Ses vroue en die diep blou see

kaap-na-rio-71-voorblad

Die voorblad van ‘n tweetalige gedenkboek oor die eerste Kaap na Rio seiljagwedvaart in 1971. Foto: Verskaf.

Deur Annami Simon

“Kom jy kuier?” is Gerhard Roux[1] se eerste woorde nadat ons oor en weer na mekaar se welstand verneem het. Ek hoor die een of ander sportkanaal in die agtergrond.

“Nee, ongelukkig nie. Maar wat kan jy my vertel van die Kaap na Rio van 1971?”

Die aanvanklike teleurstelling in sy stem verander gou. “Wil jy weet van die Sprinter? Kyk, dáái is ʼn lekker storie!” Hy lag en ek voel nie meer so sleg oor die kuiertjie wat uitgestel moet word nie.

“Ja, maar laat ons begin by die begin.”

Hy maak keel skoon en ek hoor hoe draai hy sy TV sagter. Ná ʼn paar skuifelgeluide weet ek hy het sy rolstoel voor die venster staangemaak. Hy is nie ʼn man vir afkyk grond toe of om na outehuismure te sit en staar nie.

“Kyk, jy weet mos die Kaap na Rio-seiljagvaart is uniek. Dit verbind twee vastelande aan mekaar en is ook die langste transatlantiese seiljagwedvaart in die Suidelike Halfrond[2].”

Ek skrap of tik hier en daar ʼn woord of twee by die navorsing wat ek reeds gedoen het.

“Weet jy, dit was eintlik ná Bruce Dalling se alleenvaart in 1968 aan boord van die Voortrekker, dat admiraal Hugo Bierman (toe voorsitter van die Springbok Ocean Racing Trust) voorgestel het dat Suid-Afrika ʼn seiljagwedren van sy eie begin. Dr. Anton Rupert het dit nog geborg.

kaap-na-rio-71

Die seiljagte spring weg met Tafelberg in Kaapstad op die agtergrond op 16 Januarie 1971. Foto: Verskaf.

“Op 16 Januarie, dis nou in 1971, het die heel eerste Kaap na Rio-seiljagvaart amptelik begin. Altesaam 59[3] deelnemers het uit die Kaapse hawe dié dag weggespring, seile in die wind.[4]

“Nou hoe begin so ʼn wedvaart? Met ʼn vlag?”

“Nee, met ʼn skoot. Ek kan nog goed onthou hoe oudminister John Vorster aan boord van die aanvullingskip SAS Tafelberg, wat as begeleidingskip spesiaal van Muizenberg af gebring is, die skoot afgevuur het.

“O, ja, die bemanning van die 59 seiljagte was altesaam 421, waarvan 21 vroue was. Snaaks hoe ʼn mens dié goed onthou.”

Ek hoor ’n geklop aan sy kant. “Wag net so ʼn bietjie, ek dink hulle bring vir my tee.” Ek hoor teegoed en hoe daar eers alkant toe gesels en uitgevra word. Ek tik solank ʼn sin of twee by.

“Waar was ons?”

“By die vroue.”

“O, ja! Dís mos die eintlike storie!” Hy klink ondeund.

“Nou kyk, jy weet die seiljagte is reeds in Januarie weg. Die 16de. Maar toe is dit al vroeg Februarie. Die wenners was reeds beslis, maar enkeles, soos die kleiner en stadiger jagte, moes nog verby die eiland-eindpunt, sowat tien seemyl buite Rio de Janeiro.

“In die seiljagklub van Botofago-baai, waar ek toe ook sit[5], word die posisie van al die laatkommers aangedui, óf per radio óf soos berig deur ʼn ander deelnemer of verbygaande vaartuig.

“Maar daar was een uitsondering: Die Sprinter, met net vroue aan boord, is toe reeds drie dae stil. Ons raak bekommerd.” Hy proeslag. “Geen vrou kan mos vir só lank stil wees nie!” Ek raak ook aan die lag.

“Nee, maar ons was regtig bekommerd, weet jy. Is hul radio dalk buite werking? Het hulle teëspoed opgetel? Gelukkig stel die Brasilaanse komiteelede ons toe gerus – ʼn lugmagvliegtuig is besig om te soek.

“Jong, nou sit en luister ons almal aandagtig. Die krakerige radioverbinding tussen die vliegtuig en die radio-operateur word kort-kort onderbreek deur ʼn gepratery in Portugees. Ons Suid-Afrikaners verlaat ons maar op die reaksie van die plaaslike komiteelede – die skud van die koppe … lyftaal….

“Af en toe word ʼn vaartuig raakgesien op vlughoogte, maar dan sê die Portugese net, ‘nada’. Dis telkens ’n ander seiljag of net ʼn reeks branders wat breek in ʼn wit kol skuim.

“Nou, die vlieëniers weet hulle mag nie te laag vlieg nie. So tweeduisend voet bied die beste soekuitsig.

Opgewondenheid op die kaai. Foto: Verskaf.

