Iets skort in die president se kantoor

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Toe Cyril Ramaphosa president geword het in Februarie 2018, het ʼn bekende Britse joernalis van die BBC my gevra of ek dink Ramaphosa het die nodige karaktereienskappe en ervaring om dié belangrike pos te beklee.

My antwoord was ʼn besliste “ja”. Trouens, het ek voortgeborduur, hy het nie sy gelyke in die hele wêreld nie. As student het hy reeds sy “struggle credentials” gekry by die Universiteit van die Noorde met politieke betogings. Hy is verskeie kere in hegtenis geneem en opgesluit, maar het sy regsgraad steeds voltooi.

Met die verslapping van arbeidswetgewing in die tagtigerjare, het hy as militante vakbondleier sy merk gemaak. Voor die vrylating van Nelson Mandela in Februarie 1990, is hy deur die ANC en UDF gevra om die reëlings daarvoor te help tref. Hy het ook Mandela aan die skare op die parade in Kaapstad voorgestel.

ʼn Jaar later kon die ANC die eerste keer in die openbaar ʼn kieskongres hou. Ramaphosa is gemaklik verkies tot sekretaris-generaal. Met die begin van die Kodesa-samesprekings, is hy ook aangewys as ANC-hoofonderhandelaar.

In Junie 1992 het die Kodesa-onderhandelings tot stilstand geknars. Dit was oor die menseslagting by Boipatong waarin 45 mense doodgemaak is en waarvoor die ANC Inkatha verantwoordelik gehou en die NP-regering blameer het. Die ANC het alle onderhandelings onmiddellik opgeskort tot verdere kennisgewing.

In Kodesa was daar groot kommer oor hoe die onderhandelings weer op die spoor sou kon kom. Ek en van my kollegas by die SAUK het ons bes probeer om die twee partye, in persoon Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa, minstens saam op televisie in my program te kry met die oog op die hervatting van onderhandelings. Ek het die ateljeegesprek gelei. Hulle het uiteindelik ingestem en toe wel die volgende dag ontmoet om te bepaal hoe om onderhandelings te hervat. Ek maak nie daarop aanspraak dat dit ek was wat daarin geslaag het om die partye te laat instem om weer te ontmoet nie, maar ek het minstens ʼn rol daarin gespeel.

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Op persoonlike vlak het ek Ramaphosa altyd vriendelik, selfs innemend, gevind. Ek onthou nog ʼn partytjie wat een aand in Kemptonpark gehou is na die dag se Kodesa-onderhandelings wat vir Ramaphosa gehou is. Sy geboortedatum was 17 November 1952 – presies dieselfde as myne. Dit het my ʼn soort affiniteit vir hom gegee. Elke jaar op dié dag sou ek ook aan hom dink en wonder hoe dit met hom gaan.

Na die verkiesing van 1994 is Ramaphosa as parlementslid verkies tot voorsitter van die grondwetgewende vergadering wat die Grondwet geskryf het. In 1996 het hy die politiek tydelik laat vaar en ʼn baie suksesvolle sakeman en boer geword. As raadslid van die mynmaatskappy Lonmin, het hy ervaring van die “anderkant” opgedoen.

Ramaphosa het weer in 2014 teruggekeer na die politiek as adjunkpresident. Weens ernstige aantygings oor korrupsie teen president Zuma, het die ANC, met Ramaphosa aan die spits, hom gevra om opsy te staan. So het adjunkpresident Ramaphosa president geword in 2018.

Al hierdie ervarings saam het van Ramaphosa die ideale “pakket” gemaak (binne die Suid-Afrikaanse werklikhede) om ʼn suksesvolle president te wees. Noem een ander leier op aarde wat die soort uitgebreide blootstelling gehad het om die hoogste amp in ʼn land te beklee, vra ek die BBC-joernalis.

Hy kon nie…

Spring nou sowat 30 jaar vorentoe.

President Ramaphosa se kantoor bel my uit die bloute en deel my mee daar is besluit om aan my die nasionale orde van Ikhamanga (silwer) toe te ken vir my bydrae tot “joernalistiek in die dokumentering van geskiedenis in beweging”. Die volgende dag kry ek ʼn e-pos met meer besonderhede en ʼn versoek dat ek beskikbaar sal wees om die orde op 28 April persoonlik van die president te ontvang by sy gastehuis in Pretoria. Als afgespreek, als reg. ʼn Volledige lys van mense, wat ook ordes sou ontvang, word openbaar gemaak. My naam is ook daar.

Op 23 April 2023 ontvang ek ʼn epos van die president se kantoor met net een sin:

I regret to inform you that the Advisory Council on National Orders has, upon further review, withdrawn your name from the list of orders.”

Heeltemal oorbluf skryf ek terug met die vraag: “Why?

Tot nou toe het ek nog geen antwoord ontvang nie.

Ek hoor by ʼn joernalis wat gereeld met die presidensie skakel die rede is dat ek in die apartheidsjare vir die SAUK gewerk het. Daar het glo mense kapsie gemaak dat ek (en twee ander) op die lys was wat ordes sou ontvang – bloot omdat ek ʼn tyd lank vir die SAUK gewerk het. Die werk wat ek gedoen het in die aanloop tot die 1994-verkiesing (soos die debat tussen Ramaphosa en Meyer; my voorsitterskap van die debat tussen Mandela en De Klerk – wat glo na 800 miljoen mense op aarde uitgesaai is; en die regstreekse “town meetings” in verskillende provinsies om aan elke party ʼn spreekkans te gee) – als tel dus geen punte nie.

