Vryheidsvegters of onderdrukkers?

Nelson Mandela lig ‘n gebalde vuis op sy aankoms by die musiekkonsert wat deur plaaslike kunstenaars gereël is om die ANC-leier se vrylating van 27 jaar gevangenisstraf te vier op 17 Maart 1990. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

“Dis nie waarvoor ons geveg het nie.”

Hy is skaam-kwaad oor wat tans in Suid-Afrika gebeur. Aan die woord is ʼn senior oud MK-man. Die TV-span wat hom opneem was eintlik daar om sy mening oor ander sake te kry. Maar hy moes hierdie ding, wat so swaar op sy gemoed lê, eers gesê kry.

En dis nie net hy wat so voel nie. Oud-regter Albie Sachs van die konstitusionele hof sê as hy die Zondo-kommissie se verslae oor grootskaalse korrupsie lees, maak dit seer. Daarby noem hy al die probleme van misdaad, geslagsgeweld, wanfunksionele munisipaliteite, kragprobleme…

Hy het as vryheidsvegter groot offers gebring. Hy het sy regterarm en die sig in sy linkeroog verloor weens ʼn bom wat deur die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte in sy motor in Mosambiek geplant is. Hy sê hierdie is die land waarvoor hy geveg het, maar nie vir die samelewing soos wat dit nou is nie. Dit maak hom kwater dat van dieselfde mense saam met wie hy in die loopgrawe geveg het, nie skelms was nie, maar nou is.

Wat die regter optimisties maak, is dat die Grondwet werk (volgens hom). Gereelde verkiesings word gehou en presidente klou nie aan mag nie. Die howe funksioneer. Mense is vry om te betoog. Die media is vry. Dis nie ʼn veilige land nie, maar wel ʼn vry land.

Tog dink ek regter Sachs kan nie so maklik deur die skrefie van ʼn gaping glip tussen “land” en “samelewing” nie. In Julie 2021 het mense in KwaZulu-Natal die strate ingevaar om kennis te gee van hulle eise. Geweld en plundering het gevolg. En die regering het weinig gedoen om dit tot orde te bring. Intussen is die misdaadsyfers skrikwekkend hoog. Voormalige bestuurshoof van Eskom, André de Ruyter, onthul daar is vier misdadige kartelle steeds aan die werk in dié kragvoorsiener wat die land miljoene kos.

Volgens prof. Anthoni van Nieuwkerk is “nasionale veiligheid die onderbou van die land se grondwetlike demokrasie”. Trouens, nasionale veiligheid is die eerste prioriteit van die regering. Dit behels nie net die beskerming van die land én sy mense nie, maar ook die beskerming van nasionale waardes en belange teen binnelandse en buitelandse bedreigings.

Hy sê: “Sonder ʼn doeltreffende veiligheidsektor, gaan die regering – en die land – nie daarin slaag om te oorleef nie.” En wat beteken vryheid nou eintlik?

In Zimbabwe het vryheidsvegter Robert Mugabe die president geword van ʼn onafhanklike land. Gereelde verkiesings is gehou, maar die geloofwaardigheid daarvan het binne twee dekades verval in ʼn onderdrukkende diktatoriale bewind.

Nelson Mandela het met die afskaffing van apartheid gesê: “Ons is nog nie vry nie. Ons het die vryheid verwerf om vry te wees, vry van onderdrukking.” Dink maar aan ander voorbeelde soos Kenia en Uganda. Dit het daar minder gegaan oor die regte van mense as die reg om oor hulle te regeer.

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Die werklike toets vir demokrasie is hoe die samelewing regeer word. In Suid-Afrika word dit ʼn al droewiger prentjie. Die grootste teleurstelling is president Cyril Ramaphosa. Daar was soveel hoop toe hy aangestel is.

In die aanloop tot die verkiesing in 1994, het ek ʼn paar keer met hom te doen gekry. Hy het beïndruk as ʼn skerp politikus wat op ʼn rustige, bedaarde wyse met selfvertroue op vrae geantwoord het. Toe hy president geword het, het ʼn joernalis van die BBC my gevra of ek dink Ramaphosa sou ʼn doeltreffende leier wees. My antwoord was ʼn oortuigde: “Ja”.

