Podlitiek: Skisofrenie in die staat, IVP-leierskap en spraakvryheid

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Opgestel deur die Podlitiek-span

Die nuussiklus in Suid-Afrika laat ’n mens dikwels dink aan ’n droë loop wat vir maande aaneen byna geen water het nie en dan ewe skielik oorstroom word. Hierdie week het ’n storm gewoed en die stroom bergaf gekom, en Daniël Eloff, Hermann, Pretorius, Paul Maritz en Ernst van Zyl probeer jou, as luisteraar, help om as’t ware kop bo water te hou.

Die debat van president Cyril Ramaphosa in die parlement, wat verlede week plaasgevind het, kom eerste aan die woord. Kompleet asof pres. Ramaphosa twee verskillende toespraakskrywers gebruik het, begin hy deur oor beleggersvertroue te praat en te stel hoe belangrik dit is dat internasionale beleggers rustig voel oor hul beleggings in Suid-Afrika. Skaars ’n asemteug later, het die president ondubbelsinnig die Nasionale Gesondheidsversekering (NVG), voorkeurbelegging vir pensioenfondse en ander beleide verdedig en daaroor uitgebrei, ofskoon hy nie besef hoe onseker dit nie net internasionale beleggers maak nie, maar ook Suid-Afrikaanse beleggers. Podlitiek bespreek hierdie absurditeit.

’n Volgende punt om van kennis te neem in hierdie besige nuusweek, is dat die IVP ’n nuwe leier aangekondig het. Sondagmiddag is Velenkosini Hlabisa as nuwe leier van die party aangewys, ná 44 jaar van Mangosuthu Buthelezi se leierskap. Wat hou hierdie nuwe leierskapsera vir die IVP en Suid-Afrika in? Podlitiek wonder of daar meer ruimte vir gemeenskappe geskep sal word as die IVP die klem op gemeenskappe en taalgroepe ’n bietjie versterk.

Die derde onderwerp, wat ook die meeste van hierdie episode se gesprek opneem, handel oor die idee van vryheid van spraak, met spesifieke verwysing na die ou Suid-Afrikaanse vlag, waarvan die vertoning verlede week as haatspraak bestempel is deur die Johannesburgse hooggeregshof. Hoe belangrik is vryheid van spraak, of gaan dit hier oor baie meer as net beginsels? Luister gerus na ’n vurige debat onder die Podlitiek-paneel, om ook self jou mening te lei en te beïnvloed.

Is jy moeg daarvoor om nie te kan saampraat om die braaivleisvuur nie? Podlitiek is die antwoord vir jou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Domeritus Danie Malan ·

Klip in die bos-vraag: Hoe betroubaar outentiek is die Engelse vertaling van die Ruwe (sic!) SA se Volkslied soos wat dit in Wikipedia verskyn? Daaroor word opnuut weer in die sosiale media ernstig gedebatteer n.a.v. die EFF se agitasie dat die eerste gedeelte van die STEM daaruit verwyder moet word en omdat sommige persone beweer die Xhosa, Zoeloe en Sotho-gedeeltes van Nkosi Sikele kom o.a. neer op (heidense) voorvader- gees-aanbidding en dat dit dus nie ‘n gebed tot die Skepper en Onderhouer van die heelal is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.