Luister: ’n Liggie vir elke bui

Foto ter illustrasie. (Foto: Etienne Girardet/Unsplash)

“Beligting is een van die belangrikste dekorelemente wat jy in en om jou huis kan aanbring.”

Só sê Henck Conrey, aanbieder van kykNET se Vat jou goed en trek! en mede-eienaar van ʼn eiendomsagentskap, in die jongste episode van Maroela Media se podsendingreeks oor ideale skouhuise, die eiendomsmark en hedendaagse dekorgiere.

Conrey meen dat beligting aangewend kan word om ʼn sekere atmosfeer te skep, kenmerke van jou huis se struktuur te beklemtoon en ʼn ruimte meer verwelkomend te laat voel. Dit word ook gebruik om ʼn vertrek warmer te laat lyk, en energie ten toon te stel.

Daar is drie soorte beligting waarop Conrey fokus: omgewingsbeligting, taakbeligting en aksentbeligting.

Omgewingsbeligting verwys na die oorhoofse beligting in ʼn vertrek, en word gewoonlik voorsien deur plafonligte en kandelare, verduidelik hy. Conrey hou veral van klein plafonligte, oftewel downlights.

“Dit is belangrik dat omgewingsbeligting eweredig versprei word, om die ruimte optimaal te verlig en enige harde skaduwees te vermy.”

Taakbeligting is ligte wat vir ʼn spesifieke doel, soos ʼn bed- of tafellamp, gebruik word, terwyl aksentbeligting sekere dele, hoekies of voorwerpe in jou huis beklemtoon.

Aksentligte kan ook gebruik word om fokuspunte te beklemtoon, en aandag te trek.

Wanneer jy besig is om jou beligting te beplan, stel Conrey voor dat jy ten alle tye die ruimte tot jou beskikking in ag neem. ʼn Lang gang mag dalk ander beligting as ʼn vierkantige slaapkamer vereis.

Die soort beligting moet ook by die funksie van die vertrek pas. ʼn Kombuis gaan byvoorbeeld helderder lig as ʼn slaapkamer vereis. Neem ook die styl van die vertrek in ag, aangesien die ligte daarby moet pas.

“Die gebruik van beligting is ʼn kragtige metode om ʼn vertrek mooier en meer funksioneel te maak. Die belangrikste is om nie bang te wees om te eksperimenteer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.