ToekomsVenster: Verskonings, verskonings en nog verskonings

Foto: Bonnie Kittle/Unsplash

Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. – 1 Joh. 1:9

Ek ry gister na Pretoria en kry pligsgetroue verkeersbeamptes langs die pad toegerus met die kamera om oortreders vas te trek. Uiteraard gaan dit oor mense wat nie by die spoedgrens hou nie. Tot my verbasing staan hulle die slag op ʼn opdraande en nie soos gewoonlik by ʼn afdraande nie. Voor ek my kon kry is ek in gesprek met hulle omdat hulle my afgetrek het ( nie regtig nie, net denkbeeldig).

Sou dit ʼn afdraande wees sou ek as verweer aanbied dat die motor spontaan vinniger beweeg as gevolg van die pad. Dis tog duidelik dat ʼn motor vinniger teen die afdraande gaan beweeg as omgekeerd. My voet was hoeka van die pedaal af. Moes ek dan my remme aan die onnodige stres onderwerp en die spontane spoed van die kar beheer? Enige redelike mens kan dit tog verstaan, of hoe?

Sou hulle my teen die opdraande aftrek het eweneens ʼn verweer. Om die opdraande effektief te bemeester moet ek voet op die pedaal hê. Die bietjie vinniger ry is regtig onbelangrik gesien in die lig van die stres waaronder ek my motor sou plaas as dit kreun kreun daaruit moes kom. Dis uiters onredelik om my te wil penaliseer terwyl ek doodgewoon gedoen het wat enige redelike mens sou gedoen het.

ʼn Verskoning vir afdraande en een vir opdraande. Ek is en bly onskuldig en staan altyd (soos in baie ander situasies) gereed met ʼn antwoord en ʼn verskoning. Alles behalwe skuldig.

Sou ek ʼn kaartjie kry sou ek almal vertel van hoe onredelik die amptenare was en dat hulle seker teen kommissie werk. Hoe meer kaartjies, hoe meer wins.

Ek wonder of ek dalk ook so maak met die Here? Ek sal bietjie moet oplet. Altyd reg met ʼn verskoning. Alles behalwe, jammer Here, ek is skuldig. Vergewe my. En jy?

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.