Musiekvideo: Ricus Nel gesels oor drome, sukses en sy jongste musiekvideo

Ricus Nel het ‘n draai in Maroela Media se ateljee kom maak. Foto: Verskaf.

Ricus Nel was jare lank die musikant wat 13 instrumente bespeel op die agtergrond vir die groot name in die bedryf, maar deesdae is hy self ʼn gerekende superster van die Afrikaanse musiekbedryf.

“Ek het opgekyk na manne soos Steve, Theuns, Bok, Robbie en Dozi. Ek was deel van hulle orkes en het gehelp met die vervaardiging van hulle musiek in die ateljee, maar nooit gedink ek sal op die voorgrond wees nie.

“Die Here het op ʼn wonderbaarlike manier vir my deure geopen op ʼn manier wat ek nooit kon voorsien nie en nou is ek self op die verhoog.

“Ek wil vir mense sê moenie dink jy kan nie iets doen nie. Hou aan probeer, droom en bid daaroor – dit is belangrik, want drome kan vir enigiemand uitwerk.”

Nel sê sy musiekloopbaan was vir hom ʼn “lekker paadjie” om te stap. Hy meen hy het soveel geleer deur eers ander bekende name in die musiekbedryf te ondersteun en saam met hulle te toer.

“Vandag is ek self op die voorgrond en ek is ongelooflik dankbaar daarvoor.”

Oor die wegholsukses van “Boerepompie” wat hy saam met Snotkop opgeneem het, bly Nel steeds baie beskeie.

“Jong, ʼn mens is nooit heeltemal seker oor hoe jou aanhangers ʼn liedjie gaan ontvang nie, maar ek moet sê dít was die eerste liedjie wat ek vermoed het goed sal kan werk.

“Ek het 18 maande lank met hom binne-in my rondgeloop, maar tog ʼn goeie gevoel oor die liedjie gehad. Ná ‘Hardekole’, wat net so ʼn groot sukses was, wou ek weer iets goeds doen en uit die aard van die saak wou ek getrou aan myself bly, maar ook nie weer net ʼn duplikaat van dié lied maak nie. Dit is hoekom ek so lank gewag het, maar ek het geweet ek wil dit saam met Snotkop doen.”

Hy meen die sukses van “Boerepompie” lê juis in die besonderse sinergie tussen hom en Snotkop. ʼn Bykomende bonus van die lied is, dit maak oud en jonk weer opgewonde oor boeremusiek. “Self jong kinders luister saam na die liedjie en almal wil nou weer ʼn konsertina hê,” sê hy laggend.

Nel sê daar is nie druk op hom om dié sukses van “Boerepompie” met sy jongste enkelsnit, “Bokkies jag”, te herhaal nie.

“My musiek is nie ʼn kompetisie nie. Ek doen wat uit my hart kom en as die mense soveel daarvan hou, is dit ʼn bonus.”

Hy glo sy “Hardekole”-aanhangers sal weer aanklank by “Bokkies jag” kan vind. “Dit gaan oor oom Frikkie daar anderkant Tolwe wat ek ontmoet het. Hy is lief vir bokkies jag en die mense moet maar self gaan uitwerk van watter bokkies oom Frikkie nou eintlik praat. Dit is maar net ʼn lekker liedjie, man!”

Hoogtepunte en toekennings

Nel sê 2019 was die besigste jaar van sy musiekloopbaan tot dusver: “Dit is iets waarvoor ek mateloos dankbaar is. Ek het op plekke gaan speel wat ek nie eens geweet het bestaan nie, ek het selfs ʼn draai op Kestell gaan maak.”

Hy meen dat vanjaar se Krone-konsert beslis vir hom ʼn hoogtepunt was. “Ek is so geseënd om weer deel te wees van hierdie konsert, iets wat altyd vir my lekker was, maar dit was vir my ʼn voorreg om die konsert te kon afsluit met ‘Boerepompie’.

“Daar het goed uit die dak geskiet en goed het ontplof en daar op die verhoog het dit my nou behoorlik soos ʼn internasionale superster laat voel.”

Sy Hardekole-konsert saam met drie van sy vriende, Bok van Blerk, Refentse en Adam Tas, was ook vir hom ʼn hoogtepunt. Hy meen die Bokkie-toekenning wat hy en Snotkop vroeër die maand ontvang het vir liedjie van die jaar sal as nog ʼn hoogtepunt van 2019 uitstaan.

Nel sê hy sien ook daarna uit om vanjaar weer deel te wees van die Afrikaans is Groot-konserte.

“Die span van Afrikaans is Groot kry dit elke jaar reg om asemrowende toertjies met ʼn paar liedere te doen. Verlede jaar het Snotkop soos ʼn waffers 007-spioen met ʼn helikopter op die verhoog geland – wie sou nou kon dink ʼn mens kan so iets binne ʼn arena regkry – maar dit is gedoen.

“Vanjaar mag ek nou nog nie sê wat gaan gebeur nie, maar ek vermoed ek en Snotkop is beslis by een van die hoogtepunte van vanjaar se Afrikaans is Groot-vertonings betrokke. Ons gaan op ʼn besonderse manier op die verhoog kom en ek dink nie mense sal verwag dit gaan moontlik wees nie, maar hulle sal maar moet kom kyk,” sluit hy af.

  • Ricus Nel het ook ʼn draai in Maroela Media se ateljee kom maak en met ons gesels oor sy jongste musiekvideo van die lied “Bokkies jag”. Hy het ook gesels oor die wegholsukses van “Boerepompie” wat hy saam met Snotkop opgeneem het en wat aanhangers by vanjaar se Afrikaans is Groot-konserte kan sien.

Gryp ʼn koppie boeretroos en geniet Ricus Nel se splinternuwe tong-in-die-kies musiekvideo van “Bokkies jag” eerste net hier op Maroela Media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Ricus , Seker die beste musiek kunstenaar in SA. Gaan groot ou Seun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.