Luister: Dié persoonlikheidstipe is ʼn storm in ʼn koppie

Foto ter illustrasie. (Foto: Sage Friedman/Unsplash)

“Wat is weg? Waar kan ek gaan om ʼn voller weergawe van die wêreld en van verhoudings te kry?”

Dít is die vrae waarmee die vierde persoonlikheidstipe op die Enneagram dikwels worstel.

In die vyfde episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram, vertel Louis Venter, kliniese terapeut, stigter van Couples Help en Enneagram-kenner, meer oor tipe 4 op dié persoonlikheidsmodel.

“Hierdie persoonlikheidstipe het in ʼn psigo-spirituele wyse nooit die warmte van die baarmoeder vergeet nie,” sê Venter.

ʼn Tipe 4 onthou ʼn wêreld waar konneksie vol en warm was, iets wat hulle tot in volwassenheid toe laat glo dat daar onder enige omstandighede iets is wat nie teenwoordig is nie.

Hulle vergeet nooit die eerste persoon vir wie hulle lief geraak het en ʼn simbiotiese verhouding mee gevorm nie. Die ontdekkingstydperk van hul grootwordjare, waartydens ʼn skeiding tussen ma en kind gebeur, word dikwels deur verlange vergesel vir die tipe 4.

“Hulle verlang na verhoudings en verbintenisse wat hul herinner aan daardie eerste liefde en verhouding.”

Die soeke na diep, volronde verhoudings, spoor hulle dikwels aan om uniekheid bowenal na te jaag.

ʼn Tipe 4 leef ook dikwels in vrees vir diskonneksie.

Louis Venter. (Foto: verskaf)

“Hulle moet aanvaar dat daar soms diskonneksie gaan wees. Dat jy gesien word vir wie jy is en dat wanneer jy soms eenkant is, en diskonneksie ervaar, dat dit nie beteken dat daar iets fout met jou of die wêreld is nie.”

“Dit is mense wat dikwels met ʼn stuk onvergenoegdheid oor hulself, die mense rondom hulle en die wêreld leef.”

ʼn Tipe 4 kan ook temperamenteel wees. Mense in hul lewens sal dikwels ervaar dat hulle op eierdoppe rondom dié persoonlikheidstipe moet loop. As die tipe 4 in diskonneksie is, is daar dikwels baie emosies betrokke, of dit nou gesê word of nie.

Wanneer daar ʼn kans vir konneksie by die eindpunt van konflik wag, sal die tipe 4 nie skroom om in konflik te tree nie.

“Hulle verstaan iets van die volheid van die wêreld. Hulle skilder, sing en wys ons die sonsondergange. Hulle help ons die melodie hoor, dit is die mense wat ander tot halt roep om die diepte en die skoonheid van die wêreld te beleef.”

  • Luister boaan na die vyfde episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram.
  • Besoek Louis se webwerf, Couples Help, hier.
  • Luister na vorige episodes in die reeks hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.