Podlitiek praat erfenis

braai-erfenis

Die span van Podlitiek gesels oor Braaidag en Erfenisdag. Foto: Verskaf.

Opgestel deur die Podlitiek-span

Spesiale geleenthede vereis spesiale bederf – soos ’n spesiale uitgawe van Podlitiek.

Op hierdie Erfenisdag gesels Paul Maritz en Daniel du Plessis met Gielie Hoffman oor erfenis in Suid-Afrika – en dan ook die erfenis van Afrikaners in die besonder. In vandag se spesiale episode word ondersoek ingestel na alle aspekte van die Afrikaner-erfenis (goed, sowel as sleg), hoe ons vandag daarmee behoort om te gaan – en wat die toekoms vir hierdie erfenis inhou.

Gielie kom vanuit ’n sielkundige agtergrond. As ’n geestesbreier het hy begin om atlete en spanne te help om beter te presteer. Sy ervaring daar het hom gelei tot die gebied van leierskap, besigheid en kunste. Hy is ook ’n gereelde rubriekskrywer, waar hy die skakels tussen makro-kwessies en mikro-ervarings ondersoek in sy skrywe oor kultuur, identiteit en verandering.

Die gesprek begin met ’n bespreking oor die woord as sulks. Hoe definieer ons erfenis? Is dit iets wat vervaardig of geskep kan word? En, indien nie, waar behoort Suid-Afrikaners (en Afrikaners) dit te vind?

Gielie begin die bespreking deur sy definisie van erfenis te gee – dit wat oorgegee word van geslag tot geslag, direk en indirek, in families en in gemeenskappe. Erfenis is iets wat selfontwikkelend en dinamies is. Hy is, dus, skepties oor enige pogings om erfenis te vervaardig.

Paul wys uit dat die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse erfenis, natuurlik, nie alles net positief is nie. Hoe maak mens dan, met ingewikkelde en pynlike erfenis?

Gielie beklemtoon die beginsel van kompleksiteit – net soos talle ander nasies oor die wêreld heen, is die Afrikaner se erfenis ’n komplekse aangeleentheid. Mens kan eintlik, na sý mening, net met erfenis werk as jy deeglik bewus is van die goeie en die slegte; mens neem die beste en los die slegte.

Natuurlik kan mens nie oor die negatiewe aspekte van die Afrikaanse erfenis praat sonder om dadelik te dink aan die maniere waarop Suid-Afrika aandag aan hierdie kwessies probeer gee het nie. Gielie is van mening dat die oorgangstydperk in die middel 90’s ’n geleentheid was om regtig aan te beweeg – vir Afrikaners, maar ook vir Suid-Afrika in die algemeen. Na sy mening is hierdie geleentheid egter tragies verspil, en sou hy graag wou sien dat daar ’n meer doelbewuste poging in daardie tyd was om gedeelde verantwoordelikheid te neem.

Paul gebruik hierdie geleentheid om pogings om ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse erfenis te skep, te ondersoek. Afgesien van braai, wat alle Suid-Afrikaners natuurlik geniet, is daar enigiets wat ons in gemeen het? Is dit werklik ’n lewensvatbare oefening? Die paneel is dit eens – ’n kunsmatig vervaardigde erfenis het ’n fatale gebrek aan geloofwaardigheid.

Ter opsomming van hul bespreking, vra Daniel vir Gielie wat hy vir jong Afrikaners sou sê as dié hom vra hoe om met hul geskiedenis om te gaan. Die antwoord, sê Gielie, lê daarin om, eerstens, bewus te wees van wat werklik in die verlede te gebeur het, en om te verstaan watter gevolge dit vir Suid-Afrika vandag inhou.

Die gesprek draai na “white privilege” as konsep. Daniel beklemtoon dat dié konsep gevaarlik kan wees vir daardie lede in die Afrikaner-gemeenskap wat juis die slegste daaraan toe is. ’n Kort debat volg oor hoe ons behoort te dink aan bevoorregting en in watter mate breë gemeenskaps-identiteite die basis van beleid behoort te wees. Heel tereg wys Gielie daarop dat dit ’n bietjie ver van die episode se eintlike onderwerp staan, maar ’n interessante gesprek vir ’n ander geleentheid kan wees.

