Podlitiek: Plaaslyste, medialuise en die Grondwethof luister

Van links is Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Louis Meintjes, president van TLU SA (14 Augustus 2018). Foto: Rozier van Tonder

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie week se skitterende episode ontduister Podlitiek se twee gereelde aanbieders, Paul Maritz en Daniël Eloff, saam met gasaanbieder Daniel du Plessis, drie vreemde fenomene: Lyste met plase in gevaar, mediafoefies en sensasie, en die lot van ons eertydse hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), ene Shaun Abrahams.

Dit is ironies dat ons Grondwet se posisie juis oor grond onlangs so drasties verwarrend geraak het. En dit is nie net op ’n teoretiese vlak nie – die verskyning van ’n lys van plase ter onteiening het nou talle eienaars (en ook gewone Suid-Afrikaners) in rep en roer. Die driemanskap is dit eens – hierdie is ernstige sake en ’n bietjie paniek oor ons land se posisie is geregverdig. Paul druk sy frustrasie uit met nuuskommentators wat juis hierdie geregverdigde kommer veroordeel – en eerder sou wou hê dat die lys vir tyd en wyl onder die radar moes bly. Daniël veroordeel die ANC se voortydige aankondiging van hul grondhervormingstrategie – nog selfs voor die konsultasieproses afgehandel is.

Paul benut dadelik die geleentheid om die gesprek in die rigting van die toestand van die Suid-Afrikaanse media te stuur. Hy wys daarop dat, ondanks die wye verskeidenheid van nuusbronne in Suid-Afrika, daar egter steeds ’n mate van onverantwoordelikheid en partydigheid teenwoordig is in verslaggewing. Is daar enige mediahuise sonder agendas? Daniël is dit eens, maar voeg by dat hy vermoed dat die rol van die media so ietwat verander het in die eeu van die internet. Waar daar oorspronklik ’n streng verwagting van absolute objektiwiteit was, is daar nou eerder ’n geleentheid vir verslaggewers en mediaverbruikers om ’n tuiste vir hul eie politieke sieninge te vind. Daniel sien juis in hierdie verskynsel na beter ingeligtheid – waar mediahuise bewus (en duidelik) is oor hul politieke voorkeure, sal dit juis vir lesers meer mag gee in die vorm van hul eie menings.

Gasaanbieder Daniel du Plessis sluit die sessie af met ’n vinnige bespreking van Shaun Abrahams, voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, se onregmatige aanstelling – en die stappe wat die konstitusionele hof in reaksie daarop gedoen het. Daniël wys daarop dat daar beslis ’n saak te maak is dat, hoewel hierdie ’n goeie ding is, dit dalk tog kommerwekkend is hoe ingrypend die hof se rol in ons regering geword het. Paul speel duiwelsadvokaat en stel voor dat die onsekerheid tans dalk net die laaste stuiptrekkings van die Zuma-regime is. Nadat die span hierdie argument vlugtig oorweeg, is die gevolgtrekking egter duidelik – die nuwe bestel maak net soveel gebruik van die problematiese ideologieë wat ons in die eerste plek in die moeilikheid gekry het.

Hierdie week skop die Podlitiek-span af met ’n nuwe insetsel – die Twitter-trit van die week. Met soveel meningsvormers en suurstofdiewe op die internet, is daar altyd ruimte om uit die Twitterati se foute te leer – en vandeesweek leer ons uit dié van ene Elon Musk. Musk se kontroversiële aankondiging van privaat befondsing vir Tesla het gelei tot drastiese skuiwe in die aandelemark – soveel so dat Musk nou dalk vir markmanipulasie gedagvaar gaan word. Dit wys jou net! Saam met ’n groot gehoor behoort daar groot versigtigheid te wees.

Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Barry H ·

Lekker soos altyd om na julle te luister, ek is persoonlik bly dat die lys gepubliseer is, die regering se intensies is sekerlik duidelik!

Kalahari Kind ·

Die beste een nog! Dankie, ek geniet julle gesprekke elke week. Dit was broodnodig dat iemand dit uitlig hoe onregverdig en partydig joernaliste deesdae optree.

Adoons ·

Beste episode nog! Ek is bly om te hoor dat julle almal bietjie vurige begin stry en praat. Julle moet oorweeg om die episodes op te neem vir youtube.

Danie Erasmus ·

Verander die grondwet en die ANC kry n vrypas om die land se bates op n konstitusionele wyse verder te plunder. Die plase in Limpopo wat op die lys verskyn is minneraal ryk. Ek glo soos wat daar n plaaslys bestaan is daar ook n lys van toekomstige eienaars. Grondgrype gaan net soos in Zimbabwe plaasvind maar hierdie maal net grondwetlik. Hierdie rondte gaan nie oor landbou grond gaan nie maar oor minerale. Die arme klomp geraasmakers speel maar net in die hande van die manne in die hoe range met ambisie Die aanloop tot onderhandeling vir die hoogspanningslyn na die Limpopo is ver gevorder.

Louise ·

Ondersoek asb die verband tussen die Chinese lening en die spesifieke plase wat op die lys is. Mineraalregte?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.