Luister in 3 minute: Die koste van inperkingsmaatreëls

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Alexas_Fotos/Pixabay.)

In hierdie week se aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die ekonomiese koste van die inperkingsmaatreëls. Hy kyk ook na ʼn brokkie goeie nuus wat kom uit die staat van algehele afsondering.

Rapport berig, luidens ʼn uitgelekte verslag van die bekende bestuurskonsultasiefirma Boston Consulting Group, dat die staat van inperking dalk met drie maande verleng sal moet word.

Dit is egter onseker of ʼn land soos Suid-Afrika met sy unieke en moeilike sosiale omstandighede so ʼn lang inperking maklik sal deurstaan. Saam met die druk om verder in te perk sal ander politieke druk toeneem. Dit word oënskynlik reeds waargeneem in die selektiewe verslapping van sekere Covid-19-regulasies.

In elk geval is die staat van afsondering ook nie sonder sy eie probleme nie. Die firma Sasol het byvoorbeeld van sy bedrywighede weens ʼn laer vraag na pertrol opgeskort. Verder is in sommige mediaberigte bespiegel dat Eskom tot soveel as R4 miljard in inkomste weens die inperking kan verloor.

Die staat van afsondering is aanvanklik goed ondersteun, maar soos ekonomiese pyn toeneem, kan die sentiment natuurlik begin draai. ʼn Opvolgreaksie op Covid-19 sal die situasie versigtig moet oorweeg.

Tweedens kyk Van Onselen na die kwessie van die regering se finansies en fiskale tekorte. Die Reserwebank het onlangs aangekondig dat die Covid-19-maatreëls die begrotingstekort dramaties sal vergroot. Dit sal om twee redes gebeur: ʼn groot daling in verwagte belastinginkomstes en druk om bykomende uitgawes aan te gaan.

Die Reserwebank verwag daarby ʼn daling van 4% in die BBP met risiko’s vir ʼn groter daling indien die isolasietydperk verleng word. Ontleders soos ETM Macro Advisors reken die belastinginkomstes kan met soveel as 20% daal.

Die bank bevestig dat beduidende werkverliese en sluitings van ondernemings die proses na herstel kan teenwerk.

Sonder om salf te smeer, toestande is tans moeilik. Sakeliga kan net benadruk dat die koste van die inperkingsmaatreëls versigtig oorweeg moet word.

“Dit is nie net lewens geweeg teen die ekonomie nie. ʼn Swak ekonomie bring probleme van sy eie,” sê Van Onselen.

Laastens gesels hy ook oor goeie nuus. Volgens prof. Koos Malan, ʼn grondwetkenner aan die Universiteit van Pretoria, wys die Covid-19-krisis vir ons hoe sterk die burgerlike samelewing en instellings reeds plaaslik gegroei het.

Gemeenskappe, veral die Afrikanergemeenskap, speel ʼn sterk rol om burgerlike instellings te vestig. Sulke instellings is veral nou noodsaaklik om die regering, wat groot beperkinge op vryheid ingestel het, verantwoordbaar te hou.

Sakeliga meen die regering se kapasiteit om die Covid-19-krisis by te lê beperk is.

Gemeenskappe, buurmanskap en buite-die-staat-oplossing is nou noodsaakliker as vantevore.

“So sien ons byvoorbeeld dat die Solidariteit Beweging (en ander) krisisfondse gestig het. Instellings soos AfriForum speel ʼn sterk veiligheidsrol en Helpende Hand verlig dringende nood,” voeg hy by.

Sakeliga het op sy beurt verskeie inisiatiewe aan die dag gelê om soveel ondernemings se deure veilig oop te hou as moontlik. Noodsaaklik.co.za is een van hierdie inisiatiewe. Sakeliga het ook reeds verskeie regsmenings ingewin om sakeondernemings te bedien met goeie inligting.

  • Luister na Van Onselen se volledige uiteensetting van hierdie drie sakekwessies boaan die berig.
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media?Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Gaan kyk op youtube na david icke se corona viseo jy sal op jou rug val

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.