Luister: Benader jou fiksheid só

SD Heijns besig om ‘n klas af te rig. (Foto: Pieter von Wielligh / Human Cave Studios / Hybrid HIgh Performance Centre)

As jy jou liggaam jare lank verwaarloos het, kan jy nie onmiddellike resultate verwag as jy weer begin oefen nie, maar met toewyding en ʼn goeie afrigter aan jou sy kan jy wel vinnig vorder.

Dit is die mening van Adriaan Heijns, die bestuurder van die Hybrid High Performance-sentrum by Weiveld in die ooste van Pretoria. Hy en sy seun, SD, die hoofafrigter by die sentrum, het met Maroela Media gesels oor fiksheid.

“Ek dink ʼn mens kan ʼn goeie fiksheidvlak bereik as jy vir drie maande getrou, minstens twee keer ʼn week oefen,” sê Adriaan.

Van oefeninge wat net ʼn spesifieke area op jou liggaam kan teiken, tot vroue wat tog net nie onooglike spiere wil bou nie – Adriaan en SD het al dié vrae in hulle tyd as afrigters gehoor.

“Die soort oefening wat ons by Hybrid aanbied fokus nie op die bou van spiere nie, maar jy gaan wel spiermassa ontwikkel en dit gaan help om jou vetpresentasie te verminder. Ongelukkig werk jou hele liggaam saam en jy kan nie net op een liggaamsdeel fokus nie.

“ʼn Mens moet nie goed lyk met goed voel verwar nie. Ons kan jou wel belowe dat jy heeltemal beter gaan voel en lyk, as jy begin oefen, al voel dit vir jou jou arms in nog nie dadelik maer genoeg of jou boepens het nog nie heeltemal verdwyn nie,” voeg Adriaan by.

SD se beste raad oor oefening is, doen iets wat jy geniet.

“Die lewe is reeds swaar genoeg en jou oefeninge kan nie nog ʼn slegte ding wees wat jy moet aanpak nie. Kry eerder iets wat vir jou ʼn ontvlugting is, iets waarna jy uitsien of jou laat ontspan. Of dit nou strek, joga of skopboks is, net solank dit jou vreugde verskaf.”

Adriaan meen op sy beurt dit is noodsaaklik om na jou gesondheid om te sien en dit gereeld te laat evalueer. Dit verdien minstens dieselfde aandag as jou finansies, jou loopbaan of jou kinders se opvoeding, sê hy.

“Ek dink mense beplan en werk aan sekere aspekte van hulle lewe, maar vergeet te maklik goed soos gesondheid en fiksheid. As daar een ding is wat die pandemie ons wel geleer het, dan is dit hoe net hoe belangrik ʼn mens se fisieke en geestelike gesondheid is.

“Onthou alles begin eintlik by jou gesondheid. Geen van die ander aspekte van my lewe gaan enigiets beteken as ek nie goeie gesondheid het nie.”

  • Adriaan en SD Heijns staan aan die stuur van die Hybrid High Performance-sentrum by Weiveld in die ooste van Pretoria. Die manne het verder met Maroela Media oor fiksheid en skopboks gesels. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig.
  • Luister ook hier op Maroela Media waar die Heijns-manne verduidelik dat die sentrum fokus op fiksheid vir die hele gesin.
  • Besoek ook die webwerf Hybrid-fitness.co.za of Hybrid High Performance se Facebook-blad vir meer inligting oor dié fiksheidsentrum. Die sentrum bied ook ʼn Hybrid‑vegaand op 13 November aan, waar van die skopboksers mekaar uitdaag. Volg die sentrum se Facebook-blad vir meer inligting oor die geleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.