Luister: Hoe hou Wagter wag?

(Foto: Michael Dziedzic/Unsplash)

Hoe gaan dit met die werkende hond in Suid-Afrika, en hoe lyk hierdie honde se verhouding met hul hanteerders?

Anton Coetzee is tans by ’n navorsingsprojek betrokke wat die welstand van die werkende hond in Suid-Afrika ondersoek. Sy navorsing wil juis antwoorde op hierdie soort vrae verskaf.

Coetzee meen indien organisasies en maatskappye wil hê hul honde moet hulle opsporing- en beskermingswerk met sukses doen, moet daar omgesien word na hulle welstand. Hy hoop dat sy navorsing, wat die eerste van sy soort vir Suid-Afrika is, ook kan help om opleiding te ontwikkel vir honde en hul hanteerders.

“’n Hond se omstandighede gaan sy werk, gesondheid en opleiding beïnvloed. ’n Werkende hond is ook ’n baie duur uitgawe vir enige organisasie en daarom kan dit nie anders as dat ’n mens ernstig moet wees oor dié diere se welstand nie,” verduidelik Coetzee.

Alhoewel daar nog nooit ’n amptelike opname gedoen is om te bepaal presies hoeveel werkende honde daar in Suid-Afrika is nie, raam Coetzee daar kan tot 10 000 in die land wees.

Die honde word natuurlik gebruik om patrollies en spoorsnywerk te doen. Sommige honde ontvang dan ook spesialisopleiding om springstof, dwelmmiddels, ivoor en selfs geld by grensposte uit te snuffel.

Sekere honderasse soos die Duitse en Belgiese herdershond, Rottweiler, Labrador, Golden Retriever en Skotse skaaphonde is geneties pasgemaak vir hierdie soort werk.

(Foto: Aloïs Moubax/Pexels)

“Die Skotse skaaphond (Border collie) en Belgiese herdershond is diere met ’n uitsonderlike hoë intelligensie en dryfkrag. As ’n mens hierdie soort honde vir ’n nuweling gee om te hanteer gaan hulle beslis al hul dae hê. Dit is dus byvoorbeeld belangrik om ’n hanteerder eers in te lyf met ’n Labrador of Duitse herdershond wat effens rustiger is,” sê hy.

Coetzee meen, net soos ’n mens, het ’n hond ook behoefte aan kos, om gesond te wees en moet hulle ook toegelaat word om soms net ʼn hond te wees.  “Dit is belangrik dat ’n hanteerder geleer word hoe om na sy hond se fisieke en psigiese welstand om te sien.

“Ongelukkig is dit so dat sommige hanteerders slegs hulle hond as ’n stuk gereedskap beskou, terwyl hulle eintlik soveel meer saam met die dier kan bereik as daar ’n goeie verhouding tussen die hond en sy hanteerder bestaan.”

Hy benadruk dat daar beslis ’n baie nou verband is tussen die honde se werkvermoë en hulle welstand.

Coetzee werf tans hanteerders (werkend of reeds afgetree) en organisasies wat werkende honde gebruik om aan sy navorsing deelneem. Indien jy aan die navorsingsprojek wil deel neem, kan jy Coetzee kontak by 081 442 2027 of stuur ’n e-pos aan [email protected].

  • Coetzee het onlangs in Maroela Media se ateljee kom kuier en gesels oor die navorsingsprojek waarby hy betrokke is om die welstand van die werkende hond in Suid-Afrika te bepaal. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.