Ter slotte vra Paul vir Gielie vir ’n kort opsomming vir sy voorstel vir die pad vorentoe. Die antwoord, sê hy, is om ’n nuwe erfenis te kweek – en dit is net moontlik wanneer mense werklik gerus en veilig in hul omstandighede voel. Wanneer ons verbind is tot Suid-Afrika (en juis daarom bereid is om moeilike gesprekke te voer) kan mens ’n ware erfenis begin skep.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

dr. Sakkie van der Merwe ·

Die wanpersepsie dat daar na 1994 aanbeweeg sou word na ‘n beter bedeling is ‘n drog redenasie. Hoe beweeg ‘n volk aan as hy gestroop word van sy eie identiteit, sy godsdiens misken word, sy simbole uit die verlede verwoes word? Erfenis le daarin dat ons moet put uit dit wat ons voorvaders oorgedra het naamlik geloof, eerbied, respek. daarvan het niks oorgebly in die mandela reenboog nasie nie. Geen volk kan opgaan in ‘n multi-kulturele samelewing nie want dan verloor jy jou identiteit en is jy gedoem tot uitwissing.

Snowball ·

Wat maak my ‘n Afrikaner? My taal, my geloof en my kultuur en hieruit vorm my lewensbeskouing en perspektief. Dit lê verweef in my genetiese geheue, vanaf die Europese wortels waarby ek vandag nog aanklank vind, die liefde vir my taal wat op hierdie bodem ontstaan het vanweë ‘n reënboog van mense wat op die Suidpunt van dié vasteland bymekaar gekom het en uiteindelik ‘n gemeenskaplike dialek moes kry, wat uiteindelik ‘n nasie geword het met harde koppe, eeltgewerkte hande en harte wat net so warm geklop het vir hierdie land soos die hitte van die Afrikason. Die geskiedenis, van elke nasie op aarde is bevlek met sleg, so ook die Afrikaner s’n. Niemand kan dit ontken nie en ons moenie, want ons moet leer uit ons foute. Die Afrikaner vandag moet soos elke etniese groep in SA, sy verlede erken, koester waarop hy trots is en gegun word om wat kosbaar is vir hom te behou, sonder voorbehoud, sonder oordeel, soos ons ook dit aan ander moet gun. Ons deel almal ‘n liefde vir die Suidpunt van Afrika en dit behoort ons genoeg in gemeen te gee om mekaar halfpad te ontmoet, of ons nou braai vandag of nie.

Steve Hofmeyr ·

Hoe las mens by hierdie twee sterk voorafgaande inskrywings? Ek is eens met dr Sakkie en Snowball.

Willem ·

Ek sekondeer die bostaande kommentare, daarsonder is ek niks. En gaan jul mense wat hier lees die Voortrekkermonument vandag besoek? Dalk ‘n aandenking soos bv ‘n boek koop? En nou praat ek van nuwe toevoegings tot ons kultuur, daar sal sekere interessantes wees.

André ·

Ek is die ou wat die maand in twee geskeur het. Ek verjaar op die 15 de, in die middel. Dieselfde maand as Steve, terloops baie geluk. Kyk, die eerste helfte van die maand is dit blommemaand, die tweede helfte kan dit enige seisoen wees.

Maar dit is nie my skuld nie, ook nie dat ek wit en bevoorreg is nie. Party mense blameer JvR, maar hy het dit ge-erf, ook my stamvader wat so twee jaar na hom hier aangekom het. Ons wat nou gedwing word om die oorsaak vir dié wat ons blameer na te vors, want die kundigheid ontbreek by hulle (hulle het nie internet en Google nie).

Die skuld lê by my stamvader se voorouers (Hugenote-voortrekkers) en verder terug, wat hier by 1535 van Frankryk as geloofsvlugtelinge na Nederland gevlug het. Mens kan dit in die geskiedenis naspoor tot by Adam wat die vrug van die boom gegaps het. Daardie jare was dagga nog nie bekend nie.

Jerry ·

Veiligheid, maar ook ander faktore speel n rol deurdat Afrikaners hulle erfenis vier deur groot byeenkomste te vermy en dit liefs in gesinsverband tuis te beoefen. Rugby stadions is leeg, behalwe as die springbokke speel. Kerke is nie meer tot oorlopens toe vol nie. By openbare plekke is geen witgesigte te bespeur nie ens. Ons bid, braai, kuier lekker tuis met intelligente geselskap en dan bid ons weer. Dit is ons erfenis, nie om na politieke toesprake te luister nie!

Willem ·

Jy kan my muisvalletjie van 24 jaar oud erf. Terloops daar sit nog ‘n stukkie ou kaas in vas.

