Luister: Organisasie gee beroertebehandeling hupstoot

Renathe van der Merwe, senior koördineerder van die Angels Initiative. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Beroertes is die tweede algemeenste oorsaak van sterfte in die wêreld en die derde grootste oorsaak van gestremdheid.

In Suid-Afrika is daar boonop elke 30 minute ’n beroertepasiënt wat óf permanent gestremd word, óf selfs sy lewe verloor weens mediese onkunde of verkeerdelike hospitaalplasings.

Daarom is die Angels Initiative, ʼn wêreldwye nie-winsgewende organisasie wat intree om hierdie tipe pasiënte ʼn beter kans om oorlewing te gee, op die been gebring.

Met konsultasieprosesse, protokol-ontwikkeling, opleiding en verskeie ander projekte help hulle beide staats- en privaathospitale om die gehalte behandeling en versorging van beroertepasiënte te verhoog en te optimaliseer.

Sedert 2016 is ‘n geraamde 7,5 miljoen pasiënte in meer as 6 000 “Angels-hospitale” wêreldwyd behandel, insluitend meer as 1 400 nuwe “beroerte-gereed” hospitale wat regoor die wêreld met behulp van die Angels Initiative gevestig is.

“Ons dink ongelukkig partykeer dat dokters, verpleegsters en paramedici baie tyd in hulle opleiding aan hierdie tipe siektestoestande spandeer, maar dit is ongelukkig nie die geval nie, want daar is soveel wat hulle in hulle opleiding moet dek. So, dís waar ons dan nou inkom,” verduidelik Renathe van der Merwe, senior koördineerder van die Angels Initiative, in die Maroela Media-ateljee.

Renathe gesels ook oor die belangrikheid van sorgvuldige behandeling vir beroertes en hartaanvalle, veral in ʼn land met sosio-ekonomiese uitdagings soos Suid-Afrika.

Sy verduidelik verder waarom dit belangrik is om nie beroertes slegs aan middeljariges te koppel nie en vertel meer oor die Angels Initiative-organisasie se FAST Heroes- internasionale bewusmakingsveldtog om veral die jonger garde oor dié toestand te leer.

Die FAST-akroniem, wat staan vir face, arm, speech, time, verwys na die maniere waarop veral grondslagfase kinders maklik die tekens van ʼn beroerte sal kan herken.

“Ons weet ons bly in ʼn samelewing waar kinders veral ná skool baie tyd rondom ouer mense spandeer, hetsy by naskooltannies of oumas en oupas, en geleer moet word wat om te doen as daar so noodgeval is.”

Sy gesels verder oor die Angels Initiative se opwindende opkomende pretloop, wat op 28 Oktober by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied word.

Benewens ʼn dag van pret en vermaak kan gesinne saam ʼn 3 km- of 5 km- staptog aanpak en boonop gratis gesondheidstoetse ontvang.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.