Luister in 3 minute: Nog ’n ekonomiese regrukplan op die kaarte

(Foto: Maroela Media)

In vandeesweek se uitgawe van 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, oor onteiening, Nersa en die jongste ekonomiese regrukplan.

Die Departement van Openbare Werke het verlede week die volgende weergawe van die wetsontwerp op onteiening gepubliseer.

Dit is nou die omstrede wetsontwerp wat poog om aan die staat die mag toe te ken om sonder vergoeding te kan onteien.

Dié wet is veronderstel om die wet van 1975 te vervang. Sommige regslui is blykbaar van mening dat die wetsontwerp billiker as die voriges is.  Die redenasie is dat die wet van 1975 nie meer gepas is nie.

Dit mag wel die geval wees, maar ʼn vollediger prentjie is nodig.  Die feit is, die staat wil sy onteieningsbevoegdheid uitbrei tot waar geen vergoeding regtens aanvaarbaar is. Dit is ʼn uiters omstrede idee in gemeenskappe wat private eiendomsregte respekteer.

Byvoorbeeld, een bepaling is dat eiendom wat “nie gebruik word nie” en hoofsaaklik vir “markwaardegroei” (spekulatiewe doeleindes) gehou word, vir nul rand onteien mag word. So ʼn bepaling is gevaarlik en kan die eiendomsmark en banksektor knou.

Die wetsontwerp loop saam met die beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet.

Nersa en Eskom is weer besig om mekaar te takel. Die rede hiervoor is ʼn stryery oor Eskom se aansoek vir elektrisiteitsprysverhogings.

Uiteindelik, so lyk dit, is Nersa en Eskom besig om ʼn probleem aan te pak wat moeilik binne die bestaande raamwerk opgelos gaan word.

Ons sien Eskom wat aanvoer dat swak kommoditeitspryse na swakker kragaankope uit mynbou gelei het. Daarom die swak inkomste – wat opgemaak moet word. Nersa (en ander) meen egter die inkomsteverliese is Eskom se skuld weens beurtkrag.

Maar is die groter probleem nie eintlik die veronderstelling dat Eskom bloot elektrisiteitspryse kan opstoot nie? Pryse is nie mos nie arbitrêr nie. Die regulatoriese raamwerk verskans verder vir Eskom van effektiewe mededinging en markdissipline.

Eskom se organisatoriese “kapitaal” het gedurig verswak, en innovasie en vernuwing is gestuit. Die vraag is of die huidige raamwerk dit kan omkeer en dissipline uit die lug kan gryp?  Ons meen die model moet weer bedink word.

ʼn Volgende ekonomiese regrukplan van die ANC-regering is onlangs deur die media gesien. Die plan word Donderdag amptelik bekendgestel.

 Die konsepdokument onder oë dui onder meer op ou ANC-idees in ʼn ander baadjie. Oor e-Visums, Eskom se opdeling, indiensnemingsaansporings en bemagtigingsfondse het ons vantevore gehoor. Verder word massa-staatsindiensneming en hoop op groot geleenthede in die vooruitsig gestel.

Die konsepdokument hou egter steeds die regering sterk aan die stuur van sake. Om skadelike beleid – soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) – terug te skaal is ook nie die plan nie. Trouens, die plan is om dit verder uit te brei.

Op bladsy 9 van die dokument word genoem dat “toegang gefasiliteer sal word tot plaaslike spaargeld vir groter ‘openbare nie-verbruiksbesteding’” (oftewel openbare investering).  Wat lyk soos burokraat-spraak in die rigting van voorgeskrewe bates.

Dit terwyl geraamde regeringsbesteding amper ʼn enorme 38% van BBP in Augustus bereik het (grafiek aangeheg).

(Grafika: Verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adam Adriaan ·

Die plannnnne van die regering is soos om sop sonder water te maak, sonder ‘n resep en sonder om dit te kook. Daar gaan niks van kom nie, want die regering kan nie die ekonomie dryf en bevorder deur dit te beheer met wette en voorskrifte nie. As hulle alle kommunistiese ideologie laat vaar en die privaatsektor toelaat om die planne te maak en te bestuur, kan daar miskien iets van kom. Begin heel eerste om die kabinet/regering en staatsinstellings met 80% te sny. Dit sal ‘n goeie vertrekpunt wees.

jzjz05 ·

Hoe kan dit werk ?,kyk eers hoekom die voorige planne nie gewerk het nie,wat is nou anders as daardie tyd ?.in alle geval as net sekere mense en seker rasse en al die BEE wette daarin deel het is dit gedoem tot n misluking.So moet nie veel verwag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.