Britse monargie: Die diamant-debat

Daniël Lötter (Foto: Facebook)

Luister hierbo na die skrywer se klankweergawe van die artikel of lees dit hieronder. 

Ek vind dit erg ironies en ietwat vermaaklik dat die dood van ʼn 96-jarige ou dame in Brittanje reggekry het wat niks anders nog kon laat gebeur nie – die ver-linkses en die ver-regses van die politieke spektrum in Suid-Afrika is nou beste maats oor die kwessie van die diamant.

Wat ek steurend vind is dat die Afrikaanse media, by name Die Burger, vir hulle ʼn platform gee, want die lawaai oor die diamant is eintlik ʼn verleentheid vir die land. Dit bewys nie alleen ʼn geweldige gebrek aan basiese goeie maniere nie, maar ʼn emosioneel onvolwasse, irrasionele interpretasie en skokkende onkunde van die historiese feite.

Die plaas waarop die Cullinan-myn staan is in 1898 deur Tom Cullinan gekoop van die dogter van oubaas Prinsloo. Toe die Cullinan-diamant in Januarie 1905 ontdek is deur ʼn kêrel met die naam Wells, was dit derhalwe wettig die myneienaars se besitting. Dit het nie aan Suid-Afrika behoort nie, want Suid-Afrika as land het nog nie bestaan nie. Die diamant is te koop aangebied en daar was nie belangstelling nie.

Die ou Transvaalse republiek was teen hierdie tyd gedeeltelik selfregerend met die Britse koning as staatshoof en generaal Louis Botha as eerste minister. Op 17 Oktober 1907 koop die Transvaalse regering die diamant by Cullinan vir 150 000 pond.

So tong-in-die-kies moet ons byvoeg dat daar in 1907 nog nie ʼn ding soos inkomstebelasting bestaan het nie. Die Transvaalse staatskas se inkomste was uit toltariewe, verhuring van staatsgrond ensovoorts. Maar die grootste inkomste was die kompensasiegelde wat betaal is deur Campbell-Bannerman se Liberale Party-regering om die oorlogskade te probeer verlig. Louis Botha het dus vir die Britse koning ʼn verjaardagpresent gekoop met Britse geld!

Die Vrystaat, Kaap en Natal het nie besitreg oor daardie steen gehad nie. Op 9 November 1907 gee die Transvaalse regering die diamant as geskenk aan koning Edward VII vir sy 66ste verjaardag.

Die steen word in Amsterdam deur Ascher gesny en geslyp. Dit neem meer as 3 jaar. Daar bly, naas Cullinan I en II, sewe groot stene en meer as 100 kleintjies oor. Die grootste, Cullinan I, word gemonteer in die Ryksepter van die koning en die tweede grootste, Cullinan II, word gemonteer in die Imperial State Crown. Die res word verkoop om die koste van die werk te dek.

Suid-Afrika, wat ondertussen besig is om ʼn Unie te vorm, koop ses van die stene van Ascher terug, die 9de is bekend as Cullinan 4. Cullinan 4 word opnuut by ou Ascher gekoop deur koning Edward vir sy vrou, koningin Alexandra.

Op 28 June 1910 skenk die Unie van Suid-Afrika die 6 stene opnuut aan die Britse vors – hierdie keer die nuut gekroonde koning George V, wat dit in ʼn halssnoer vir koningin Mary laat monteer. Dié halssnoer het sy graag gedra. Koningin Elizabeth erf dit van haar ouma, maar sy sou dit nooit dra nie, omdat “die swaar ding gedurig in die sop gehang het”, volgens haar.

Wat is die realiteit dus? Die diamante was by 2 geleenthede (1907 en 1910) geskenke aan die Britse vors. En ongelukkig vra jy nie ʼn geskenk terug nie. Dis liederlike maniere.

Die tragedie daarvan is dat die mense wat nou die hardste raas ook die eerste is om die geskiedenis vir hulle eie oortuiging te misbruik.

Aan die een kant eis ʼn vrou van Bisho dat die diamante teruggegee word omdat koningin Elizabeth self slaweskepe gestuur het om mense uit Suid-Afrika te onderwerp.

Aan die ander kant raak ʼn oom van Pretoria verskriklik kwaad en eis dat die diamant teruggestuur word omdat koningin Elizabeth “self en persoonlik openlik die konsentrasiekampe kom besoek het”.

Albei kommentare gister op die sosiale media.

Ek het begrip daarvoor dat ʼn mens soms emosioneel raak oor hierdie land se dikwels tragiese en hartseer geskiedenis, maar liewe magtig, as jy emosioneel wil raak, doen ten minste die moeite om jou tydlyne en feite te ken voordat jy jouself in die verleentheid stel.

Die skenking van die diamant was al klaar emosioneel. Die wonde van die oorlog was nog rou. Maar dit het gebeur en niks kan daaraan verander nie. Die diamant is nie gesteel nie en dit is die harde, ongelukkige werklikheid. Dit is weggegee. Vandag is dit in die Toring van Londen waar enigiemand dit kan besoek en besigtig. Ek het, in Mei van 2006, en dit was ʼn wonderlike belewenis. Dit sal ook te siene wees wanneer die septer en kroon op Elizabeth II se kis sal lê tydens haar staatsbegrafnis aanstaande week.

