Die Babelse verwarring van die taaldebat

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

As ʼn mens glo die Bybel-verhaal oor die Toring van Babel is die enigste, ware verklaring vir die ontstaan van die veelvoud van tale op aarde, kan interessante praatjies gemaak word oor deesdae se taaldebat in Suid-Afrika.

Eers ʼn bietjie agtergrond.

Babilon was ʼn stadstaat in die sentrale gebied van Mesopotamië. Dit dateer omstreeks 1894 (voor die huidige jaartelling) VHJ. Dit is min of meer waar Irak vandag is. In daardie tyd was daar net een taal op aarde, lees ʼn mens in die Bybel.

Die storie loop dat ʼn groep Babiloniërs oos getrek het en hulle op ʼn vlakte in die land Sinar gevestig het. Na ʼn tyd het hulle vir mekaar gesê hulle moet vir hulleself roem verwerf deur ʼn toring te bou wat tot aan die hemel sou reik. Die toring is laag op laag gebou, vanaf ʼn groot basis onder en met ʼn spits na bo. Hulle het geglo God woon op die boonste vlak waar daar ʼn tempel was. Die hele piramiede-struktuur is ʼn Ziggurat genoem.

ʼn Interpretasie van die situasie was dat die mense God se mag uitgedaag het. Die Bybel sê God het gesien wat die mense doen en om hulle te stuit, het hy hulle in verskillende tale laat praat. So het daar werklik ʼn Babelse verwarring ontstaan, want die mense kon mekaar nie meer verstaan nie. Die gebouery is toe nooit voltooi nie. Die mense met hulle verskillende tale het oor die aarde versprei.

ʼn Mens kan natuurlik nie ʼn direkte verband probeer trek van die Babel-verhaal in die Bybel en vandag se tale-situasie nie. Die konteks is heel anders. Vir ʼn begin het die storie van Babel duisende jare vantevore afgespeel. Al was dit ʼn besonderse, aangrypende verhaal, is min besonderhede gegee. Die hele storie word in 9 verse van Genesis 11 vertel.

Tog kan enkele opmerkings gemaak word wat dalk vandag relevansie kan hê. Eerstens: meertaligheid is deur God geskep. Dit is spesifiek gedoen om dit moeiliker vir mense te maak om mekaar te verstaan. ʼn Mens sou kon redeneer dat meertaligheid kommunikasie bemoeilik het en mense daarvan uitgesluit het om mekaar te kan verstaan. Eentaligheid het daartoe gelei dat al die mense saamgespan het en selfs God se gesag uitgedaag het.

Wetenskaplikes kan tot vandag toe nie behoorlik verduidelik hoe dit is dat daar soveel tale in verskeidenheid op aarde is nie. Die getal geraamde tale is ook voortdurend aan die verander. Meestal is dit weens tale wat verdwyn en nie soseer tale wat nuut ontwikkel nie. Afrikaans is een van die min nuwe tale wat in die afgelope paar eeue ontstaan het. Dit dateer uit die 1400’s en het dinamies ontwikkel deur die samebinding van verskeie tale en invloede – van die Khoi en San van die Kaap, tot Nederlands, Portugees, Maleisies en verskeie dialekte van die ooste.

Bronne verskil van mekaar, maar daar is vandag sowat 7 151 tale in 196 lande in die wêreld. Van die totaal van tale, word glo 90% gepraat deur minder as 100 000 mense. En elke maand verdwyn daar een taal.

Daarteenoor is Afrikaans ʼn besonderse taal wat redelik jonk is. Sy ontwikkeling op hierdie bodem is werd om gekoester te word. Dis ʼn taal, wat teen die verloop van taalgeskiedenis in, sterker geword het. Die aansien van Afrikaans het teen veral 1976 se kant in woelige vaarwater begin beland.

Dis natuurlik weens die Soweto-opstand van leerlinge teen die geforseerde afdwing van Afrikaans as voertaal in alle “swart” skole deur die regerende Nasionale Party. Die vryheidstryd teen apartheid het toe werklik begin vlamvat. So word die taal, wat eintlik geen kleur ken nie, steeds gebrandmerk as apartheidstaal.

Hierdie ongelukkige omstredenheid kom nie tot ʼn einde nie – soos nou weer op Stellenbosch. Die debat daar gaan eintlik oor rassisme soos vertolk uit die gebeure by Huis Marais waar ʼn “wit” student op ʼn “swart” student se rekenaar geürineer het. Toe word Afrikaans sommer weer by die hare ingesleep.

