Luister: Wie is die omgeemense op die Enneagram?

Foto ter illustrasie. (Foto: sabinevanerp/Pixabay)

“Dit is mense wat altyd ander mense ondersteun, probeer om maniere te vind om ander te help en hul eie agenda in die agtergrond te hou.”

Só sê Louis Venter, kliniese terapeut, stigter van Couples Help en Enneagram-kenner, oor die tweede persoonlikheidstipe op die Enneagram.

In die derde episode van Maroela Media se podsendingreeks oor dié persoonlikheidsmodel, vertel Venter meer oor die wêreld, persoonlikheidsmotivering en bestaan van tipe 2 op die Enneagram.

“Hulle tel op, hou vas en gee raad. Wanneer hulle help, weet hulle dat hulle plek in mense se lewens het, wat weer beteken dat hulle behoort.”

Hierdie omgee-karaktereienskap is een wat dikwels met ma-wees verbind word, verduidelik Venter. Tog is dit maklik om te onderskei tussen ’n ma wat omgee omdat sy moet, en ’n tipe 2 wat omgee omdat dit haar persoonlikheidsingesteldheid is.

“’n Tipe 2 doen dit al sy lewe lank.

“’n Ma wat ’n tipe 2 is, is ’n ongelooflike ma. Ma-wees gee vir hulle eintlik ’n dieper betekenis binne hul omgee-rol, hulle vind ’n groot gevoel van vervulling daarin.”

Iets wat hierdie persoonlikheidstipe dalk nie vroeër in hul lewe gehoor het nie, is dat daar niks fout is met ’n mate van skeiding tussen mense nie. Hulle het ook nooit aanvaar dat daar eintlik niks daarmee fout is om eie behoeftes te erken en soms eerste op die prioriteitslys te plaas nie. Daarmee saam is selfsug iets wat ’n tipe 2 vrees.

Waar konflik is, sal die tipe 2 nie wees nie.

“Konflik veroorsaak ongelooflik baie sielstres vir ʼn tipe 2. Hulle onderdruk dikwels wat hulle voel.”

Wanneer die mense om die tipe 2 nie hul hulp aanvaar nie, kan dit tot woede lei. Daar word ʼn afwagting geskep dat die mense om die tipe 2 altyd afhanklik van hul hulp sal en moet wees.

“Twees bly die warm mense. Die hartklop van die samelewing, wat natuurlik gee. Dit is die moeder Theresa’s van ons wêreld.”

Skakel volgende week in vir die volgende aflewering van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram, wanneer ons oor tipe 3, oftewel die presteerder, gesels.

  • Luister boaan na die derde episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram.
  • Besoek Louis se webwerf, Couples Help, hier.
  • Luister na vorige episodes in die reeks hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.