Omroeper roep RSG vaarwel; Pta FM wink

Esté Gross (Foto: Xander van den Berg)

Luisteraars sal nie meer na die bekende omroeper en rubriekskrywer Esté Gross op RSG kan luister nie, maar nou wel op Pretoria FM.

Gross sluit ná ’n loopbaan van nege jaar by RSG binnekort by dié Pretoriase radiostasie se uitsaaispan aan.

Gross het vanoggend (Sondag) die laaste uitsending van haar klassiekemusiekprogram Oggendstemming op RSG aangebied en sal reeds volgende Sondag op Pretoria FM se klankgolwe gehoor kan word.

Gross sal vanaf 3 April Pretoria FM se Sondagoggendskof vanaf 08:00 tot 13:00 behartig. Sy sal ook vanaf Maandag 4 April die gewilde aktualiteitsprogram Klankkoerant-Laatmiddag aanbied.

Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM, sê Gross se aanstelling is ’n belangrike mylpaal op dié gewilde radiostasie se pad om die visie van ʼn wêreldwye, voortreflike radiostem in Afrikaans te wees.

“Terwyl ons mededingers ’n agteruitgang in belangstelling in hulle nuus- en aktualiteitprogramme beleef, ervaar Pretoria FM die teenoorgestelde. Die leser- en kykerstal van ons aanlyn nuusberigte en visuele nuusuitsendings groei deurlopend. Verder is die lig-klassieke en gewyde aanslag van ons Sondagprogramme uiters gewild onder radioluisteraars nie net plaaslik nie, maar ook wêreldwyd op die internet.

(Foto: Verskaf)

“Ons glo Gross se aansluiting by ons span gaan juis daardie vraag verder bevredig, omdat sy aanvullend tot haar fyn aanvoeling vir die lig-klassieke musiekgenre, boonop ʼn jonger stem verteenwoordig.”

Gross sê sy is opgewonde oor die pad vorentoe.

“2022 is ’n opwindende jaar vir Pretoria FM en dit is vir my ’n voorreg om deel te word van die span.”

Gross se uitsaailoopbaan het in 2013 afgeskop toe sy as intern by RSG ingestap het. Hier het sy sedert 2014 as nuusleser, kontinuïteitsaanbieder en programsamesteller vir RSG gewerk. Sy is ook ʼn tweeweeklikse rubriekskrywer en het onlangs haar tweede enkelsnit “Hemelruim” uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alfred E Neuman ·

Wie luister nog na die twak wat hulle op rsg uitsaai?

Pieter9 ·

Baie bly om te sien Este gaan Pta FM toe, ook my voorkeur radio-stasie; nou moet hulle net hul swak opvangs op 96.6 probeer uitsorteer. In die Noorde van die land is 96.6 die swakste opvangs – en dit in ‘n gebied waar Pta FM groot mark aandeel potensiaal het. Ons kla nou al jare hieroor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.