John ·

Wat beteken bevoorreg? Vir Afrokane om by 60 milj uit te gekom het, moes hulle hul oe gesluit het vir die feit dat onverantwoordelikheid die een of ander gevolg het. Vir ‘n buurman met 8 kinders of meer en talle vroue, om vir sy ander buurman met een vrou en twee kinders se se hy is bevoorreg, is verregaande. Miskien moes hy net na sy eie reg op keuses verwys het, want dit is waar die verskil le. Erfenisdag sal binnekort ‘n bespotting wees met net een deel van die bevolking wat glo hulle besit eintlik alles en hul nageslag moet alles erf. Wat het die Afrikaner met mense so ‘n mentaliteit te deel?

Staak saam ·

Uit die ou RSA het daar n paar vakansie dae saamgekom, hulle is ner herdoop met vreemde name, hierdie vertraping is deel van die NSA ervenis en ek deel nie daarin nie, enige liberale wat nog honger het aan braai kan maar gerus wegval aan my porsie ervenis.

Daar is niks meer te erwe nie, behalwe armoede, moord, roof, misleiding, afguns, hoogmoed en godeloosheid, hiervan is daar in oorvloed.

Johan ·

Gielie, ja n klein groepie soos jy sê word geimpak met diskriminasie vir universiteit toelating, maar die res word geimpak met BEE. Wat nou gemaak?

Ook jou persepsie van die besteding op swart skole gedurende apartheid is verkeerd. Daar was in vandag se terme miljarde Rande gespandeer om infra strukture vir die swart gemeenskappe te bou. Die besteding van R1 op n swart kind vs R7 op n wit kind neem dit nie in ag. Watse skole was daar voor die apartheid skole vir die swart gemeenskappe?

Ek wonder ook hoekom so baie van die ANC, SACP, COPE ens. se leiers en duisende ander swart mense matriek en universiteits grade gekry het gedurende apartheid. Was hulle ook erg bevooreg? Seker ook n “mikro/makro” gesprek soos jy sê.

Ek sê nie apartheid was goed nie maar moenie die propoganda as feite gebruik om die “white guilt” retoriek te regverdig. Gebruik teen minste die regte feite as n fondament vir jou sienswyse.

Barend ·

Ek stem. My pa was in die apartheidsjare vir ‘n klomp jaar inspekteur in kleurling onderwys, so ek kan daarvan getuig dat jy korrek is. Gielie ,sien ek, is ook gedurig daarop uit om te meld dat hy as wit persoon bevoorreg is. Lees gerus hier bo wat skryf Andre hoe ver terug gaan wit bevoorregting.

Stefan ·

Ek is mal oor Gielie se analise oor ons land se geskiedenis, hede en toekoms. Hy is volgens my een van die voorste denkers in die Afrikanerkultuur. Dit is baie waar wat hy se. Ons moet daarteen waak om slagoffer te speel en te kla eerder as om progressief te dink en op te tree. Dankie Giele! Hou so aan!

Barend ·

“Voorste denkers in Afrikanerkultuur”????? Waaaaou man! 100 vir jou, jy kan maar!

Therese van Schalkwyk ·

Die Waarheid- en Versoeningskommissie, wat destyds wêreldwyd bewonder en opgehemel is, was dus een groot klug. Stapels traandeurdrenkte sneesdoekies was pure verniet, want meer as twee dekades later sê Gielie op 24 Sept. 2018: ” jy kan nie aanbeweeg as jy nie erken nie … ”
Hierdie paar woorde weerspreek m.i. die res van sy sinvolle boodskap.
(Tensy dit op die swart jeug óók van toepassing gemaak word.)

Eers wanneer Gielie se kinders en kleinkinders stééds op skooluitstappies na die Apartheidsmuseum en in die Geskiedenisklas van witbevoorregting hoor, sal hy besef hoe aardskuddend hierdie woorde van hom is. Voortdurende (skuld)erkenning impliseer tog immers boetedoening en vir miljoene permanent verontregte Suid-Afrikaners sal geen boete ooit groot genoeg wees nie.

Jerry ·

Afrikaner organisasies se doel in die lewe moet wees om die jeug instaat te stel om n keuse uit te oefen om te bly of om te emigreer. Dit is n groot onreg wat Afrikaner organisasies teenoor die jeug pleeg deur net inisiatiewe te loods wat tot voordeel is vir die jeug in SA, juis omrede ons weet dat sosialisme en nasionalisering beide die ANC en EFF se ideaal is waarna die massas hunker en strewe en die dag wat daardie ideaal realiseer sal die Afrikaner jeug die groot verloorders wees.

Dal ·

Aparte ontwikkeling het bloot beteken ander groepe het ander lande gekry. Ek sal nie skuldig voel dat ons van die republiek n sukses gemaak het deur klipharde werk nie, ek kan nie help Transkei, Venda en en het nie soos ons vooruitgegaan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.