Dink maar self: Watter leier in die wêreld het die “pedigree” wat hy het? Hy was as student reeds ʼn politieke aktivis wat in die tronk beland het weens sy bedrywighede. Sy studies in regte is onderbreek, maar hy het dit later voltooi. Hy het in 1982 die hoofsekretaris van die Unie van Mynwerkers geword en een van die grootste stakings ooit gereël het. In 1991 word hy verkies as sekretarisgeneraal van die ANC. Hy is later aangestel as die ANC se hoofonderhandelaar by die Kodesa-samesprekings.

Na die 1994-verkiesing word hy die voorsitter van die grondwetgewende vergadering wat die Grondwet geskryf het. Daarna verlaat hy die politiek om ʼn groot sakeman te word. In 2010 word hy aangestel as die ondervoorsitter van die beplanningskommissie. Hy keer terug na die politiek in 2014 as adjunkpresident van die land en in 2018 word hy president. Hy het dus op vele terreine diens gedoen en persoonlike ervaring gekry van die verskillende werklikhede in die land. Welke ander leier internasionaal het sulke blootstelling gekry en is so toegerus met die insig en vaardigheid om te regeer in belang van die land en al sy mense?

Vandag berou ek daardie standpunt. Ek het tot so drie jaar gelede ʼn soort spesiale band met Ramaphosa gevoel. Hy is presies op dieselfde dag, maand en jaar as ek gebore. Maar vandag beteken dit niks meer nie. Net ʼn diepe teleurstelling dat ʼn man wat so talentvol is soos hy werklik so traag geregeer het. En die stories oor korrupsie en die gebeure op sy Phala Phala-wildplaas is kommerwekkend. Ramaphosa se getuigskrif as vryheidsvegter en post-bevrydings-demokratiese leier is onder druk.

Oud-gerespekteerde ANC- en MK-lede het al stem begin dik maak in die organisasie: “Defend our Democracy”. Hulle, en ons basiese burgerlike samelewing, sê:

So kan dit nie aangaan nie. Wat ons nou beleef, is nie die demokrasie van die bevrydingstryd nie. Die burgerlike samelewing kan self ʼn bevrydingsstryd begin om ʼn verskil te maak. Dit help nie om te wag vir die 2024-verkiesing nie. Elkeen van ons kan ʼn verskil maak. Begin vandag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Meer as 30 gelede is julle gewaarsku om versigtig te wees vir die ANC. By Kodesa het die ANC reeds vroeg die uitklophou geplant. Die NP was bloot onbevoeg en onvoorbereid om te onderhandel. FW se aandag was elders. Maar dis gedane sake. Ons moet nou oplossings vind. Skep ‘n apolitiese aktiewe beweging om daarmee te begin. Oorweeg elke inset. Geen kwetsende vewysings soos verlig en verkramp nie. Die VSA en Israel is keelvol vir die ANC. Gebruik hulle as mededingende voordeel. Die ANC is tans uiters kwesbaar. Identifiseer hul fondasies, hul hartklop, en kettings wat dit beskerm. Begin om die ANC stelselmatig af te breek. Die DA en ander gematigde politieke partye is feitlik magteloos, en loop dieselfde pad as Zimbabwe se opposisie. Indien niks gedoen word nie gaan binnelandse en Afrika war lords beheer oorneem. En dán is ons finaal gedoem.

Treurwilger ·

Goeie stuk deur Freek Robinson.
Geen simpatie egter met mense wat soveel hoop vir Cyril Ramaphosa gehad het nie, want op grond waarvan was dit baseer?
Hy het as adjunk-president ten minste séwe keer téén die mosie van wantroue in pres Zuma gestem.
Dít alleen moes ‘n aanduiding wees, daar was vele ander.

OW ·

Baie goeie skrywe.Ek moet saam stem,dat Cyril Ramaphosa nie meer aan my verwagtings voldoen,as toe hy president geword het nie.Elke jaar met sy staatsrede het hy beloftes gemaak en daar het oor die jare dadels van gekom.Met al sy vorige ondervinding,wat indrukwekkend klink,gaan hy net van swak tot uiters swak.Ek weet nie van een vryheidsvegter wat ontwikkel het in ‘n bekwame politikus nie.Dit laat my dink aan die jare toe Piet Koornhof bekend gestaan het as “Piet promises”Wat ookal vir Suid Afrika voorlê, hoop ek dat ons êrens in die toekoms ‘n keerpunt kan bereik,en met ‘n omdraai strategie kan wegspring.