In haar kommissieverslag oor die voorval sê regter Sisi Khampepe die bestuur van die Universiteit Stellenbosch moet dit “oorweeg om sy beleid oor meertaligheid te hersien om die moontlikheid van taal-uitsluiting deur die voorkeur vir Afrikaans te verwyder”.

Dis nogal ʼn erge voorstel wat noodwendig moet lei tot die aftakeling van Afrikaans as een van drie amptelike tale van die Universiteit. Die tale is isiXhosa, Engels en Afrikaans. Die Universiteit kan vorentoe van meertaligheid tot enkeltaligheid ontwikkel – die omgekeerde proses van wat by Babel gebeur het.

Die konteks van die Babel-storie is dat God nie enkeltaliges in meertaliges omskep het bloot om hulle te verwar nie. Dit was om hulle te verhoed om met ʼn projek voort te gaan wat tot oneer van God sou wees. Meertaligheid was ook ʼn strategie om mense uit te sluit van mekaar op grond daarvan dat hulle nie mekaar kon verstaan nie. Maar meertaligheid as sodanig is nie as ongewens voorgestel nie.

Eintlik moet ons almal in Suid-Afrika trots voel daarop dat ons tien tale van ons eie het. Dis tale wat hier onwikkel het. Almal word deur die grondwet beskerm. Van al die tale in die land, is Afrikaans ongetwyfeld die verste gevorder.

Dit het ontwikkel tot die vermoë om uitdrukking te gee tot op tersiêre vlak. Dis iets waaroor al die taalsprekers ingenome moet wees. Afrikaanssprekendes behoort uit hulle pad te gaan om al die ander plaaslike taalsprekers met woord en daad te help met die ontwikkeling van hul tale. Afrikaans het al ongelooflik baie bereik om ʼn skatkis van eie unieke kultuurwerk op te bou – dink maar aan die vele Afrikaanse kunstefeeste.

Die ironie is dat mense uit al tien van die plaaslike taalrykdom ʼn geneigdheid het om al hoe meer die één vreemde taal aan hierdie bodem en boonop die koloniale-taal, Engels, te gebruik.

Ek het by geleentheid die kans gekry het om met ʼn kenner oor diversiteitsleer in Suid-Afrika te praat. Sy het opgesom dat die twee kwessies wat maar weer en weer opduik, is dat swartmense uitgesluit voel deur die gebruik van Afrikaans in amptelike kommunikasie en klaskamers. Hierdie kwessie sal op ʼn manier oorbrug moet word. ʼn Interessantheid is dat sommiges ook uitgesluit voel wanneer  hulle kommunikasie in ander plaaslike tale ontvang.

Die ander kwessie is respek.

Apartheid was so aftakelend teenoor swartmense dat die meeste geweldige fyngevoeligheid oor disrespek ontwikkel het. Anders as by Babel, moet ons in Suid-Afrika meertaligheid as ʼn bate beskou. Dit is moontlik om ons tien eie tale te koester sonder om aanstoot te gee. Byvoorbeeld: Op die lange duur moet elke Suid-Afrikaanse burger minstens twee plaaslike tale kan praat. So word ook respek aan mekaar getoon.

Dit is bemoedigend dat die rektor van die Universiteit Stellenbosch, prof. Wim de Villiers, blykbaar besluit het dat hy nie die taalbeleid van meertaligheid gaan verander nie.

In die nuwe jaar sal hierdie kwessie weer gepak word. Hopelik kan ons sonder verwarring ons meertaligheid vier.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Goeie skrywe Freek.In 1971 toe ek in die Hoërskool kom was ons verplig om drie ekstra tale vir die st 6 jaar te neem nl Duits,Latyn,en Noord Sotho.Ek het gedink die skoolstelsel was mal.Wie sou op daardie stadium kon voorspel dat ons ‘n oorname na ‘n ander bestel sou hê.As mens net geweet het kon mens daar al een of twee van die tale geneem het tot matriek.Miskien het die destydse regering iets geweet wat ons nie geweet het nie.

annie ·

Dit is nie net tale wat verskil nie ook kulture, wat ook in die slag bly. Kuns, musiek, argitektuur en geregte word vervelig dieselfde. Waarom Khoi eerste noem so asof dit die hoofaar was vir die taalverskuiwing. Met dié dat woede hoog begin loop het oor die minagting van Afrikaans het sommige geglo die Maraisbeurs is dan mos ook onwelkom. Die rektor gooi dalk net wal vir ‘n tydjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.