Luister: Knap só jou huis op voordat jy verkoop

Foto ter illustrasie. (Foto: Scott Webb/Unsplash)

Om jou huis binne op te knap voordat jy hom op die mark sit, hoef nie ʼn arm en ʼn been te kos nie.

Só sê Henck Conrey, aanbieder van kykNET se Vat jou goed en trek! en mede-eienaar van ʼn eiendomsagentskap, in die jongste episode van Maroela Media se podsendingreeks oor ideale skouhuise en hedendaagse dekorgiere.

“Om jou huis te stileer vir verkope, beteken nie dat jy geld moet spandeer of ʼn oog vir dekor hoef te hê nie,” sê Conrey.

“Deur maklike stappe te volg, kan jy verseker dat jou huis homself ten beste ten toon stel, dit kan ook ʼn ekstra paar rand in jou sak beteken en die verkoop van jou eiendom vinniger laat geskied.”

Conrey benadruk dat basiese opknappingswerk die rede kan wees waarom jou huis of eiendom vinniger verkoop word, en dat geen verkoper geld in die water wil gooi deur ʼn eiendom té lank in die mark wil hê nie.

Hier is ʼn paar handige, sakpas en basiese opknappingswenke vir verkopers wat so vinnig moontlik hul eiendom van hul hande af wil kry:

  1. Maak seker dat die huis netjies en skoon is. ʼn Warboel, soos vuil skottelgoed en wasgoed op die lyn, skrik potensiële kopers maklik af.
  2. Ruim die tierlantyntjies, wat jy deur die jare bymekaar geskraap het, op. Die huis moet versier word volgens wat ʼn koper in belang sou stel, en nie noodwendig wat jou smaak is nie.
  3. Maak seker dat jou woning nie net visueel mooi is nie, maar steek ʼn kersie aan of gebruik ʼn subtiele kamersproei om jou potensiële koper op ander maniere te lok. Onthou die reuke moenie te oorweldigend wees nie, dit moet subtiel wees. Jy kan selfs iets bak om die vertrekke warm te laat voel en soos ʼn tuiste te laat ruik.
  4. Jy is dalk baie lief vir Mattewis die kat of Wagter die boerboel, maar jou potensiële koper mag dalk net die hasepad kies indien daar honde- of kathare oral sigbaar is, of jou dierekinders die nuwe intrekkers dalk oorweldig met liefde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.