ToekomsVenster: Die oortjies van die seekoei

Foto: Shereena Cook/Unsplash

Ek hoor vanoggend iemand hierdie uitdrukking gebruik en dit neem my gedagtes gevange. Daar is eweknieë soos die punt van die ysberg en die olifant in die kamer. Wonderlik hoe metafore soos hierdie ʼn mens kan begelei om jouself, ander en in besonder God en sy bedoeling met jou lewe beter te verstaan.

Vandag wil ek dit benader vanuit die gebrokenheid van ons eie bestaan.

Ons het dit al dikwels vir mekaar gesê dat die uitdagings waaronder ons in Suid-Afrika leef buitegewoon is. Ek lees net die afgelope week dat ons land die sesde onveiligste land ter wêreld is wat mense se belewenis betref. Dit is uiters ontstellend dat ons so van koers af geraak het. Dr Braam Hanekom pleit vir ʼn vredesakkoord om ten minste ʼn poging aan te wend om die aggressie en woede in ons samelewing aan te spreek. Ons sal later daaroor gesels.

Terug na die seekoei. Ek is seker dat die meeste van ons al by ʼn dam verbygery het en net die twee beskeie ore van die seekoei sien uitsteek het. As jy nie geweet het nie sou jy aanvaar dat dit drywende plante of iets dergeliks kan wees. Dis wanneer die gedierte te voorskyn kom dat jy agter kom dis kolossaal. Wat bo uitsteek is nie eers naastenby ʼn aanduiding van wat onder die water versteek is nie.

Ons leef ook somtyds so. Ons interpreteer nie wat in en rondom ons gebeur nie. Ons aanvaar dat dit sommer kleinighede en alledaagse irritasies is totdat die bom bars (nog ʼn metafoor). Dan is ons uiters verbaas dat daar soveel verskuil was waarvan ons oënskynlik nie geweet het nie, of dalk nie van wou weet nie.

Jy kan die olifant in die kamer nie ignoreer nie. Jy moet daarmee handel. Dit gaan nie wegraak nie. Dit mag verwys na iets in jou eie menswees wat kort kort manifesteer maar wat jy kontinu onderdruk. Dit mag in jul huweliksverhouding of ander verhoudinge skuil. Dit mag aan jou kant of die anderkant wees. Dit is dalk by beide teenwoordig.

Suid-Afrika is daarvan ʼn sprekende voorbeeld. Ons sal met die seekoei onder die water moet hanteer. Dit gaan nie wegraak nie. Ontkenning of verontskuldiging, blameer en vingerwys gaan ons nêrens bring nie. Daar is goed waaroor gepraat moet word.

Daar is uitnemend toegeruste mense wat jou kan begelei om die saak wat so ontstel behoorlik te ontrafel en genesend en oplossingmatig daarmee te handel. Doen navraag by jou gemeente.

Doen dit voordat die seekoei jou stormloop en verpletter.

Jes. 1:18 – Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.