Afgesien van die ondersteunende kommentaar in die sosiale media, was ʼn deurlopende tema dat dit beter is om nie ʼn orde te ontvang van ʼn gediskrediteerde regering nie. Die hele kwessie is duidelik nie goed hanteer deur die presidensie nie. ʼn Mens kan nie vir so ʼn eerbewys aansoek doen nie. Jy word gekies deur ʼn paneel van deskundiges. ʼn Mens sou dink dat hulle behoorlike navorsing sou gedoen het oor elke benoemde kandidaat vir ʼn orde.

Die saak kon afgehandel gewees het sonder enige woord in die openbaar. Almal sou die verleentheid gespaar gewees het. Maar wat was die kriterium waaraan kandidate gemeet moes word? Wie is almal op die adviesraad. Wie het hulle aangewys? Kan die oorweging van geskikte persone in die openbaar plaasvind? Dis duidelik dat ʼn ondersoek gedoen moet word oor die hele orde-stelsel.

Indien die Britse joernalis my weer vra wat dink ek van Cyril Ramaphosa, sal my antwoord anders wees. Die feit dat ek nie meer die Orde van Ikhamanga gaan ontvang nie, pla my nie. Maar die hele orde-affêre en ander dubbelpratery die afgelope week of wat, tas die geloofwaardigheid van die president ernstig aan.

In die besonder die spektakel dat die president een oomblik aankondig dat die ANC besluit het Suid-Afrika moet onttrek van die internasionale strafhof. Dit word enkele ure later bevestig deur die sekretaris-generaal. Maar die minister van justisie, Ronald Lamola, moes albei daarop wys dat geen so besluit geneem is nie. Die storie daaragter gaan natuurlik oor die verpligting op Suid-Afrika om as lid van die internasionale strafhof die lasbrief vir die inhegtenisneming van president Wladimir Poetin van Rusland uit te voer. Dit nadat Suid-Afrika reeds ʼn uitnodiging aan Poetin gestuur het om die BRICS-beraad later vanjaar by te woon.

Suid-Afrika se buitelandse beleid kort eintlik ook hersiening. Is Rusland werklik so ʼn groot vriend van Suid-Afrika dat ons nie dié land in die VN kan kritiseer oor sy bloedige onwettige inval in Oekraïne nie? Tel die vriendskap meer as die bande met ons grootste handelsvennote, die VSA en die Europese Unie? Die lys kan nog langer word van vreemde optredes.

Ons as burgers van die land kan nie agteroor sit en niks doen nie. Talle burgerlike organisasies – soos Dialoog vir Aksie – is al gestig om ondanks die uitdagings prakties betrokke te raak by oplossings. Dis waarby ek en verskeie professionele mense nou betrokke raak.

Intussen kan almal van ons saam vra: Wat skort in die presidensie?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Ons wat hier in die privaatsektor spartel om te oorlewe, liewe mnr. Robinson, ons lees die ANC en Ramaphosa soos die spreekwoordelike boek. Jare gelede al het ons deur die ANC en Rampahosa se vae beloftes en mooipraatjies gesien vir dit wat dit werklik is. Maar, die skade is gedoen en ons wat hier agterbly sal ook hierdie terugslag oorleef. Net soos wat ons voorgeslagte dit gedoen het.

JohanEtz ·

BESLUITENLOOSHEID KENMERK RAMPAPHOSA, is die hoofopskrif van sy bestuurstyl – al wapen in sy arsenaal, is sy kenmerkende aanstelling van kommissies van ondersoek teen miljoene belastingbetalers se Rande, KoMmissies sonder tande en/of uitvoerende magte….vir elke krisis en ontdekking. Hy is telkens geskok wanneer verdoemende inligting uitlek of openbaar gemaak word. Dalk kan hy begin om Eskom vir ‘n slag REG te skok en korrupsie uit te roei!?

David ·

Ek het Anthea Jefferey se “People’s War” boek gelees nadat ek geluister hoe my kolega’s (wat senior ANC lede was) gepraat het oor hul tyd in Vietnam. Ek was verbaas dat hulle daar sou wees tydens die “Struggle”.
Die boek het bevestig dat hulle in Vietnam was en hoekom.
Verder het die boek heelwat van Ramaphosa se aksies bespreek.
Vir my was dit duidelik dat hy graag ander skulk gee vir ANC se dade. Die verskeie geregtelike kommisisies van ondersoek het gewoonlik gevind dat sy stellings onwaar was en dat die “kwaaddoeners”, die SAP of SAW onmoontlik kon wees waar hy verlaar het nie. Maar dan is dit maande en mense het vergeet van die voorvalle behalwe dat die “apartheidsmagte” mense doodgemaak het.
So kon Ramaphosa vir dekades wegkom met onwaarhede.
Nou haal daai praktyk hom in!

SomeOne ·

ons kort ‘n leier en nie ‘n eier nie, die groottste skurk, alles insluitend, is net die eier wat na sy eie en russiese belange omsien, hy en almal voor hom en om hom is die groottste terroristiese skuim wat op aarde is, nie net in suidelike deel van afrika nie, maar in die hele WERELD

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.