Oor die feit dat dit in die Toring bewaak word, is ek persoonlik innig dankbaar. Ek is bereid om my kop op ʼn blok te sit daarvoor dat as dit moes terugkom na Suid-Afrika, dit binne ʼn paar weke wel gesteel sou word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Lötter

Daniël Lötter is ‘n boorling van die Bo-Karoo, navorser, opvoedkundige en skrywer van historiese nie-fiksie. Hy is betrokke in die Hoër Onderwys, in besonder in die veld van vaardigheidontwikkeling en het ‘n passie vir die bewaring van kulturele erfenis en die optekening van die geskiedenis.

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Human ·

Dit is hoe sommige Suid-Afrikaners en Afrikaners reageer deur “moaners and groaners” te wees, want inbors en karakter is nie ‘n eienskap wat uitgedeel kan word.

Anel ·

Ek stem saam. Ek het as kind, in die begin 70 jare, ook die voorreg gehad om die kroon juwele te besigtig. En kyk, daardie tyd al was dit baie goed bewaak. Pleks is ons trots daarop dat dit so vertoon word, in ‘n kroon en septer. Wat wil die mense in elke geval daarmee maak as wie ook al dit terug wil hê? Soos jy sê, dit was ‘n geskenk en dit lyk baie mooi waar dit is.

Adriaan ·

Die probleem is nie die paar diamante in die Britse kroon nie. Dit is maar ‘n paar muisdruppels in die see. Die probleem le by die tonne diamante wat deur die Oppenheimers na England gekanaliseer was. Die groot gat in Kimberley het alleen 3 ton diamante opgelewer. Al ons diamante is in die ru vorm na Switserse kluise gevlieg en sonder dat dit Britse bodem geraak het as ‘n Britse bate herwaardeer met belasting aan England, nadat dit deur de Beers in Kimberley so laag as Suid Afrikaanse bate waardeer was dat Suid Afrika by voorbeeld gedurende 1980 slegs R2miljoen aan belasting ontvang het. Dan is dit sonder dat dit Israel se bodem raak na Japan gevlieg om deur Japanese vrouens geslyp te word en as ‘n Israel se bate wereldwyd verkoop te word.
Wat sou die posisie van Suid Afrika nie vandag wees indien Suid Afrikaanse vrouens opgelei was om ons diamante plaaslik te slyp en as ‘n Suid Afrikaanse bate verkoop was nie. Waarom moes Japanese vroue opgelei word om dit te slyp ?

Adriaan ·

Die Skepper het in Suid Afrika se bodem die rykste skatte ter wereld geberg. Wat was die geldwaarde wat Suid Afrika daarvoor ontvang het? Ons diamante en goud pryk vandag aan die vingers en aan borspelde en kettings oor die wereld heen . Al wat ons daarvoor kan wys is lee mynhope wat ons aarde ontsier terwyl England wegloop met die buit. Ons mense kon darem die ontginningwerk vir die Oppenheimers teen betaling verrig. Selfs die diamante van Alexanderbaai wat aan die Staat behoort het was aan England teen minimale waarde verkoop. Ons praat hier van tonne diamante wat in Suid Afrika deur ons eie mense geslyp en as ‘n Suid Afrikaanse bate verkoop kon word. Hierdie kaping van ons grootste bate beloop onberekenbare Triljoene in Randwaarde. London is “gebou” met ons bates en wat het ons daarvan.

Vexed ·

Wel as jy dit goedkoop laat gaan is dit mos jou saak. Baie mense kla vandag dat hulle die land vir kraletjies en ‘n paar blink goed verkoop het. So gaan dit maar.

DJ ·

Dit is goed dat dit in England bewaak word. In Suid Afrika sal dit onmiddelik aan kaders uitgedeel word

Petrus Albertus ·

Hierdie debat is nou ‘n goeie voorbeeld daarvan dat die verlede of bygelê word of heeltyd maar weer na die oppervlak kom. Louis Botha se oorywerige en ongewilde gebaar van lojaliteit teenoor Brittanje – deur geld vir die heropbou van die oorlogsverarmde Transvalers so te mors – laat meer as ‘n eeu later steeds ‘n wrang smaak. Pres Steyn het hom gewaarsku en hy sou later met die Rebellie die pap wat hy so dik aangemaak het berou. Ek stem, baie swak maniere om ‘n geskenk terug te vra MAAR let wel, ewe swak maniere om hierdie geskenk te aanvaar van ‘n staat wat net 5 jaar tevore in ‘n woestyn verander is deur jóú troepe. So lykmy ons is maar ongeskik met mekaar.

Dries ·

Baie dankie en presies. Sou daai diamante terug kom sal hulle weggeraak het en dalk in n matras vervoer gewees het

james ·

Dankie vir die historiese feite oor die Cullinan diamant, goed gedoen!! afsluiting egter briljant

annie ·

Goeie maniere kan mens nie eintlik met die Britse monargie vereenselwig nie. Om voor jy op die brandstapel sterf nederig verskoning vra vir indien die toeskouers dalk met hooikoors sal sukkel wanneer die strooi onder jou voete begin gloei. Glimlag mooi vir jou aanvaller en die betreder van jou eiendom voor hy jou martel. Die b(l)ousteen genaamd eiendomsreg, sal geen regdenkende slim regsgeleerde ooit probeer uitlê of verduidelik nie. Moenie eers traai nie!

Egbert ·

Ja, daardie kommentare getuig maar net weer van baie swak smaak en wys maar net hoe oningelig die mense met betrekking tot hulle eie geskiedenis is. Dit wys ook maar dat daar nie veel verskil tussen hulle maniere en die van hulle landsgenote, waaroor hulle ook gereeld gal braak, is nie.

Rupert Ashford ·

Ek dink daardie diamnte moet terugkom en vir een van Jacob se vrouens gegee word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.