Wanneer is ’n wet geregtig en billik?

(Foto: @tingeyinjurylawfirm/Unsplash)

Die geskiedenis is besaai met voorbeelde van swak, immorele en sinlose wette. Met die wysheid van terugblik, sal die meeste van ons sulke wette verwerp.

Dink maar aan die wette wat slawerny moontlik gemaak het. Sulke wette word nou algemeen as verwerplik beskou.

Dink ook aan Nazi-Duitsland se wette teen die Jode. Hierdie wette was duidelik immoreel en uiters verkeerd. Vandag beskou ons die wette wat rasgebaseerde diskriminasie en mishandeling afgedwing het as ongeregtig.

Dit is ekstreme voorbeelde, maar die vraag bly staan oor die moraliteit of immoraliteit van wette en regulasies. In regskringe word daar gedurig oor hierdie kwessies gedebatteer.

Dit kom natuurlik van ver uit die geskiedenis. Augustinus het byvoorbeeld gesê: “ʼn Ongeregtige wet is nie ʼn wet nie.” Thomas van Aquino het op sy beurt gesê: “ʼn Wet wat die menslike persoonlikheid ophef, is geregtig en ʼn wet wat die menslike persoonlikheid aftakel, is ongeregtig.”

Om staatsbestand te word sal beteken om ongeregtige wette, wat lewensbelange benadeel, teen te staan en beskerming daarteen te bied.

Verder moet daar standaarde en beginsels wees vir die verwerping van amptelike wette en dekrete wat onderdrukkend word, mense benadeel en geregverdigde sfere van gesag ondermyn.

Wat is dan die morele beginsels waarop ons kan (en moet) aandring om die reg te beoordeel?

Daar was al talle wette wat byvoorbeeld voordele vir magtige mense verseker het. Dink maar aan wette wat monopolieë en gunsbejag in die hand werk ten koste van die armes.

Daar was natuurlik nog nooit ʼn enkele slegte wet wat bemark is vir wat dit in werklikheid was nie.

Al die slegte, kwaadwillige, of rampspoedige wette wat deur die eeue gepromulgeer is, is as reg en regverdig verklaar deur die maghebbers van die dag.

Slegte wette word natuurlik nooit só voorgehou dat die verskuilde bedoelings of voorsienbare nadelige gevolge daarvan duidelik word nie.

Talle slegte wette en regulasies het oor lang tydperke van krag gebly. Talle hofuitsprake is op hierdie wette gebaseer en is gelewer deur regters wat van beter moes geweet het, soos sommige mense nou beweer oor ons huidige regstelsel.

In die een of ander stadium het groepe mense egter deur die blufspel van ongeregtige wette gesien.

Teenkanting teen kwaadwillige wette het gewoonlik by klein groepies begin. Sulke groepies het slegte wette teengestaan en mettertyd ander mense oortuig van die kwaadwillige aard daarvan. Uiteindelik is die kwaadwillige aard aan die kaak gestel.

Met alles gesê, is gehoorsaamheid aan etiese gesag (en reg) egter ʼn belangrike beginsel. Tog, in baie tradisies soos ook in die Christelike tradisie, is menslike gesag per slot van rekening nie absoluut nie en word dit self ook deur hoër, vervangende beginsels gebind.

Regeringsgesag het perke, en daar is regverdiging vir mense om ongeregtige owerheidswette teen te staan.

Die alternatief is ʼn ongeregtige verpligting wat die persoon in ʼn onregmatige verhouding met die owerheid bind as aandadig aan ʼn euwel.

By die kern van hierdie kwessie is daar dan ʼn vraag: hoe kan die geregtigheid of ongeregtigheid van die reg gemeet word?

Op watter gronde kan swak, slegte, of kwaadwillige reg redelikerwys teengestaan word? Hoe kan ons deur die blufspel sien? Op watter stadium verander regmatige gesag in ʼn euwel?

Die situasie word bemoeilik omdat die besluit oor wanneer regeringsoptrede as onregmatig beskou moet word, nie ʼn eenvoudige kwessie nie.

Presies hoe kan die geregtigheid of ongeregtigheid van ʼn wet of regulasie dan bepaal word? Ons gee ʼn paar inleidende en rigtinggewende oorwegings:

  1. Die eerste beginsel is om die werklikheid te aanvaar dat sommige wette sleg, skadelik en om kwaadwillige redes opgestel is. Die staatsapparatus plaas groot mag in die hande van mense. Die mens het die vermoë tot opregtheid en geregtigheid, maar ook tot groot sonde en dwaasheid. Mag kan misbruik word en word gereeld misbruik.
  2. Wetmakers se woorde of bedoelings moenie sonder meer aanvaar word nie. Oorweeg die werklike en waarskynlike uitkomste van hulle wetgewing en regulasies. In die vere verlede is wetmakers aanspreeklik gehou vir slegte uitkomste van wette. Gebeur dit steeds?
  3. Die gevolge van ʼn wet is dikwels anders as die bedoelings agter die wet. Soos baie ander dinge gaan wette en regulasies gepaard met amptelike “bemarking”. Hierdie bemarking word egter nie deur wette oor wanvoorstelling en vals reklame gedek nie. Beloftes moet aan regte-wêreld-uitkomste gemeet word.
  4. Daar bestaan beslis ʼn dilemma van plig teenoor gesag, maar hoewel dit klaarblyklik eties is om geregtige wette te gehoorsaam, het ons geen morele plig om openlik ongeregtige en skadelike wette te gehoorsaam nie. Trouens, teenkanting teen ongeregtige wette is by uitstek eties.
  5. Waar voorafbestaande gemenereg beginsels deur wetgewing of regulering oorheers word, moet sulke wette of regulering oor die algemeen met skeptisisme oorweeg word. Die beginsels van die gemenereg, breed gesien, het tot stand gekom deur eeue van probeer en tref en beste praktyk in verskillende sake voor gekwalifiseerde regters.
  6. Spruit die reg voort uit ʼn heldere begrip van die openbare belang, of hang die regverdiging daarvan bykans uitsluitlik af van die beskerming van spesiale belange? Indien laasgenoemde, kan die regmatigheid daarvan betwis word.
  7. ʼn Wet moet gemeet word aan die uitwerking daarvan op die lewensbelange, welstand en oorlewing van mense of groepe. Wette wat lewensbelange bedreig moet teengestaan word en hulle moet soms selfs nie gehoorsaam word nie.
  8. Om wetgewing of regulasies aan die beginsels van grondwetlikheid te meet, is gewoonlik die eerste stap om te bepaal of dit bindend vir die gewete is.
  9. Laastens is daar heel eenvoudige vrae wat gestel kan word ten einde ʼn mens se mening oor ʼn wet te lei:
  • Is die wet of regulasie in pas met die mees basiese begrip van billikheid?
  • Lei ʼn wet of regulasie bewustelik of onbewustelik tot benadeling, of bring dit mee dat mense floreer?
  • Word onregte daardeur regverdig of beskerm?
  • Skend dit eiendomsreg in plaas daarvan om dit te beskerm?
  • Skend ʼn wet duidelike etiese standaarde?
  • Dra ʼn wet onregverdige koste oor na sekere groepe tot voordeel van ander?

Die meeste mense aanvaar dat die een of ander vorm van gesag geldig is en op ʼn regmatige wyse gehoorsaamheid vereis. Dit staan egter ook vas dat sommige wette immoreel is en lei tot skadelike en ondraaglike uitkomste. ʼn Goeie gewete vereis verontagsaming van skadelike en ongeregtige wette.

Boonop, wanneer wette ons allerhoogste beginsels geheel en al oortree, het ons ʼn morele en sosiale plig om daarteen ongehoorsaam te wees.

Hierdie episode van Verskans het ten doel om jou aandag daarop te vestig dat dit inderdaad noodsaaklik is om teen ongeregtige politiek, selfs in die reg, te staan en om teen die misbruik van onwettige staatsmag (in die diepste sin van die woord) te verdedig.

Dit is nodig vir staatsbestandheid en die beskerming van ons persoonlike, familie-, kommersiële, en gemeenskapsbelange.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charl Albertus ·

Ek haal aan: “Vandag beskou ons die wette wat rasgebaseerde diskriminasie en mishandeling afgedwing het as ongeregtig.”

Sou dit nie meer akuraat gewees het om te sê: “Vandag beskou ons die wette wat rasgebaseerde diskriminasie en mishandeling teen “nie-blankes” afgedwing het as ongeregtig.

Want die laaste 30 jaar, vanaf die eerste dag wat ek begin werk het, beleef ek klomp diskriminasie asgevolg van my ras en niemand sê iets daaroor nie. Nie net sê hulle niks daaroor nie, hulle praat dit selfs goed. AA, BEE, ens….

T-Man ·

Nee Charl, dit moet so gestel word: “vandag beskou ons die wette wat rasgebaseerde diskriminasie en mishandeling afgedwing het as ongeregtig” maar beskou die wette wat rasgebaseerde diskriminasie en mishandeling afdwing op blankes as billik”

Jacob ·

‘n Groot gedeelte van my laaste belasting op toegevoegde waarde eis is weer deur SARS uitgegooi op gronde daarvan dat nie alle fakture my BTW nommer op het nie. Dit beteken dat die BTW vir klein benodighede soos bv batterye vir GPS toestelle wat per besigheidskaart betaal is by ‘n handelaar wat BTW geregistreer is (dus is die bewys ook op my state dat dit wel deur die besigheid betaal is), volgens SARS nie ge-eis kan word as my BTW nommer en maatskappy besonderhede nie daarop verskyn nie. Dit is nou ‘n onregverdige wet. Dus sal ek van nou af al my besonderhede verskaf by elke tolhek en aandring op ‘n belastingfaktuur. Kom ons kyk wat gebeur want tydens die vorige boekjaar is die verlies aan BTW wat ek volgens SARS nie kon eis nie, genoeg om nog ‘n paar ongeskoolde arbeiders in diens te neem. Ek neem aan dat daardie geld ook maar net in ‘n diep, donker gat verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.