Luister: Is jy dalk ʼn perfeksionis?

Foto ter illustrasie. (Foto: Pexels/Pixabay)

“Die een op die Enneagram se aandag is op perfeksionisme gefokus. Nie noodwendig in die uiterlike nie, maar in die sin van ʼn innerlike regter wat die wêreld verdeel tussen dit wat reg en verkeerd is.”

In die tweede episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram, vertel Louis Venter, kliniese terapeut, stigter van Couples Help en Enneagram-kenner, ons meer oor tipe 1, oftewel die perfeksionis.

Louis verduidelik dat iemand wat tipe 1 is vroeër in hul lewe geleer het dat liefde voorwaardelik is.

“En die voorwaardelikheid het beteken dat wanneer jy dinge goed, reg en perfek doen, dan word mense nie kwaad nie, jy hoor dat jy ʼn goeie kind is en jy voel dat jy behoort.”

Dus skoei ʼn tipe 1 hom- of haarself daarop om reëls en morele wette te volg, orde te skep en die omgewing te beheer.

Dit is dikwels ook mense wat selde gehoor het dat dit nie die einde van die wêreld is om foute te maak, of soms verkeerde dinge te doen nie. Hulle besef ook nie eintlik dat foute nie die gehalte van liefde en verbintenis in lewensverhoudings sal beïnvloed nie.

Hoewel ʼn tipe 1 dikwels die georganiseerde persoon in die vertrek is, en baie maklik is om mee saam te werk, ontstaan daar gereeld ʼn emosionele blindekol vir dié persoonlikheid.

ʼn Tipe 1 dra dikwels verwyt teenoor die mense om hulle op die hart, en voel eensaam in al die takies wat hulle verrig om orde te skep en te onderhou. Dit kan ook lei tot ʼn passiewe aggressie, met die een wat ook nie hul eie emosies, wat dikwels uit aggressie en woede bestaan, erken nie.

Skakel volgende week in vir die volgende aflewering van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram, wanneer ons oor tipe 2, oftewel die omgeemens, gesels.

  • Luister boaan na die tweede episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram om meer oor tipe 1 uit te vind.
  • Luister na vorige episodes in die reeks hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.