Liesbet se afsterwe: Die Boer-Brit-verhoudinge

Luister hierbo na die skrywer se klankweergawe van die artikel of lees dit hieronder.

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Miskien bied die afsterwe van koningin Elizabeth II die geleentheid om ʼn herwaardering te maak van die Boer-Brit-verhoudinge. Die EFF het in ʼn kru en werklik onsmaaklike verklaring die koningin daarvan beskuldig dat sy vir 70 jaar aan die hoof gestaan het van ʼn koloniale moondheid wat verantwoordelik was vir die ontmensliking en dood van miljoene mense.

Die Afrikaner het ook rede om ʼn vinger te wys, maar om met beledigings en verwyte te kom, gaan niks help nie. Nie een van ons kan met die beste wil ter wêreld die verlede verander nie. En hoe ver moet ʼn mens die verlede ingaan om vergoeding vir vergrype te eis? Betreurenswaardig is dit dat die geskiedenis van die mens oor ʼn tydperk van sowat 6 000 jaar basies ʼn verslag is van stryd en oorlog.

Die Russe se huidige militêre optrede in Oekraïne is ʼn poging om ʼn herbesoek aan ʼn vervloë verlede te bring toe die Sowjet-Unie ʼn magsblok was van 15 republieke. President Wladimir Poetin droom glo daarvan om dit in die hede te herstel.

As ʼn mens ʼn manier kan vind om sinvolle dialoog te vestig op ʼn vreedsame en volhoubare wyse, kan  minstens erkenning gegee word dat optrede in die verlede verkeerd was. Prins William het in Maart vanjaar in Jamaika sy diepgaande spyt uitgespreek oor Brittanje se aandeel aan die slawehandel. Hy het egter nie sover gegaan om jammer te sê nie. Brittanje het die slawehandel in 1807 afgeskaf – lank voor die Tweede vryheidsoorlog in 1899-1902 tussen die Boere-republieke en Brittanje.

Die einste koningin Elizabeth het tydens ʼn vergadering van die Statebond in Suid-Afrika in 1999 haar “droefheid” uitgespreek oor die lewensverlies en lyding van sowat 28 000, hoofsaaklik vroue en kinders, in die Britse konsentrasiekampe. Ook sy kon nie sover gaan om jammer te sê nie.

Dis nodig dat oor hierdie dinge gesels moet word – anders lê die ding daar en sweer in ons midde en maak versoening of minstens begrip moeilik. My eie ervaring van die nalatenskap van die konsentrasiekampe, het my laat besef hoe diep die sielswonde kan wees van so ʼn volkstrauma. Dit kan letterlik vir ʼn eeu of meer ʼn krapplek bly wat aanvaarding en respek vir mekaar beduiwel.

Toe ek nog maar ʼn seuntjie van ses was, het my ouma van ma se kant vir ons kom kuier in Umtata, in die ou Transkei, waar my pa gewerk het. Ouma Sophie was toe al bedlêend weens kanker. Ek en my ouer broer, Louis, het soggens vroeg na haar kamer gegaan en weerskante van haar in die bed ingekruip. Sy het ons dan van die gruwelstories van die konsentrasiekampe vertel. Jy kan jouself net indink hoe dié stories saadjies in ons bewussyn geplant het wat noodwendig enige kontak met ʼn Engelsman van die begin af op verkeerde voet sou plaas.

Ouma Sophie was ʼn jong dogtertjie tydens die oorlog. Toe die Engelse begin het met die verskroeide aarde beleid, het sy en ʼn paar ander vroue en kinders (ook enkele swartmense) in ʼn grot weggekruip waar hulle sowat ʼn jaar gebly het. Hulle is basies aan die lewe gehou deur plaaswerkers. My ouma het self nooit in ʼn konsentrasiekamp beland nie. Nogtans het sy deur die verhale van familie en vriende wel deeglik kennis geneem van wat alles in die kampe aangegaan het.

Op haar beurt het ouma Sophie my ma en ander kinders van vroeg af al die konsentrasiekampverhale vertel. My ma is in 1926 gebore. So, sy het nie eerstehandse kennis gehad van die gruwels van die konsentrasiekampe nie. Tog het dit ʼn groot invloed op haar gehad. Sy het in haar volwasse jare die Nasionale Party ondersteun. Na die verkiesing van 1994 het ʼn herskikking in die politiek plaasgevind met die Demokratiese Party (die ou Prog-party) en die Nuwe NP wat nader aan mekaar beweeg het en die DA gevorm het met Tony Leon as leier. Ek vra toe my ma: “Watter party gaan jy nou voor stem siende dat die NP daarmee heen is?” Sy het ʼn bietjie gedink en toe gesê: “Ek dink ek sal vir die ANC stem, maar vir die Engelse kan ek nie stem nie.”

