Opgestel deur die Podlitiek-span
In hierdie week se vurige episode vol debat en redenering ontnonsens Podlitiek se paneel oudergewoonte die week se nuus en politiese gebeure. Hierdie week kyk hulle na MiWay se uitvoerende hoof, René Otto se sosialemedia-opmerkings, die EFF se plan om die Reserwebank te nasionaliseer, en AfroWorld View, wat vroeër as ANN7 bekendgestaan het, se onlangse sluiting.
In ’n onlangse twiet sê René Otto, die uitvoerende hoof van die versekeringsreus MiWay, dat die berugte boek The lost boys of Bird Island hom laat besef het dat Afrikaners hulself nie as God se uitverkore volk behoort te sien nie. Die paneel verwerp hierdie veralgemening onomwonde, maar verskil oor hoe die saak nou benader moet word. Paul voel dat MiWay en hul bestuur eerder moet optree as wat die publiek ’n maatskappy aanvat vir een persoon se opmerking, terwyl Daniël Eloff, en gereelde gasaanbieder Daniël du Plessis, voel dat die maatskappy aan die pen moet ry vir die opmerkings van hul bestuurslid.
Die gesprek draai dan na die EFF se onlangse voorstel om die Suid-Afrikaanse Reserwebank te nasionaliseer. In hul nuutste poging om oproer voor die verkiesing te verwek en Suid-Afrika na sosialisme te druk, het die EFF onlangs aangevoer dat die SARB onder groter staatsbeheer moet val. Daniel du Plessis gee ’n deeglike analise van wat presies hierdie skuif in die praktyk sou beteken vir die bestuur van die tans onafhanklike Reserwebank. Die paneel draai nie doekies om in hul veroordeling van hierdie skuif nie, en bespreek die katastrofiese gevolge van so ’n skuif in diepte.
Hierdie week se episode word dan afgesluit met ’n bespreking oor iets anders wat onlangs finaal afgesluit het: naamlik AfroWorld View, wat tot en met Maandagaand op kanaal 405 op DSTV te sien was. Is dit reg dat ’n mediareus soos Naspers inderwaarheid kan besluit wie se stem gehoor mag word, en wie liewer moet stilbly? ’n Verdere punt van bespreking is die reaksie op sosiale media, met verskeie persone wat hierdie kanaal se einde, soos bewerk deur MultiChoice se besluit om nie hul kontrak te hernu nie, op die eienaars se ras blameer. Die rol van ras en inhoud word deeglik ontleed.
Die onlangse nuwe insetsel – die Twitter-trit van die week, word voortgesit. Hierdie week kom ’n onlangse Twitter-profiel “Grapartheid” in die paneel se visier.
As jy ’n geslypte opinie oor nasionale politiek wil hê, dan is Podlitiek die podsending vir jou! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm en iTunes te volg.
https://www.youtube.com/watch?v=cVhueSJiuYU
Lekker episode maar ek voel altyd dat julle so vinnig deur die episode moet jaag.
Waar is Hermann heen?