“Toe sien hulle iets. Ons word ingelig in Portugees en met handgebare: die loods duik, en vlieg toe laag oor die seiljag. En meteens verstaan ons Portugees: ‘Positivo! Positivo! Señoritas!’

“Ons kyk na die ander: duime in die lug, hulle is gevind! Die vliegtuig gooi ʼn wye draai en vlieg toe stadig en laag verby, byna teen staaksnelheid. ʼn Paar vroue lê lui uitgestrek op die dek, almal in Evasgewaad. Daar’s ʼn wilde gegryp na handdoeke terwyl die ses bruingebrande Evas juig en wuif. Kyk, dit moes ʼn prentjie gewees het!” Gerhard lag so, sy woorde raak skoon weg. Ek kan my die petalje voorstel.

“Later sou ons hoor van die teleurstelling, maar ook vrese toe die Sprinter se radio onklaar geraak het en hulle vir amper drie dae in ʼn byna volkome windstilte nie kon vorder nie; hoe hulle maar gesonbaai en op daardie bepaalde dag besluit het om selfs die skamele bikini’s uit te trek. En vir die twee bemanningslede van die vliegtuig die ervaring van ’n leeftyd gee… Ai, was ek ook maar in daai vliegtuig!” Gerhard lag uit sy maag.

Gelukkig is daar nog ʼn stertjie aan die storie.

“Die volgende dag stoot ʼn ligte windjie die Sprinter stadigaan nader aan die eiland-eindpunt – die seile bol weer. ʼn Dag of twee later vaar ’n vloot seiljagte en plesierbote uit Botofago-baai die Sprinter tegemoet – natuurlik met luide toejuiging en groot lawaai. Jy kan dink, toe hulle uiteindelik vasmeer, was die kaai volgepak met honderde opgewonde ondersteuners, gesinslede en nuuskieriges.

Molly en Ken Warr. Foto: Verskaf.

“En wat vir my so mooi was, weet jy, is toe Ken Warr (ek dink met die Albatros 11, die voorgee-wenner) die Sprinter[6] op sleeptou die seiljagklub se hawe inneem, met sy vrou, Molly[7] (die Sprinter se skipper), aan die stuur.

Ja, en die Sprinter, wat toe 44ste aangekom het, is met ʼn kanonsaluut van drie skote verwelkom. Hulle was nie betyds vir die prysuitdeling nie, maar die seiljagklub se bestuurslede het ʼn spesiale okkasie gereël om hul dapperheid en veilige aankoms te vier.

“Daar was darem tyd vir die Rio-karnaval. Weet jy, hulle het die hele Avenida Rio Branco, ʼn groot hoofstraat in Rio de Janeiro, spesiaal vir die karnaval gesluit. Mag, maar het ons gedáns! Van tienuur die aand tot sonsopkoms die volgende oggend. ʼn Mens kan dit nie regtig beskryf nie – op elke tweede straathoek was daar ʼn samba-orkes. Maar ons Suid-Afrikaners was so bang ons verloor mekaar, ons het al om die tweede uur op ʼn sekere plek ontmoet.

“Nee kyk, sulke gebeurtenisse vergeet ʼn mens nie.” Hy word stil.

Ek is traag om te groet en vra of ek die week voor Kersfees kan kom kuier.

“Positivo, señorita, positivo!”

kaap-na-rio-71-poskaart

’n Gedenkposkaart van die eerste transatlantiese seiljagwedvaart tussen Kaapstad en Rio de Janeiro. Foto: Verskaf.

Voetnotas:

[1] Gerhard Roux was lid van die Suid-Afrikaanse Seiljagvereniging se reëlingskomitees van die 1971 en l973 Kaap na Rio-wedvaarte, asook van die Gesamentlike Wedvaartkomitees in Rio.

[2] Die totale lengte van dié wedvaart is ongeveer 5 800 km (3 600 myl) oor die Atlantiese Oseaan.

[3] Daar was aanvanklik 69 inskrywings van oor die hele wêreld heen. Tien het egter onttrek.

[4] Uit die 59 deelnemers was 33 Suid-Afrikaanse seiljagte. Die seiljagte is in drie klasse verdeel met pryse vir elke klas.

[5] Gerhard Roux het tydens die Kaap na Rio-wedvaart as mediaskakel opgetree en verslag gedoen vir radiodienste. (Tydens die 1976-wedvaart het hy uitsluitlik die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK verteenwoordig.)

[6] Die Albatros II is in Knysna deur die Thesens-maatskappy (Thesens & Co.) gebou. Die Thesens-familie was reeds in die laat 1800’s in die skeepsbou- en houtbedryf.

[7] Molly was die eerste SA vrou wat die skipper van ’n seiljag in die Rio-vaart in 1971 was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Elke woord in hierdie artikel is so perfek in plek! Lekker gelees en lekker gelag! Ons kort meer van die soort stories!

B ·

JA ja en nogmaals ja, ons moet lees oor hierdie tipe geskiedenis, dankie! :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.