So my ma het daardie grief teen die Engelse vir ʼn goeie deel van ʼn eeu in haar gedra oor wat by die konsentrasiekampe gebeur het. Die les daaruit te leer is dat die trauma van mense wat deur diep water is in oorloë of onderdrukking nie sommer so sito-sito daarvan ontslae kan raak nie. Daar is heelwat studies daaroor. Een treffende voorbeeld is die hoë sensitiwiteit in die verhouding tussen Israel en Duitsland oor die Nazi’s se mishandeling van Jode in konsentrasiekampe tydens die Tweede wêreldoorlog.

Voormalige president Nelson Mandela het by geleentheid voor ʼn Afrikaanse gehoor gevra: “Hoekom is dit so dat die Afrikaner wat self so gely het onder die Britte en kolonialisme, die foute herhaal het met die apartheidsbeleid?” Dit is heeltemal ʼn legitieme vraag. Wat my bekommer is die gewaarwording, soos hierbo beskryf, dat die wonde van aftakeling en geweld nie maklik of gou genees nie.

Miskien kan ons begin met ʼn poging om minstens in ʼn konferensie met die Britte te praat oor Afrikaner-wrok oor kolonialisme en swartmense se ervaring daarvan. Die verhouding van Afrikaners met die Britte was nog nooit goed nie – vanaf die Kaapse besetting in 1806 tot en met die nuwe bedeling in 1994.

Die vorige lanksdienende koninklike voor Elizabeth II, koningin Victoria, was op die troon tydens die Anglo-Boereoorlog. Minstens moes sy as vrou opgetree het en geëis het dat toestande in die kampe verbeter.

Na die Boereoorlog en sedert die Unie van 1910 was daar maar krapperigheid tussen die Afrikaner en die Britte. Eerstens oor sir Alfred Milner se veldtog om onderwys te ver-Engels.

Daarop het die digter CP Hoogenhout die bekende versie geskryf:

“Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;

In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.”

Milner het erge emosies en ʼn taalstryd ontketen wat in 1925 tot die amptelike erkenning van Afrikaans gelei het. Daardie stukkie geskiedenis oor die taalstryd moet eintlik vir die ANC-regering ʼn baie duidelike vingerwysing wees dat ʼn geveg oor die status van Afrikaans fel kan word en liefs nie aangepak moet word nie. Dis onnodig. Tyd moet eerder bestee word aan die verbetering van verhoudinge en erkenning van Afrikaans as ʼn inheemse taal wat wyd onder mense van alle rasse gepraat word.

Deurgaans sedert 1910 het Afrikaanse politici probeer om Suid-Afrika los te wikkel van Britse oorheersing. Dit het uitgeloop op destydse eerste minister Hendrik Verwoerd se onttrekking van die Statebond en die vestiging van die Republiek van Suid-Afrika in 1961. Daarna was koningin Elizabeth nie meer die staatshoof van die land nie. Teen die einde van die sestigerjare met die Springbokrugbytoer na Engeland, wat deur betogings ontwrig is, het die internasionale veldtog teen apartheid momentum gekry – met Brittanje aan die voorpunt.

Met die Gleneagles-ooreenkoms van 1977 in Skotland het die Statebond sportsanksies teen Suid-Afrika ingestel. Dis opgevolg in 1985 toe beperkte ekonomiese sanksies ingestel is. Die Britse eerste minister, Margaret Thatcher, was gekant teen volskaalse ekonomiese sanksies omdat sy geglo het dit sou die reeds verontregtes onder apartheid die swaarste tref. Sy het met dié standpunt alleen gestaan teen die hele Statebond. Na wat berig word het koningin Elizabeth die gebruiklike reël, dat die koningshuis neutraal in die politiek moet staan, opsy geskuif en Thatcher in ʼn uitsonderlike wending aangespreek het om die Statebond te steun.

My bemoeienis met die Britse koningshuis was die gebruik onder ons studente, so nou en dan as daar iets in die nuus was wat daartoe aanleiding gegee het, om ʼn aangepaste weergawe op die wysie van die Britse volkslied te sing:

Ons is nie Engels nie

Ons is nie Engels nie

Maar Afrikaans

Ons is getrou aan Volk en Taal

Van die Kaap tot aan die Vaal                                      

Ons is nie Engels nie

Maar Afrikaans.

