbeampte was) die borg. (Lees meer van dié interessante wedvaart by Ses vroue en die diep blou see op Maroela Media.)

Foto: Verskaf.

In 2011 verhuis Gerhard na die Silwerkruin-aftreeoord in Wellington om nader aan sy twee dogters (Marianne en Lucette) en kleinkinders te wees.

In Silwerkruin was hy nie net bemind nie, maar het hy ook sy liefde vir musiek met die inwoners gedeel en ’n weeklikse musiekprogram aangebied. Terloops, Gerhard het in sy vroeër jare by die SAUK gereeld op ’n Sondagaand die simfoniekonserte vanuit die Kaapse stadsaal uitgesaai. Hyself het ’n pragtige tenoorstem gehad en het graag gesing. Soms, as hy nie die lirieke kon onthou nie, het hy sy eie woorde opgemaak – tot groot vermaak van dié wat luister.

Behalwe sy groot liefde vir sport, was hy ook ’n uiters belese man en het nie net die koerantnuus verslind nie, maar was lief vir die letterkunde en het ’n suiwer Afrikaans gepraat.

Maar dit is nie al nie…

In Oktober 2018 bied Silwerkruin ’n modeparade vir die inwoners aan. Die 94-jarige Gerhard neem deel en word as Mnr. Silwerkruin gekroon.

My hart was vandag baie seer. Tog, as my eie pad nie draaie geloop het nie, sou ek nie die voorreg gehad het om Gerhard Roux te leer ken nie. Dit voel gepas om ’n gedeelte uit die gedig “Generaal De Wet” van Jan F. Celliers aan te haal:

Stil, broers,
daar gaan ‘n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy…

Gerhard Roux word oorleef deur sy twee dogters, agt kleinkinders en 18 agterkleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.