Marthinus W ·

Mense dink te veel van Mandela. In die tyd wat hy in die tronk was, het hy sy vryheid by ses (6) geleenthede weggewys, ter wille van gewapende geweld. Ons moes hom gehang het in 1965.

Ons grondwet dra die DNS van Oliver Tambo, nie Mandela nie. Indien Tambo groter steun gehad het, kon ons dalk, miskien, n beter samelewing geskep het.

Die Jode het Gencor aan ons Afrikaners verkoop om te verhoed dat Hendrik Verwoerd die myne nasionaliseer. Hulle het Cyril as direkteur van Anglo-American aangestel om seker te maak hy nasionaliseer nie die myne nie. Cyril het dus steun onder groepe met baie geld. En, kom ons wees eerlik, dis nie maklik om n land te regeer nie. Staatsmannne (in vergelyking met bewindhebbers) is wereldwyd dun gesaai.

Wakkerslaper ·

Mathinus, was tambo nie juis die een wat die massas aangemoedig het om biblioteke en skole aan die brand te steek nie…?

kragaap ·

Margaret Thatcher het gewaarsku om nie met terroriste te onderhandel nie. Sy was reg.

Republikein in die Wes Kaap ·

En nou is hulle in beheer. Voorspel niks goed nie.

Amelia ·

Wat kan ons doen Belasting terug hou maar hoe word direk afgetrek by stembus Nee wat gaan ook nie werk nie Enige iemand wat mag of kan help praat dat die nonsens kan stop

Chris ·

Is dit nou nie snaaks nie. Die voorbokke en simpatiseerders is nou skielik tot in hulle se klompe geskok. Die Albie Sachse en Peter Hains van die wêreld is nou teleurgesteld. Ek was al in geselskap van die hele spektrum van die bevolking. Dit word gemor en murmereer oor alles in die land. Met plundering in Natal het ek iemsnd hoor sê, “this is not what we struggled for”. Ek vra toe die persoon “who did you vote for in 94. You got what you voted for” Hy ruk hom toe op en jaag daar weg met sy Duut Duitse Nutsmotor en los ons paar wittes by die padblokkade. Ons gaan nog vet pret sien.

hendrie ·

Ek vind dit heel koddig dat Freek Robinson op hierdie stadium geskok en teleurgesteld in die droewe land se huidige President is.
Wil voorkom asof die ‘spesiale band’ waarna mnr Robinson verwys, bloot ‘n tragiese oordeelsfout was.

Wakkerslaper ·

Ek kan dit eenvoudig nie verstaan dat mense tot vandag toe STEEDS nie wil erken dat die ANC ‘n kommunistiese, terroriste beweging was en steeds is nie. Daar is GEEN, maar GEEN regverdiging vir terrorisme nie. Dit is absurd om te wil vertel dat die ANC “helde en ikone” en MK lede s.g. “vryheidsvegters” was. Hulle was nie! Hulle was TERRORISTE wat onskuldige burgerlikes vermoor het met landmyne op plaaspaaie en bomme in winkelsentrums, restaurante en skole. Die ANC en MK se doelwitte was NOOIT om s.g. “vryheid en demokrasie” in Suid Afrika te vestig nie. Hulle doelwit was om alle mag te kry en kommunisme te vestig! Die ergste van alles is dat ons steeds, tot vandag toe, glo dit was die regte ding om met terroriste te onderhandel… Die hele Westerse beskawing se uitgangspunt was en is steeds dat jy NOOIT met terroriste onderhandel nie. Wat de heng het ons vandag uit daai “onderhandelinge”?! Kyk om jou!!!!

annie ·

Dit is nodig om die ANC se ontstaan, leiers en sy aanslag in oënskou te neem. Die vroeë geskiedenis van die ANC-terroriste destyds in die buite die land is ‘n riller. Mandela was in die tronk weens sy betrokkenheid by terrorisme. Oorgawe aan die ANC was weens angs by NP-leiers en druk van die Weste weens hul angs dat Rusland sy bootjies in Tafelbaai sal parkeer. Mandela het nooit terrorisme afgesweer nie en die probleem het nie skielik ná sy aftrede ontstaan nie. Dit was altyd daar. Ons verwerking van feite en miskenning laat ooptes wat ons nie wil vul nie. Die ANC is ‘n tipies Afrika-mafioso. Dié ideologie pas SA se swart bevolking soos ‘n handskoen. Ons babbel/skryf bloot in ontkenning van ons mistastings en gedane sake.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.