Van nou af sal die lied natuurlik nie meer begin met “God Save the Queen” nie, maar met “God save the King”. Destyds het ons met min respek sommer gepraat van “Liesbet”, in plaas van Elizabeth. Ek het haar slegs een keer ontmoet – as ʼn mens dit “ontmoet” kan noem. Dit was tydens ʼn funksie deur Buckingham-paleis vir die buitelandse joernaliste-korps in Londen. Die koningin het haar verskyning gemaak en ʼn kort toesprakie gehou. Sy het daarna met die uitloop die een en ander gegroet. Dit was nogal ʼn vreemde ervaring om by protokol te bly en ʼn kniebuiging vir haar te maak. Wat opgeval het, was haar kleinerige, selfs ietwat brose, postuur.

Na 1994 se verkiesing en die begin van die nuwe demokratiese Suid-Afrika, het die prentjie natuurlik handomkeer verander. Suid-Afrika het weer lid geword van die Statebond. Soos hierbo genoem het sy tydens ʼn beraad van die bond in 1999 in Suid-Afrika so half en half Britse vergrype in die boere-konsentrasiekampe erken.

Miskien kan koning Charles III dit verder neem en groter verantwoordelikheid aanvaar vir die Britse leed aan boerevroue en -kinders en die miskenning van swartmense se regte onder die koloniale bewind van Brittanje. En dan moet ons as Suid-Afrikaners vrede vind met mekaar. As dit so is dat ʼn sweer van verontregting nog in ons midde is en dekades of selfs eeue kan voortduur, sal dit verseker wys wees om deur groter dialoog dit te besweer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Heinrich ·

Lyk my die wyse gewaarwordings het ook maar by Mandela gestop, die Afrikaners het gereageer op die optrede van die Britte, en toe het die ANC met dieselfde felheid gereageer op die optrede van die Afrkaners. Die pendulum bly swaai. Mens moet jou geskiedenis ken om die foute te kan herken en nie te herhaal nie, maar wraak en regstelling (gesien as geregtigheid) bly maar menslike natuur.

annie ·

Wat sal ons sonder Freek se ewige waarhede doen. Die Muldertrek suid kan gerus vroeg al ‘n lys opstel van diegene wat as onderleiers sal dien. Oom Paul het destyds die Jouberts s’n verhoed wat oor die Limpopo wou teen Rhodes se wense; hy wie alles van die Kaap tot Egipte wou beheer. Ok maar goed want die Engelse-koloniale-magnaat het Lobengula se kraal oorkant vernietig waar hy geglo het nog meer skatte as die Rand hou. Toe nie. Freek kan sawens ná Boekevat die trekboere se kwinke en vrese langs die kampvuur help lawe.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ouboet Mulder woon lekker in Potch. Hy sal nie na die Suide voeter nie.

Nettie ·

Sjoe, mnr Robinson. Jy slaan my om. Hierdie skrywe was PRAGTIG. Groot waardering en dank. Dis goed uiteengesit en vat al die kwessies op menslike vlak raak. Waarskynlik oor jou eie unieke belewings. Jou ouma Sophie klink na ‘n besonderse mens uit ‘n besonderse familie.

Ek glo nie ons volk soek “repirasies” soos die ander volke nie. Ons het nog nooit bakhand gestaan nie. Soos jy se, ons soek net ‘n erkenning van hulle kant af van hoe verskriklik verkeerd hulle optrede was, en ‘n diepe jammerte by hul regering, monargie en volk. Iets wat behalwe onder individue, net totaal en al afwesig is tot vandag toe. ‘n Konferensie met samesprekings sou dit wel kon bewerkstellig.

En daarna soek ons ‘n belofte dat hulle hulle verdekselse alewige Engels sal vat en vir hulself sal hou en ons sal uitlos!! Ons taal, ons universiteite, ons besighede in Afr. Ons land. Ons mense. Ons minerale. Los ons uit, en los ons taal uit. Dis al wat ek persoonlik sou vra.

Marthinus W ·

My pa is in Clarens gebore, en my ma, n nooi Senekal, in Bethlehem. Ek is vernoem na my ma se pa se ma, die Spangenbergs. Hulle het almal in die Boereoorlog geveg, en was gevangenes op Ceylon – ek het items wat hulle daar gemaak het. (My pa se ma, die Scheeperse, was deel van Piet Retief se trek, sommige is saam met hom vermoor, en sommige het by Bloedrivier geveg.) Met die 1ste WO wou hulle nie aan Engelse kant veg nie, en met die 2deWO was hulle Ossewabrandwagters. Tog, daarna het die gevoelens sagter geword. Toe my pa se oom, Attie Scheepers, by die huis opdaag met n Engelse vrou, is sy aanvaar. My pa, die grapmaker, het gevra, “Hoe vry julle dan?” omdat Attie sukkel met Engels, en sy met Afrikaans. Haar antwoord was, “Liefde is n universele taal”. Ons familie het haar boodskap opgeneem, en vrede gemaak. Marthinus Willemse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.